DIE DRIE-EENHEID WAARVAN GEEN WOORD IN DIE SKRIF GEREP WORD NIE
In die bekende Geloofsbelydenis van Athanasius, wat teen die jaar 500 n.C.ontstaan het en deur talle katolieke en protestantse kerke as gesaghebbend aanvaar word, word onder meer die volgende oor die "Godheid" gesê: "Ons eer die één God in die drievuldigheid ... sonder om die persone te vermeng of die substansie te deel, want die Vader is 'n ander (persoon), die Seun 'n ander (persoon) en die Heilige Gees 'n ander (persoon), maar die Vader, Seun en Heilige Gees is één Godheid". In die Nederlandse Geloofsbelydenis wat net so algemeen aanvaar word, word onder meer bely: "Ons glo in 'n enige God, een enige Wese, in wie drie Persone is, naamlik die Vader, die Seun en die Heilige Gees, wat van ewigheid af onderskeie is volgens die eienskappe wat hulle nie met mekaar deel nie."
Die vraag is of hierdie belydenis, wat deur die oorgrote meerderheid van Christelike kerke gedeel word, 'n getroue weerspieëling is van dit wat die Skrif oor die sg. "Godheid" leer. Dis 'n vraag wat nie net bloot van akademiese belang is nie. Dis nie maar net 'n vraag wat daarop gemik is om 'n argument uit te lok nie. Daar is hier veel meer op die spel as net maar 'n interessante bespreking van 'n aktuele onderwerp. Dit gaan hier oor niks minder nie as oor die identiteit en die waarheid aangaande die Almagtige, die Skepper, die Onderhouer, die Opperheerser van hemel en aarde. Wie is Hy werklik en hoe moet ons aan Hom dink?
Dit moet dadelik gesê word dat ons nie 'n "Godheid" aanbid nie. Ons aanbid nie 'n begrip of 'n stelsel of 'n filosofie nie. Nee, ons aanbid 'n unieke, lewende Wese wat Homself sodanig aan die mens openbaar dat dit nie nodig is om 'n vae begrip soos "Godheid" vir Hom te gebruik nie. 'n Tweede opmerking wat reg uit die staanspoor gemaak moet word, is dat daar reg deur die Skrif ondubbelsinnig geleer word dat daar net één ware Almagtige is wat ons mense se verering en aanbidding waardig is (vgl. Deut 4:35; Deut 6:4; Deut 32:39; 1 Sam 2:2; Jes 45:5-6; Jes 46:9; Jes 48:12; Mark 12:29; Joh 17:3; 1 Kor 8:4-7; Gal 3:20; Efes 4:5-6; 1 Tim 2:5; Jak 2:19). Die Naam van hierdie Elohim volgens Eks 3:14-5 is Yahweh.
Wat van die Seun en die Gees? Moet (of mag) ons die Seun en die Gees beskou as "ander persone", maar dieselfde "een enige Wese" as die Vader? Die klassieke verstaan van die "Drie-eenheid" as drie persone binne een wese is 'n onskriftuurlike en verwarrende poging om Vader, Seun en Gees met mekaar in verband te probeer bring. Dis 'n formulering wat lank na die dood van die vroeë apostels onder kerkleiers begin voorkom het en wat tot vandag toe nog in die meeste christelike kerke gehandhaaf word. Die geloofsbelydenis van Athanasius gaan selfs so ver as om te sê: "Wie dus salig wil word, moet so oor die Drievuldigheid voel". Onder diegene wat in alle eerlikheid die waarheid soek, sal daar egter baie wees wat erken: Dit is onmoontlik om aan drie "onderskeie" (d.w.s. verskillende) persone te dink sonder om aan 'n meervoudige wese (en daarom in werklikheid aan meer as een Elohim) te dink. Om 'n formule soos "drie persone, maar een wese" te gebruik is 'n gespeel met woorde wat nie reg laat geskied aan die manier waarop die Skrif oor die een, ware Elohim praat nie.
In die Encyclopaedia Britannica (1974, vol. 10, p. 126) word die volgende stelling gemaak: "Neither the word Trinity nor the explicit doctrine appears in the New Testament, nor did [Y'shua] and His followers intend to contradict the Shema of the Old Testament: 'Hear, O Israel: [Yahweh] our [Elohim] is One' (Deut. 6:4)." Die New Catholic Encyclopaedia (1967, vol. 14, p. 299) sluit hierby aan: "The formulation 'one God in three Persons' was not solidly established, certainly not fully assimilated into Christian life and its profession of faith, prior to the end of the 4th century....Among the Apostolic Fathers, there had been nothing even remotely approaching such a mentality or perspective." Daar is vandag heelwat bronne wat die skokkende onthulling maak dat die konsep van 'n "Drie-enigheid" teruggevoer kan word na 'n gebruik van talle heidennasies wat lank voor die Christelike era reeds 'n sg. "trinity of gods" aanbid het. So byvoorbeeld skryf Alexander Hislop in The Two Babylons: "Will anyone after this say that the Roman Catholic Church must still be called Christian, because it holds the doctrine of the Trinity? So did the pagan Babylonians, so did the Egyptians, so do the Hindoos at this hour, in the very sense in which Rome does". Dit word bevestig deur die historikus, Will Durant in The Story of Civilization, Vol. III: "Christianity did not destroy paganism; it adopted it…The Greek language, having reigned for centuries over philosophy, became the vehicle of Christian literature and ritual ... From Egypt came the ideas of a divine Trinity".
As daar net een ware Elohim is en sy Naam is Yahweh, wie is die Seun, Y'shua, en wat is sy verhouding tot die Vader? Kom ons probeer om die getuienis van die Skrif in sy geheel so getrou as moontlik na te speur:
Die feit dat die Skrif verder ook in afsonderlike en persoonlike terme oor die "Afgesonderde Gees" of die Gees van Elohim of die Gees van Yahweh praat, behoort glad nie te lei tot die konklusie dat die Gees nog 'n "persoon" in die sg, "Drie-eenheid" is nie. Waarom moet ons die Gees van Yahweh as 'n afsonderlike "persoon" beskou as die Skrif in elk geval verklaar dat Elohim gees is en dat Hy in gees en waarheid aanbid moet word (Joh 4:24)? Die Afgesonderde (Heilige) Gees is niemand en niks anders nie as die Gees van Yahweh en daarom Yahweh self wat op 'n geestelike vlak in mense se lewens betrokke raak. Paulus sê immers dat net soos dit die gees van 'n mens is wat "weet" wat in 'n mens is, net so is dit die gees van Yahweh wat "weet" wat in Yahweh is (1 Kor 2:11). Net soos wat 'n mens se gees nie 'n afsonderlike persoon is omdat dit kan "weet" en kan "aanvoel" en "opstandig" en "bedroef" kan word nie, net so is die Gees van Yahweh nie 'n afsonderlike persoon omdat dit kan "weet" en kan "oortuig" en kan "getuig" nie. Net soos die Skrif aan wysheid (Spr 8) en aan liefde (1 Kor 13) en aan geregtighied en vrede (Ps 85:10) persoonlike eienskappe toeskryf (in die taalkunde staan dit bekend as personifikasie), net so word daar ook persoonlike eienskappe aan die Gees van Yahweh toegeskryf, waarmee geensins bedoel word dat die Gees 'n afsonderlike persoon van die "godheid" is nie.
Ons hoef Yahweh nie te kan begryp om Hom te kan dien en liefhê nie. Ons hoef ook nie mensgemaakte leerstellings (soos "Drie-eenheid" of "Een wese, maar drie persone") te formuleer of in die Skrif te probeer inforseer (soos wat in die ouer vertalings van 1 Joh 5:7 en heel moontlik ook met Matt 28:19 gebeur het) om sodoende die Almagtige met ons menslike denke in te perk en af te baken nie. Die sogenaamde leer van die Drie-eenheid was dalk 'n eerlike poging om 'n begrip van die Allerhoogste te vorm, maar dit het helaas nie verhoed nie dat mense 'n versplinterde persepsie van hulle Elohim gekry het en in werklikheid drie afsonderlike wesens gevisualiseer het wat onderling van "mekaar" verskil. Die Skrif laat ons eenvoudig nie toe om so oor Yahweh te dink nie.