‘N VERGELYKING TUSSEN DIE SEWE SEËLS (OPENB 6) EN DIE SEWE TEKENS VAN Y'shua SE KOMS EN DIE VOLEINDING VAN DIE WÊRELD (MATT 24)

 

OPENBARING 6 en 8

MATTITYAHU 24

EERSTE SEËL

2 En ek het gesien, en kyk, daar was 'n wit perd. En hy wat daarop sit, het 'n boog; en aan hom is 'n kroon gegee, en hy het uitgegaan as 'n oorwinnaar en om te oorwin

4 En Y'shua antwoord en sê vir hulle: Pas op dat niemand julle mislei nie. 5 Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Messias! en hulle sal baie mense mislei.

TWEEDE SEËL

3 En toe Hy die tweede seël oopgemaak het, hoor ek die tweede lewende wese sê: Kom kyk! 4 En 'n ander perd, 'n vuurrooie, het uitgekom, en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem en dat hulle mekaar sou doodmaak; en 'n groot swaard is aan hom gegee.

6 En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë … 7 Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander

DERDE SEËL

5 En toe Hy die derde seël oopgemaak het, hoor ek die derde lewende wese sê: Kom kyk! En ek het gesien, en kyk, daar was 'n swart perd; en hy wat daarop sit, het 'n skaal in sy hand. 6 En ek het 'n stem tussen die vier lewende wesens hoor sê: 'n Rantsoen koring vir 'n penning en drie rantsoene gars vir 'n penning; en moenie die olie en die wyn beskadig nie.

7 en daar sal hongersnode wees

VIERDE SEËL

7 En toe Hy die vierde seël oopgemaak het, hoor ek die stem van die vierde lewende wese sê: Kom kyk! 8 En ek het gesien, en kyk, daar was 'n vaal perd. En hy wat daarop sit, sy naam is die dood, en die doderyk het hom gevolg. En aan hulle is mag gegee …om dood te maak met swaard en hongersnood en pes en deur die wilde diere van die aarde.

7 en daar sal pessiektes wees

VYFDE SEËL

9 En toe Hy die vyfde seël oopgemaak het, sien ek onder die altaar die siele van die wat doodgemaak is ter wille van die woord van Elohiem en die getuienis wat hulle gehad het.

9 Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.

SESDE SEËL

12 En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was 'n groot aardbewing; en die son het swart geword soos 'n harige sak, en die maan het geword soos bloed; 13 en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos 'n vyeboom wat deur 'n groot wind geskud word, sy navye laat afval; 14 en die hemel het weggewyk soos 'n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit

7 En daar sal aardbewings wees op verskillende plekke

SEWENDE SEËL

8:1-2 En toe Hy die sewende seël oopgemaak het, kom daar stilte in die hemel omtrent 'n halfuur lank. 2 En ek het die sewe boodskappers gesien wat voor Elohiem staan, en sewe basuine is aan hulle gegee.

31 En Hy sal sy boodskappers uitstuur met harde trompetgeluid, en hulle sal sy uitverkorenes versamel uit die vier windstreke, van die een einde van die hemele af tot die ander einde daarvan.

 

LET VERAL OP DIE VOLGENDE:

  1. Matt 24 gee vir ons "setting" waarbinne Openbaring 6-8 sal plaasvind. Die gebeure wat aan die onthulling van die sewe seëls gekoppel word, moet binne die konteks van MattitYahu 24 verstaan word.
  2. Wat is die konteks van Matt 24 en watter aspek(te) word die sterkste beklemtoon? Kom ons kyk na die volgende: "Pas op dat niemand julle mislei nie" (vers 4); "Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Messias! en hulle sal baie mense mislei" (vers 5); "En dan sal baie tot struikel gebring word" (vers 10); "En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei" (vers 11); "As iemand dan vir julle sê: Kyk, hier is die Messias! of: Daar! --moet dit nie glo nie" (vers 23); "Want daar sal valse messiasse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei" (vers 24); "As hulle dan vir julle sê: Kyk, Hy is in die woestyn--moenie uitgaan nie; kyk, Hy is in die binnekamer--moet dit nie glo nie" (vers 26); "En net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees. Want net soos hulle was in die dae voor die sondvloed toe hulle geëet en gedrink het, getrou en in die huwelik uitgegee het, tot op die dag dat Noag in die ark gegaan het, en dit nie verstaan het voordat die sondvloed gekom en almal weggevoer het nie, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees" (vers 37-39). Dit is duidelik dat die sentrale boodskap fokus op die feit dat daar ‘n grootskaalse misleiding sal plaasvind en dat die gelowiges alles in die stryd moet werp om nie deur hierdie eindtyd-misleiding meegesleur te word nie.
  3. Die geweldige belangrikheid van hierdie tema van MISLEIDING en VALSHEID, is een waarvan ons deeglik moet kennisneem. Reeds in ons dag is daar allerlei soorte vervalsings waarop ons bedag moet wees. Nie net valse profete en valse leiers en valse Messiasse nie. Veral ook valse lering en valse dogmas en valse boodskappe. Dink maar net aan die volgende:
    1. Die valse name wat aan Yahweh en sy Seun, Y'shua, toegeken word
    2. Die valse rusdag (Sondag) met die gepaardgaande verwerping van die Shabbat as dag wat Yahweh vir ewig vir Homself afgesonder het
    3. Die valse feesdae (soos Kersfees en Paasfees) wat so ‘n magiese betekenis vir die mense van hierdie wêreld het
    4. Die valse verwerping van die die Torah en die ewige leringe van Yahweh wat daarin vervat is
    5. Die valse aanbidding van ‘n "drie-enige god", terwyl die Skrif glad nie so ‘n term ken nie en duidelik sê dat Yahweh alleen die Almagtige is
    6. Die valse verwagting dat mense wat sterf onmiddellik hemel toe gaan
    7. Die valse hoop wat deur mense geskep word wat skynbaar groot tekens en wonders en genesings teweegbring, en groot skares trek, maar nie die Woord van Yahweh eerbiedig nie.

4. Die kernboodskap wat deur beide Matt 24 en Openbaring 6-8 uitgespel word, word saamgevat in Matt 24:12-13 "En omdat die wetteloosheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word." Slegs diegene wie se oë oopgegaan het vir die geweldige toename in wetteloosheid (L.W. dit sal by die "die meeste" van die mense in die wêreld gebeur) en nie toegee aan die versoeking om in hulle liefde te verkoel nie (vgl. Openb 2:4) – d.w.s. diegene wat volhard tot die einde toe – sal gered word.