HET JY AFGESIEN VAN JOU AFGESONDERDHEID?

Die begrip "afsonder" of "afgesonder wees" kom meer as 1000 keer in die Skrif voor. Dit is een van die heel belangrikste en mees uitstaande kenmerke van die Almagtige en word voorgehou as die mees essensiële vereiste vir hulle wat hulleself met Hom assosieer. Dit behels ‘n lewenstyl wat kwalitatief en sigbaar ANDERS is as dié van mense wat die Elohiem van Yisrael nie ken nie. Dit stel die gelowige voor die uitdaging om elke faset van sy of haar lewe te meet en te "verstel" sodat dit in lyn kom met die patroon wat deur die Skrif daargestel word. Vir hulle wat sê dat hulle Yahweh dien en liefhet, is afgesonderdheid nie opsioneel nie. Dis ook nie ‘n moontlikheid wat ‘n mens kan uitstel tot op ‘n tydstip dat jy meen "meer geskik" sal wees vir jou om daaraan aandag te gee nie. NEE, volgens die Skrif werk dit so: Om waarlik te lewe, is om afgesonderd te lewe. As die afgesonderdheid ontbreek, is jy geestelik aan die doodgaan en is daar ‘n radikale restourasie en ommekeer in jou lewe nodig. Nie op ‘n later tydstip nie, want dit mag te laat wees. Ook nie op ‘n halfhartige wyse nie, want so bring ‘n mens nie eer aan die Afgesonderde wat ons na Hom toe geroep het nie. Kom ons kyk weer ‘n slaggie na die Skrif om meer uit te vind oor hoe ‘n afgesonderde lewe lyk.

  1. Afgesonder, deurdat jy die sewende dag van die week afsonder. Die heel eerste keer dat die woord "afsonder" of "afgesonder" in die Skrif gebruik word, is in Bereshiet (Genesis) 2:3 "En Elohiem het die sewende dag geseën en dit afgesonder, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat Elohiem geskape het deur dit te maak." Die afsondering van die sewende dag word reg deur die Skrif voorgehou as die een, groot uiterlike teken dat mense met die Afgesonderde, Yahweh die Skepper van hemel en aarde, geassosieer word. Elkeen van ons wat sy Naam aanroep, moet baie seker maak dat ons nie net die regte geluide oor die Shabbat maak nie, maar dat ons werklik die Shabbat afsonder, soos Hy dit afgesonder het. ‘n Bekende goewerneur het eenmaal aan ‘n rabbi gevra: "Wat is hierdie dag wat julle die "Shabbat" noem? Wat maak dit groter as ander dae?" Die rabbi se antwoord aan die goewerneur was: "Wat maak jóú groter as enige ander persoon in hierdie streek?" Waarop die goewerneur antwoord: "Die keiser het my as goewerneur oor die streek aangestel ("appointed")." Toe antwoord die rabbi: "Ons Elohiem, wat groter is as die keiser, het die Shabbat ingestel ("appointed") om die mees afgesonderde dag van die week te wees."
  2. Afgesonder, deurdat jy die Naam van Yahweh afsonder. Die opdrag om die Naam van Yahweh af te sonder, kom telkens in die Skrif voor. Een voorbeeld is Wayyiekra (Levitikus) 22:32 "En ontwy my afgesonderde Naam nie, sodat Ek afgesonder kan word onder die kinders van Yiesraél. Ek is Yahweh wat julle afsonder." Om Yahweh se Naam af te sonder, beteken nie om dit (soos die Jode later gedoen het) uit die monde van sy volgelinge te "verwyder" nie. Om sy Naam af te sonder is in die heel eerste plek ‘n oproep tot diegene wat hulleself aan sy Naam verbind (d.w.s. hulle wat sy Naam aanroep) om só te lewe - só te praat en só op te tree en só ‘n gesindheid te openbaar – dat die afgesonderde eienskappe van Yahweh in hulle lewens gesien kan word en weerspieël word. Om sy Naam af te sonder, beteken verder ook om met "jaloersheid" toe te sien dat sy Naam nie vermeng word met ander name of vervals word deurdat dit verruil word vir allerlei heidense benaminge nie. Dit is onder meer wat deur 1 Divre Hayamiem (1 Kronieke) 16:29 bedoel word: "Gee aan Yahweh die eer van sy Naam". Dit sluit ook in dat ons wat ons met Hom as die Almagtige identifiseer, ons sal weerhou van die doellose en ligsinnige gebruik van woorde soos "Magtag", "Alamagtig", "Allemintig", "Allamapstieks" en dergelike woorde, wat van "Almagtig" afgelei is.
  3. Afgesonder, deurdat jy die afgesonderde feesdae van Yahweh ernstig opneem. Op talle plekke in die Skrif word daar na die feesdae as "afgesonderd" verwys. Dit beteken hierdie dae, en hoe ons dit hou, is een van die duidelike maniere waardeur ons bewys lewer dat ons die Afgesonderde Elohiem van hemel en aarde ken. liefhet en volg. Onder baie gelowiges wat die Naam van die Vader leer ken het en sy Shabbat begin hou het, is daar nog ‘n traagheid te bespeur wanneer dit kom by die hou van die afgesonderde feesdae. Dis asof baie meen dat hulle maar self kan besluit hoe en wanneer hulle hierdie feesdae gaan hou. Ons moenie toelaat dat die vyand ons wysmaak dat die feesdae "minder afgesonderd" is as die Shabbat of die Naam van die Vader nie. Sonder dat ‘n mens dit besef, GEBEUR daar iets met jou as jy hierdie geleenthede bywoon. Daar word vertel dat ‘n sekere rabbi kommentaar gelewer het op Devariem 31:12 "Laat die volk byeen kom, die manne en die vroue en die kinders …". Sy uitleg was: "The men came to learn, the women to listen; but wherefore the children? In order that those who brought them might receive a reward for training their children in the fear of Elohim."
  4. Afgesonder, deurdat jy in jou leefruimte niks toelaat wat nie met die Afgesonderde verbind kan word nie. Die Skrif praat hieroor in (Deuteronomium) Devariem 23:14 "Want Yahweh jou Elohiem wandel midde-in jou laer om jou te red en jou vyande aan jou oor te gee; daarom moet jou laer afgesonder wees, sodat Hy niks skandeliks by jou mag sien en Hom van jou afwend nie." Ons roem graag daarop dat Yahweh in ons midde is en dat Hy ons red van alle gevaar, maar as ons dinge in ons "laer" toelaat wat nie by afgesonderdes pas nie, verbeur ons die reg om ons op die Afgesonderde te beroep. In die Talmoed is daar ‘n spreuk wat sê: "Palm -branches, stolen in order to perform therewith the prescribed rites at the Feast of Tabernacles, are unfit for use by reason of the unlawful manner in which they were obtained." Die eis om afgesonderd te leef, raak elke faset van ons lewe.
  5. Afgesonder, deurdat jy die afgesonderde gebod van Yahweh nougeset bestudeer en onderhou. Devariem (Deuteronomium) 28:1,9 "As jy dan goed luister na die stem van Yahweh jou Elohiem om sorgvuldig te hou al sy gebooie wat ek jou vandag beveel, dan sal Yahweh jou Elohiem jou die hoogste stel bo al die nasies van die aarde … Yahweh sal jou vir Hom as afgesonderde volk bevestig … as jy die gebooie van Yahweh jou Elohiem hou en in sy weë wandel." Iemand het eenmaal vir ‘n wyse man gevra: "What does it profit me to study the law when I must ever continue it or else forget what I have learned." Die wyse man het geantwoord: "The Almighty will reward us for the will which we display even though we do forget." Om afgesonderd te wees is nie ‘n mylpaal wat jy bereik, waarna jy maar kan verslap nie. Nee, dis ‘n proses waarin ons voortdurend nader aan ons Maker beweeg en waarin ons nooit mag verslap tot die dag van ons dood nie.
  6. Afgesonder, deurdat jou woorde, dade en gesindhede voortdurend van die res van die wêreld afgesonder is. Romeine 12:1-2 "Ek vermaan julle dan, broers, by die ontferminge van Elohiem, dat julle jul liggame stel as 'n lewende, afgesonderde en aan Elohiem welgevallige offer dit is julle redelike geloofsbeoefening. En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van Elohiem is." Hierdie afgesonderdheid maak dat daar ‘n duidelike onderskeid tussen ons en ander mense is, maar is juis ook die sterkste motivering waarom ons uitreik na ander mense. Hierin volg ons juis die voorbeeld na van die Afgesonderde, soos die Talmoed dit stel: "After (Yahweh your Elohim) you shall walk. How is it possible for us to walk after (Yahweh)? By following his attributes and examples. (Yahweh) clothed the naked, as it is written, ‘(Yahweh Elohim) made to Adam and his wife coats of skin and clothed them.’ So we must do the same. (Yahweh) visited the sick, as it is written, ‘(Yahweh) appeared to him (Avraham) in the grove of Mamre’ (which was immediately after the circumcision). So we must do the same. (Yahweh) comforts the mourner, as it is written, ‘It came to pass after the death of Avraham, (Elohim) blessed his son Isaac.’ So we must do the same. (Yahweh) buried the dead, as it is written, ‘(Yahweh) buried Mosheh.’ So must we do the same. " Verreweg die grootste dryfveer vir ons om afgesonder in ons handel en wandel te wees, is die feit dat ons ‘n Elohiem leer ken het wat afgesonder is en wat geen steen onaangeroer gelaat het om vir ons te toon presies hoe lyk hierdie afgesonderdheid nie.