ANACHRONISTIESE GELOOF
Vir die wat nie die woord ken nie, kom ons gaan steek kers op by die woordeboeke:
ANACHRONISM: "Something out of harmony with the present" ... "One that is out of its proper or chronological order, especially a person or practice that belongs to an earlier time" ... "a person or thing that belongs or seems to belong to another time"
[DIE WOORD "ANACHRONISME" HET 'N GRIEKSE OORSPRONG: "ANA
" = "TEENOOR, TEENSTRYDIG" EN "CHRONOS" = "TYD"]VOORBEELDE VAN ANACHRONISMES:
1)
Die voorkoms van "horlosies" in Shakespeare se storie "Julius Ceasar"2)
Een van Farao se diensknegte wat "tennisskoene" dra in die Film "The Ten Commandments"3)
Iemand skryf 'n boek oor die Eerste Wêreldoorlog en beskryf hoe die leiers "epos boodskappe" aan mekaar gestuur het (Ontspan, daar IS NIE so 'n boek nie ...)Mense kan ook anachronismes wees – wanneer hulle dinge doen en oortuigings huldig en gebruike navolg wat nie inpas by hulle tyd nie. Dit kan wees dat hulle nie inpas nie omdat hulle vasklou aan ou idees en ou tradisies wat nie eens noodwendig reg is, of in lyn met die Woord is nie, maar wat so ingeburger is en waarin hulle só verstard geraak het, dat hulle eenvoudig nie kan verander nie. Hierdie vorm van anachronisme grens aan verkramptheid en het gewoonlik 'n geweldige negatiewe uitwerking – op almal wat hiermee gekonfronteer word en uiteindelik ook op hulle wat dit self beoefen.
Dit kan egter ook wees dat mense nie inpas by hulle tyd nie, omdat hulle sterk beginsels oor waarheid en geloof het en 'n keuse gemaak het om nie die populêre en afgewaterde patroon van die moderne wêreld na te volg wat meeste van die tyd nie 'n saak het met beginsels soos waarheid en geloof nie. Ek wil graag glo dat elkeen van ons in hierdie kategorie val. Of ons dit wil weet of nie, in die oë van baie mense rondom ons, is ons anachronismes – 'n verskynsel wat mense laat stilstaan en kyk en laat kop skud van verbasing. Byna soos hulle sou gedoen het as daar 'n ossewa met 'n span osse in Vishoek se hoofstraat moes verskyn. Nie omdat ons outyds aangetrek is of outydse haarstyle het en of in stokou karre rondry nie, maar omdat ons glo die waarheid van die Woord is vas en seker en onveranderlik. En omdat ons weier om toe te gee aan die druk van die massas daarbuite om allerhande kompromieë aan te gaan oor hoe hierdie Woord uitgeleef moet word.
Daar is 'n paar interessante voorbeelde van anachronismes, of skynbare anachronismes in die Skrif – tekste wat nie heeltemal sin maak nie omdat dit praat van iets wat ons weet nie op daardie tydstip van die geskiedenis kon gegeld het of kon gebeur het nie. Ons hoef nie in die Skrif te begin twyfel omdat daar sulke dinge in die Skrif voorkom nie. Die eindproduk wat ons vandag ken as die Skrif of die Woord, het oor 'n baie lang periode vorm aangeneem, en in die proses was daar baie menslike faktore wat 'n rol gespeel het, onder meer die feit dat meeste van die 66 boeke waaruit die Skrif bestaan, in sommige gevalle vir periodes van honderde jare in 'n mondelinge vorm van geslag tot geslag oorgedra is, voordat dit skriftelike neerslag gekry het. Hierdie proses het nie die essensie van die waarheid van Woord van Yahweh aangetas nie. Maar 'n mens kan jou voorstel dat die skrifgeleerdes wat hierdie mondelinge verslae die eerste keer in 'n boekrol (of wat ook al) moes neerskryf, moeite moes gehad het om al die begrippe wat uit 'n totaal ander tydvak kom, te verstaan. Kom ons kyk na enkele voorbeelde.
1Kron 29:7 En hulle het gegee vir die diens van die huis van Elohiem: aan goud vyf duisend talente en tien duisend darieke; en aan silwer tien duisend talente; en aan koper agttien duisend talente; en aan yster honderd duisend talente.
Hierdie gebeurtenis het plaasgevind in die tyd van Dawid, koning van Yiesraél, ongeveer 1000 jaar voor Messias. 'n "Dariek
" is 'n muntstuk wat vernoem is na Darius, koning van Persië wat ongeveer 500 jaar ná Dawid gelewe het. Beteken dit hierdie berig in 1 Kronieke 29 is onbetroubaar? Hoegenaamd nie, want ons weet vandag dat 1 en 2 Kronieke heel laaste van al die Voor-Messiaanse boeke geskryf is en eers rondom die jaar 300 v.M voltooi is. Die woord "dariek" word gebruik omdat die lesers van daardie tyd dit geken het en dus sou geweet hoe swaar 10000 darieke goud moes gewees het.Exo 16:33-34 Mosheh sê toe vir Aharon: Neem 'n kruik en gooi 'n omer vol manna daarin, en sit dit voor die aangesig van Yahweh neer, om dit vir julle geslagte te bewaar. Soos Yahweh Mosheh beveel het, so het Aharon dit voor die Getuienis neergesit om bewaar te word.
Hierdie gebeurtenis speel af voordat Mosheh die Torah van Yahweh ontvang het op die berg Sinai. Die Getuienis waarna hier verwys word, kan net een van twee dinge beteken: óf die ark van die Getuienis, of die tabernakel, wat albei eers 'n geruime tyd na die gee van die Torah by Sinai 'n werklikheid geword het. Probleem? Geen probleem nie. Die boek Exodus is heelwat later eers op skrif gestel en Aharon het die manna in bewaring gehou en dit later eers in die ark geplaas soos Yahweh beveel het.
Ons hoef nie verder op sg. "anachronismes" in die Skrif te konsentreer nie. Wat vir ons van belang is, is om te weet hoe lyk geloof wat in die oë van die wêreld lagwekkend en outyds en selfs bespotlik is, maar in die oë van Yahweh kosbaar en lewenskragtig. Dit is so 'n tipe geloof wat in hierdie tyd nodig is ...
1 Kor 1:27-29 "Wat dwaas is by die wêreld, het Elohiem uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het Elohiem uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het Elohiem uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie."
Psa 22:4-6 Op U het ons vaders vertrou; hulle het vertrou, en U het hulle uitgered. Hulle het U aangeroep en het ontvlug; op U het hulle vertrou en nie beskaamd gestaan nie. Maar ek is 'n wurm en geen man nie, 'n oneer van die mense en verag deur die volk. Almal wat my sien, spot met my; hulle steek die lip uit, hulle skud die hoof
Sefanja 3:12 En Ek sal tussen jou in laat oorbly 'n ellendige en geringe volk wat by die Naam van Yahweh skuiling soek.
Jesaja 30:15 Want so sê die Meester Yahweh, die Afgesonderde van Yiesraél: In terugkeer en rus lê julle verlossing, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie.
Jeremia 2:2 Gaan en roep uit voor die ore van Yerushalayiem en sê: So sê Yahweh: Ek onthou die geneentheid van jou jeug, die liefde van jou bruidstyd, toe jy agter My aan geloop het in die woestyn, in 'n onbesaaide land.
Deut 4:30
As jy in die nood is en al hierdie dinge aan die einde van die dae oor jou kom, sal jy na Yahweh jou Elohiem terugkeer en na sy stem luister.2 Kor 4:7 Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van Elohiem mag wees en nie uit ons nie.
Deut 14:2
Want jy is 'n volk afgesonder aan Yahweh jou Elohiem, en jou het Yahweh uitverkies om sy eiendomsvolk te wees uit al die volke wat op die aarde is.Jer 6:16
So sê Yahweh ... kyk en vra na die ou paaie, waar tog die goeie weg is, en wandel daarin; en julle sal rus vind vir julle siel. Maar hulle het gesê: Ons wil daarin nie wandel nie.Jesaja 30:21
en jou ore sal 'n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.