AS DIT NAG WORD RONDOM JOU

In Hebreeus sê mense sê mense vir mekaar, saans voordat hulle gaan slaap: "Lailah tov". Interessant genoeg, is dit nie heeltemal dieselfde as wanneer ons vir mekaar sê "lekker slaap" of "sleep well" nie. "Lailah tov" beteken nie "lekker slaap" nie, maar "goeie nag" of "aangename nag". Dus, in Hebreeus wens mense nie noodwendig vir mekaar toe dat hulle goed sal slaap nie, maar dat hulle ‘n goeie nag sal hê – selfs al slaap hulle nie goed nie. Miskien lê daar hierin vir ons groter betekenis opgesluit as wat mens met die eerste oogopslag sal dink …

Die woord "lailah" is ‘n baie interessante Hebreeuse begrip. Die woord hou verband met ‘n werkwoord wat beteken: "to turn, to twist, to wind". Die vraag is egter net: Wat het "turning" en "twisting" en "winding" met die periode tussen sonsondergang en sonsopkoms te make – daardie gedeelte van elke 24 uur periode wat normaalweg "nag" genoem word? Miskien het mense lank gelede – toe die Hebreeuse taal tot stand gekom het – reeds ingesien dat "nag" soms letterlik verstaan kan word (d.w.s. doodeenvoudig as ‘n periode van ongeveer 12 uur wanneer die son nie skyn nie), maar soms ook figuurlik of simbolies (d.w.s. as ‘n ongewenste en onaangename toestand of ervaring – ‘n verdraaide en misvormde gestalte van die ware lewe soos Yahweh dit aan die begin bedoel het). Vandag nog sê ons soms vir mekaar: "Toe so en so met my gebeur het, was dit nag rondom my". Scott Fitsgerald het êrens geskryf: "In a real dark night of the soul it is always three o'clock in the morning" . Die Skrif se verstaan van "nag" hou baie duidelik verband met die "nag" en die "donkerte" wat op hierdie wêreld neergedaal het as gevolg van die negatiewe uitwerking van sonde – en, saam daarmee, die werking van die Bose – in mense se lewens.

Daar is nog ‘n verdere interessantheid rondom die woord "lailah". Die woord toon baie sterk ooreenkomste met ‘n ander Hebreeuse woord, die woord "looley" wat gewoonlik met twee woorde vertaal word: "as … nie". Hierdie woord kom onder meer voor in Bereshiet (Genesis) 31:42 (As die Elohiem van my vader …nie aan my kant was nie …dan sou u my met leë hande weggestuur het); Bereshiet 43:10 (Ja, as ons nie getalm het nie, waarlik dan was ons nou al twee maal terug); Tehielliem (Psalm) 94:17 (As Yahweh vir my nie 'n hulp was nie, dan het my siel gou in die stilte gewoon). Lê daar nie dalk hierin vir ons ‘n baie belangrike sleutel opgesluit nie? Is dit nie juis die Skriftuurlike aanduiding van hoe ek en jy die tye van simboliese nag in ons lewe moet hanteer nie? Moet ons nie juis dán ons tientalle "as-nie" vrae na Yahweh toe vat en ons antwoorde by Hom en by sy Woord gaan vind nie?

Soms is dit juis ons "as-nie" vrae wat ons in die nagte laat wakker lê. Wat sal gebeur as ek nie my werk klaarkry nie? Hoe gemaak as daar nie genoeg geld is nie? Wat as ek nie ‘n man kry nie? Wat as my kind nie suksesvol is nie? Of as my lening nie goedgekeur word nie? As mense my nie aanvaar nie? As my man of my vrou nie verander nie? As my gesondheid nie verbeter nie? So kan ‘n mens aangaan. Die Woord sê baie duidelik wat ons met hierdie soort "as-nie" vrae moet maak: "Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle" (1 Kefa / 1 Petrus 5:7). "Laat jou weg aan Yahweh oor en vertrou op Hom, en Hy sal dit uitvoer" (Tehielliem / Psalm 37:5). "Werp jou sorg op Yahweh, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie" (Tehielliem 55:22). "Laat jou werke aan Yahweh oor, dan sal jou planne uitgevoer word" (Mieshleh / Spreuke 16:3). "Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by Elohiem" (Filippense 4:6).

Wat ons in werklikheid moet doen is om elke "as-nie" van ongeloof te vervang met ‘n "as-nie" van geloof. Om te sê: "Wat gaan van my word as my plan nie slaag nie" is om ‘n "as-nie" van ongeloof uit te spreek. Maar om soos Dawied in Psalm 124 te sê: "As Yahweh nie vir ons was nie, dan het hulle ons lewendig verslind" is om ‘n "as-nie" van geloof uit te spreek. Nog ‘n voorbeeld van ‘n "as-nie" van geloof kan gesien word in ‘n gedeelte soos Gavakuk / Habakuk 3:17-18: "Alhoewel die vyeboom nie sal bloei (kan ook vertaal word met: "As die vyeboom nie sal bloei …") en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie - nogtans sal ek jubel in Yahweh, ek sal juig in die Elohiem van my verlossing." Die "as-nie" van geloof is ‘n keuse wat ‘n mens maak om nie onder jou krisisse te gaan lê nie, maar bokant dit uit te styg en dit tot ‘n geleentheid te maak om op Yahweh se grootheid en getrouheid te fokus.

Meeste van ons gaan soms deur periodes wanneer ons letterlik sleg slaap in die nagte en soms vir ure wakker lê en tob oor die dinge van hierdie wêreld wat ons gedagtes totaal en al in beslag neem. Kom ons waak daarteen om nie sulke tye in die "as-nie" van ongeloof te verval nie. Onthou, dis moontlik om ‘n goeie nag te hê al kry jy nie goeie slaap nie. ‘n Mens dink hier aan Job 35:10 waar daar staan dat Yahweh die Een is wat aan sy kinders lofsange in die nag gee. ‘n Mens dink aan Tehielliem 42:8 "Maar Yahweh sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees". Verder ook Tehielliem 63:5-6 "my mond sal roem met jubelende lippe as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins"; Tehielliem 119:55 "Yahweh, in die nag het ek gedink aan u Naam, en ek het u wet onderhou"; Tehielliem 119:62 "Middernag staan ek op om U te loof vir u regverdige verordeninge"; YeshaYahu / Jesaja 26:9 "Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U". Hoekom sou ons toelaat dat die magte van die duisternis die toon aangee wanneer dit kom by die manier waarop ons ons nagte deurbring? Ook wat hierdie faset van ons lewe betref is ons navolgers van die Een van wie Yahuganan (Johannes) geskryf het dat Hy die waaragtige lig is wat elke mens verlig. Hierdie lig skyn in die duisternis en die duisternis kan dit nie oorweldig nie.

Dis maklik en natuurlik om in die dag te sing. As jou beker oorloop en jou graanskure vol is en jou lewensdae voorspoedig, is dit gewoonlik nie te veel gevra om jou lof en jou dankbaarheid teenoor Yahweh uit te spreek nie. Iemand het eenkeer gesê: "It is easy to sing when we can read the notes by daylight; but he is skilful who sings when there is not a ray of light to read by - who sings from his heart". Ten diepste weet ons dat om in die nag te kan sing, méér vra as om bloot "skilful" te wees. Wat nodig is om in die nag te kan sing, wat nodig is om jou kop op te lig as jy in die grootste benoudheid verkeer, is Yahweh se Gees wat ons harte verander. Niemand van ons het dit sommer net vanself in ons om in ons donker dae van ons eie nood te vergeet en op Yahweh se grootheid te fokus nie. Dit kom net deur ‘n volgehoue wandel met Hom. Dit is net beskore vir hulle wat Hom en sy Woord van ganser harte soek. Dit gebeur net as Hy ons harte vul met sy shalom en sy innerlike kalmte.

Nag is net so deel van ons lewe soos wat sonlig deel van ons lewe is. Ons kan dit nie ignoreer of daarvan wegvlug nie. Die Skrif leer egter duidelik dat die nag nie vir ons ‘n verskrikking hoef te wees nie. Ons is, soos 1 Tess 5 sê, kinders van die lig, nie kinders van die nag nie. Dit beteken ons kan soos Shaul (Paulus) en Silas, in ‘n tronk in die middel van die nag, lofliedere sing tot eer van Yahweh. Dit beteken ons kan, soos 1 Tim 5 sê, op Yahweh hoop en in smekinge en gebede bly dag en nag. En dit beteken, bo alles, wanneer die nag om ons toesak en ons in die grootste benoudheid verkeer, kan ons weet dat ons Bewaarder nooit sluimer of slaap nie en wag dat ons ons vertroue volledig op Hom plaas.