BALANS TUSSEN GEBREK EN GENOEG

In die boek van NegemYah (Nehemia), hoofstuk 9, word beskryf dat die bannelinge wat pas teruggekeer het uit Bavel (Babilon) besluit het om ‘n spesiale vasdag uit te roep op die 24 ste dag van die sewende maand, d.w.s. net 2 dae na afloop van die Huttefees, wat, saam met die agste dag van die fees (Yom Shimini), gestrek het vanaf die 15 de dag tot die 22 ste dag van die sewende maand. Dit is interessant om daarop te let dat die Yehudiem in die tyd van Ezra en NegemYah vir die eerste keer in ‘n baie lang tyd weer saamgekom het vir die Trompettefees op die eerste dag van die sewende maand (NegemYah 8:2) en ook vir die Huttefees (NegemYah 8:13-18 – ons neem aan dat hierdie fees ook op die voorgeskrewe tyd plaasgevind het, want daar word beskryf dat dit gehou is ooreenkomstig die verordening van Mosheh).

Geen melding word egter van Yom Kippur gemaak nie, wat volgens die voorskrifte van die Torah tussen die Trompettefees en die Huttefees op die 10 de dag van die sewende maand moes plaasvind. ‘n Mens kry die indruk dat die deel van die volk wat pas uit ballingskap teruggekeer het, eers geleidelik (byna treetjie vir treetjie) weer in die patroon gekom het om die feeste op die voorgeskrewe manier te hou. So het dit gebeur dat, terwyl hulle vir die Trompettefees bymekaar was, hulle op besonderhede in die Torah oor die Huttefees afgekom het en daar en dan ‘n besluit geneem het om die Huttefees ook te hou. Die kanse is goed dat dieselfde tipe ding met Yom Kippur ook gebeur het: Terwyl hulle vir die Huttefees bymekaar was (en daagliks uit die Torah gelees het) het hulle heel moontlik op gedeeltes afgekom wat oor Yom Kippur handel en toe besluit om die fees te hou, twee dae na afloop van die Loofhuttefees. Dus is dit glad nie onmoontlik nie, dat die vasdag wat uitgeroep is en waarvan ons lees in NegemYah 9, in werklikheid ‘n "Yom Kippur" was wat 2 weke later gehou is as wat dit eintlik veronderstel was om gehou te word.

Hoe dit ook al sy, die Hebreeuse woord vir "vas" dui daarop dat ‘n mens jou mond vir die duur van die vas "toesluit" en jouself onthou van enige vorm van kos of drank. Dit kan byna as ‘n selfopgelegde "hongersnood" of "ontbering" of "gebrek" gesien word. Watter nut kan dit hê om so iets oor jouself te bring? Die antwoord op hierdie vraag het baie fasette, maar één daarvan is dat so ‘n selfopgelegde tyd van gebrek en tekort ‘n mens daaraan herinner dat slegs Yahweh kan verseker dat ons, in die normale gang van ons lewe, geen gebrek of geen tekort sal hê nie. NegemYah 9 sluit hierby aan: In die gebed van die Lewiete wat voorgegaan het op hierdie dag hoor ons onder meer die volgende: "En u goeie Gees het U gegee om hulle te onderrig, en u manna het U nie van hulle mond weerhou nie en aan hulle water gegee vir hulle dors. En veertig jaar lank het U hulle onderhou in die woestyn; hulle het nie gebrek gehad nie; hulle klere het nie verslyt en hulle voete nie geswel nie" (NegemYah 9:20-21). Met ander woorde, terwyl ons vas op hierdie dag, dink ons daaraan dat U nooit kos van ons mond weerhou het nie, dat U water gegee het vir ons dors en dat ons aan niks gebrek gehad het nie.

Die woord vir "gebrek" in hierdie gedeelte is "gaseer". Dieselfde woord word dikwels in die Skrif gebruik om vir ons te leer oor gebrek en oor oorvloed – die balans wat daar altyd vir die gelowige moet wees tussen "gebrek" en "genoeg" – ‘n balans wat te make het met afhanklikheid van Yahweh, vergenoegdheid en dankbaarheid vir dit wat ons het en die bereidheid om iets te doen aan die gebrek van ander.

  1. Genoeg word nie altyd raakgesien nie.
  2. Shemot (Eks) 16:18 Maar toe hulle dit met die omer meet, het hy wat baie ingesamel het, niks oorgehad nie; en hy wat min ingesamel het, nie te min ("gaseer") nie. Elkeen na sy behoefte het hulle ingesamel. ("Manna" = Wat is dit? – vers 15: toe die kinders van Yiesraél dit sien, sê hulle vir mekaar: Wat is dit? Want hulle het nie geweet wat dit was nie. Daarna sê Mosheh vir hulle: Dit is die brood wat Yahweh julle gee om te eet.)

  3. Seën in elke werk wat aangepak word.
  4. Devariem (Deu) 2:7 Want Yahweh jou Elohiem het jou geseën in al die werk van jou hand; Hy ken jou trek deur hierdie groot woestyn; nou veertig jaar lank was Yahweh jou Elohiem met jou; geen ding het jou ontbreek ("gaseer") nie.

  5. Die broodnodige element van versadiging.
  6. Devariem (Deu) 8:9-10 'n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek ("gaseer") nie; 'n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap; en jy sal eet en versadig word en Yahweh jou Elohiem loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het.

  7. Oorvloed en ‘n oop hand.
  8. Devariem (Deu) 15:8 Maar jy moet jou hand wyd oopmaak vir hom, en jy moet gewillig aan hom leen, genoegsaam vir sy behoefte, wat hom ontbreek ("gaseer").

  9. Yahweh se volmaakte tydsberekening.
  10. 1 Melagiem (Kon) 17:14 Want so sê Yahweh, die Elohiem van Yiesraél: Die meel in die pot sal nie opraak en die olie in die kruik sal nie minder word ("gaseer") nie, tot op die dag dat Yahweh reën op die aarde sal gee.

  11. Gebrek is relatief.
  12. Tehielliem (Ps) 8:5 (6) U het hom 'n weinig minder ("gaseer") gemaak as die magtige wesens en hom met eer en voortreflikheid gekroon.

  13. Gemoedsrus want die Herder is in beheer.
  14. Tehielliem (Ps) 23:1 'n Psalm van Dawied. Yahweh is my herder; niks sal my ontbreek ("gaseer") nie.

  15. Beter af as jong leeus.
  16. Tehielliem (Ps) 34:10 Die jong leeus ly armoede en het honger; maar die wat Yahweh soek, het geen gebrek ("gaseer") aan enigiets nie.

  17. Aan jou siel skade ly.
  18. Kohelet (Pred) 4:8 Daar is een allenig sonder 'n tweede, ook het hy geen seun of broer nie; tog is daar geen einde aan al sy moeitevolle arbeid nie, sy oë kry ook nie genoeg van rykdom nie. Vir wie tog vermoei ek my en laat my siel gebrek ly ("gaseer") aan die goeie? Ook dit is tevergeefs en 'n verkeerde saak.

  19. Aanhou sondig uit vrees vir gebrek.

YermeYahu (Jer) 44:16-18 Aangaande die woord wat u ons in die Naam van Yahweh verkondig het - ons sal na u nie luister nie … Maar vandat ons opgehou het om vir die hemelkoningin rook te laat opgaan en vir haar drankoffers uit te giet, het ons aan alles gebrek ("gaseer") gehad en het ons deur die swaard en die hongersnood omgekom.