Bereshiet 12:2-3 En Ek sal jou n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.
Die seën van Yaakov
Bereshiet 28:3-4 En mag El, die Almagtige, jou seën en jou vrugbaar maak en jou vermeerder, sodat jy n groot aantal volke kan word. En mag Hy jou gee die seën van Avraham, aan jou en jou nageslag saam met jou, dat jy die land van jou vreemdelingskap in besit kan neem wat Elohiem aan Avraham gegee het.
Die seën van Yosef
Bereshiet 49:25-26 Die Almagtige seën jou met seëninge van die hemel daarbo, met seëninge van die watervloed wat daaronder lê, met seëninge van borste en moederskoot. Die seëninge wat jou vader ontvang het, oortref die seëninge van die ewige berge, die kostelike gawes van die ewige heuwels. Dit sal wees op die hoof van Yosef en op die hoofskedel van die uitverkorene onder sy broers.
Die seën van Aharon
Bemiedbar 6:24-26 Yahweh sal jou seën en jou behoed; Yahweh sal sy aangesig oor jou laat skyn en jou goedgunstig wees; Yahweh sal sy aangesig oor jou verhef en aan jou vrede gee.
Die seën van die verbond
Devariem 28:2-13 En al hierdie seëninge sal oor jou kom en jou inhaal as jy luister na die stem van Yahweh jou Elohiem. Geseënd sal jy wees in die stad, en geseënd sal jy wees in die veld. Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee. Geseënd sal wees jou mandjie en jou bakskottel. Geseënd sal jy wees by jou ingang, en geseënd sal jy wees by jou uitgang. Yahweh sal maak dat jou vyande wat teen jou opstaan, voor jou verslaan word; op een pad sal hulle teen jou uittrek en op sewe paaie voor jou uit vlug. Yahweh sal die seën oor jou gebied in jou skure en in alles waar jy jou hand aan slaan; en Hy sal jou seën in die land wat Yahweh jou Elohiem jou sal gee. Yahweh sal jou vir Hom as afgesonderde volk bevestig soos Hy jou dit gesweer het, as jy die gebooie van Yahweh jou Elohiem hou en in sy weë wandel. En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van Yahweh oor jou uitgeroep is, en hulle sal vir jou vrees. En Yahweh sal die goeie aan jou oorvloedig gee in die vrug van jou liggaam en in die vrug van jou vee en in die vrugte van jou land, in die land wat Yahweh aan jou vaders met n eed beloof het om aan jou te gee. Yahweh sal sy goeie skatkamer, die hemel, vir jou oopmaak om die reën van jou land op die regte tyd te gee en om al die werk van jou hand te seën; en jy sal aan baie nasies uitleen, maar self nie hoef te leen nie. En Yahweh sal jou die kop en nie die stert maak nie, en jy sal net boontoe en nie ondertoe gaan nie as jy luister na die gebooie van Yahweh jou Elohiem wat ek jou vandag beveel om te hou en te doen.
Die seën van Shelomo
1 Melagiem 8:56-60 Geseënd is Yahweh wat aan sy volk Yiesraél rus gegee het net soos Hy gesê het: geen enkele woord het onvervuld gebly van al die goeie woorde wat Hy deur die diens van sy kneg Mosheh gesê het nie. Mag Yahweh onse Elohiem met ons wees soos Hy met ons vaders gewees het; mag Hy ons nie verlaat en ons nie verwerp nie deur ons hart tot Hom te neig om in al sy weë te wandel en om sy gebooie en sy insettinge en sy verordeninge wat Hy ons vaders beveel het, te onderhou. En mag hierdie woorde van my, waarmee ek voor die aangesig van Yahweh gesmeek het, dag en nag naby Yahweh onse Elohiem wees, sodat Hy reg kan verskaf aan sy kneg en aan sy volk Yiesraél na die eis van elke dag; sodat al die volke van die aarde kan weet dat Yahweh Elohiem is, niemand meer nie.
Die seën van YermeYahu
YermeYahu 17:7-8 Geseënd is die man wat op Yahweh vertrou, en wie se vertroue Yahweh is. Want hy sal wees soos n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie.
Die seën van Tehielliem 67
Tehielliem 67:1-7 Mag Elohiem ons goedgunstig wees en ons seën; mag Hy sy aangesig oor ons laat skyn! Sodat die mense op aarde u weg kan ken, onder al die nasies u verlossing. Die volke sal U loof, o Elohiem, die volke almal saam sal U loof. Die nasies sal bly wees en jubel, omdat U die volke regverdig oordeel en die nasies op aarde lei. Die volke sal U loof, o Elohiem, die volke almal saam sal U loof. Die aarde het sy opbrings gelewer; Elohiem, onse Elohiem, sal ons seën. Elohiem sal ons seën, en al die eindes van die aarde sal Hom vrees.
Die seën van Tehielliem 84
Tehielliem 84:4-12 Geseënd is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig. Geseënd is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is. As hulle deur die Droë Laagte trek, maak hulle dit n fonteinland; ook oordek die vroeë reën dit met seëninge. Hulle gaan van krag tot krag; elkeen van hulle sal verskyn voor Elohiem in Tsion. Yahweh, Elohiem van die leërskare, hoor my gebed; luister tog, o Elohiem van Yaakov! o Elohiem, ons skild, kyk en aanskou die aangesig van u gesalfde. Want n dag in u voorhowe is beter as duisend; ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my Elohiem as om te woon in die tente van afvalligheid. Want Yahweh Elohiem is n son en skild; Yahweh sal guns en eer gee; Hy sal die goeie nie onthou aan die wat in opregtheid wandel nie. Yahweh van die leërskare, geseënd is die mens wat op U vertrou!
Die seën van Tehielliem 115
Tehielliem 115:12-15 Yahweh het aan ons gedink: Hy sal seën, Hy sal die huis van Yiesraél seën, Hy sal die huis van Aharon seën. Hy sal diegene seën wat Yahweh vrees, die kleintjies saam met die grotes. Yahweh sal julle vermenigvuldig, julle en jul kinders. Julle is geseënd deur Yahweh wat hemel en aarde gemaak het.
Die seën van Tehielliem 128
Tehielliem 128:1-6 Geseënd is elkeen wat Yahweh vrees, wat in sy weë wandel! Die opbrings van jou hande sal jy sekerlik eet; geseënd is jy, en dit gaan met jou goed! Jou vrou is soos n vrugbare wingerdstok binne-in jou huis; jou kinders soos olyfboompies rondom jou tafel. Kyk, so sal sekerlik geseën word die man wat Yahweh vrees. Mag Yahweh jou seën uit Tsion, dat jy die voorspoed van Yerushalayiem mag aanskou al die dae van jou lewe! En dat jy jou kleinkinders mag aanskou! Vrede oor Yiesraél!
Die seën van Y'shua
MattietYahu 5:3-11 Geseënd is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Geseënd is die wat treur, want hulle sal vertroos word. Geseënd is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe. Geseënd is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word. Geseënd is die barmhartiges, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. Geseënd is die wat rein van hart is, want hulle sal Elohiem sien. Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van Elohiem genoem word. Geseënd is die wat vervolg word ter wille van die geregtigheid, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Geseënd is julle wanneer die mense julle beledig en vervolg en valslik allerlei kwaad teen julle praat om My ontwil.