BEKERING IS NOG STEEDS NODIG
Te midde van die ywer en opgewondenheid waarmee baie mense deesdae op soek is na die wortels van die geloof (soos die Skrif dit aan ons voorhou, en nie soos die kerke dit oor eeue heen verdraai of verswyg het nie), lyk dit asof daar EEN belangrike en broodnodige element in die slag gebly het en glad nie meer baie aandag kry nie. Hierdie vergete element is BEKERING. Wanneer 'n mens die gedeeltes in die Skrif bestudeer wat handel oor die periode van die konings van Yiesraél, kom daar 'n interessante patroon na vore: 'n Handjievol konings het gedoen wat reg is in die oë van Yahweh. Verreweg die meerderheid het gedoen wat verkeerd is in die oë van Yahweh. Selfs onder diegene wat gedoen het wat reg is in die oë van Yahweh, vind 'n mens egter gereeld 'n addisionele kommentaar, soos hierdie: "net die hoogtes is nie afgeskaf nie" OF "nogtans nie met 'n volkome hart nie" OF "nogtans nie soos sy vader Dawied nie", of iets dergeliks. Daar is egter een opvallende uitsondering: YoshiYah, koning van Yehudah, wat maar 'n skamele 8 jaar oud was toe hy koning geword het en 31 jaar lank in Yerushalayiem geregeer het. Aan die begin van sy ampstermyn word daar van hom gesê: (
2 Kon 22:2) "En hy het gedoen wat reg was in die oë van Yahweh en geheel en al in die weg van sy vader Dawied gewandel en nie regs of links afgewyk nie." En aan die einde van die ampstermyn hoor ons hierdie getuienis: (2 Kon 23:25) "En voor hom was daar geen koning soos hy nie wat hom tot Yahweh bekeer het met sy hele hart en met sy hele siel en met al sy krag ooreenkomstig die hele Torah van Mosheh, en na hom het nie een soos hy opgestaan nie." Wat my egter tref van hierdie getuigskrif is dat YoshiYah, die koning wat meer getrou en lojaal aan Yahweh gebly het as enige ander koning, hom tot Yahweh bekeer het met sy hele hart en siel ... soos die Torah dit vereis het. Dit was die sleutel van sy sukses. En as bekering iets is wat nodig was vir YoshiYah, dan is dit ongetwyfeld nodig vir elkeen van ons.Met Shavuot wat om die draai lê, is dit dalk goed om nog 'n slag te gaan kyk na wat daar alles in Handelinge 2 gebeur het toe die apostels 'n groep van meer as 3000 mense op die dag van Shavuot toegespreek het. Die afgelope twee Shabbatte het ons na vrae en antwoorde in die Skrif gaan kyk. Daar is een, groot vraag wat soos 'n paal bo water uitstaan in dit wat op daardie belangrike dag in Handelinge 2 gebeur het: Die vraag van 'n groep mense (volgens vers 37) wat diep in die hart getref is deur wat Kefa aan hulle gesê het en hardop uitgeroep het:
"WAT MOET ONS DOEN, BROERS?" Regdeur die hele hoofstuk noem Kefa SEWE DINGE op wat hulle moes doen: (1) Hulle moes luister - v.14, 22 en weer beklemtoon in die volgende hoofstuk en bevestig met hierdie belangrike woord: "En elke siel wat nie na daardie Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word" - Hand 3:23; (2) Hulle moes die Naam van Yahweh aanroep – v.21; (3) Hulle moes glo dat Elohiem vir Yahshua Meester en Messias gemaak het – v.36; (4) Hulle moes hulle bekeer – v. 38; (5) Hulle moes hulle laat doop in die Naam van Yahshua – v. 38; (6) Hulle moes vra dat Yahweh hulle sondes vergewe – v. 38 en (7) Hulle moes hulle laat red uit die verkeerde geslag waarvan hulle deel was – v. 40.Elkeen van hierdie sewe aspekte het ten diepste te make met BEKERING. Geen boodskap word duideliker en meer gereeld in die Skrif beklemtoon as die boodskap dat dit absoluut noodsaaklik is dat elkeen hom tot Yahweh sal bekeer nie. Die Hebreeuse woord ("shuv
" = "om terug te keer" of "om om te draai") wat normaalweg vir bekering gebruik word, kom meer as 1000 keer in die Voor-Messiaanse Geskrifte voor. Al die profete (van Mosheh af) het oor die noodsaaklikheid van bekering gepraat. Yahuganan die Doper het mense opgeroep om hulle te bekeer. Yahshua se sentrale boodskap was dat mense hulle moes bekeer. Die apostels het (soos ons nou reeds gesien het) 'n duidelike boodskap van bekering verkondig. Ons sal 'n groot fout maak as ons vandag só op nuwe waarhede en die regte tipe woorde en die kerk en ander mense se foute konsentreer, dat ons die duidelike oproep van die Skrif om ons tot Yahweh te bekeer, nie hoor nie en daarom ook nie ernstig opneem nie.Wat beteken bekering regtig? Dit beteken natuurlik in die eerste plek om na Yahweh terug te keer. Om ons eie aangeleerde weë te verlaat en om te draai, terug na Yahweh toe. Om 'n koers in te slaan wat só is dat Yahweh voor ons is (en ons voor Hom) – nie 'n koers waarin ons met ons rug na Yahweh gekeer, dinge najaag wat Hom uit ons lewens uitsluit nie. Terwyl die Hebreeuse woord "shuv" in die Voor-Messiaanse Geskrifte gebruik word om die idee van bekering te verduidelik, is daar veral twee Griekse woorde wat in die Messiaanse Geskrifte vir hierdie begrip gebruik word: "epistrepho
" en "metanoó". Die eerste van hierdie twee begrippe, "epistrepho", is 'n interessante begrip. Die beteken basies ook "terugkeer" of "omdraai" soos die Hebreeuse woord "shuv". Die interessante is egter dat die Griekse skrywers, wat probeer het om uitdrukking te gee aan die oorspronklike betekenis van hierdie begrip, verkies het om "epistrepho" te gebruik, en nie net "strepho" (wat ook "omdraai" of "terugkeer" beteken) nie.Volgens woordeboeke is die bedoeling met die Griekse voorvoegsel "epi" normaalweg om die idee van "superimposition
" weer te gee. Wat beteken "superimposition"? Kom ons kyk weer wat sê die woordeboeke: "To superimpose is to place one thing on top of or above something else". Dit kan volgens die woordeboeke ook beteken: " To add a distinct feature, element, or quality, like in the following example: "She superimposed her own interpretation when she retold the story." Miskien het die Griekse skrywers aangevoel dat 'n mens kan omdraai sonder dat jou lewe werklik verander, en dán is dit nie werklik bekering nie. Daarom het hulle die "epi" vooraan die "strepho" geplaas. Wanneer 'n mens jou tot Yahweh bekeer en omdraai, beteken dit dat jy Yahweh se belange bo-op of bo-oor jou eie belange plaas. Dat sy begeertes nou belangriker is as jou begeertes. Dat sy woorde nou meer betekenis het as die woorde van mense. Dit beteken dat daar 'n "distinct feature, element or quality" by jou lewe bygevoeg word wat 'n duidelike verskil maak. Yahweh se waardes en Yahweh se interpretasie van dinge word nou bo-oor my eie waardes en my eie interpretasie van dinge geplaas. Ek kyk nou na die wêreld deur sy oë. As iets vir Hom belangrik is, is dit vir my belangrik. As iets in sy oë verwerplik is, is dit vir my ook verwerplik. Dit is wat bekering ten diepste beteken. As dit nie op die oomblik wáár is my lewe nie, is dit die plek en die posisie waarheen ek moet terugkeer.Die tweede Griekse woord wat vir bekering gebruik word, is "metanoó" (en die verwante begrip "metanoia"). Hierdie woord bestaan ook uit twee duidelike komponente: "meta" (wat "anders" - Engels: "different" - beteken) en "nous" (wat "denke" of "verstand" beteken). Ook hier sien ons dat bekering méér is as net 'n rituele of oppervlakkige omdraai. Dit moet gepaard gaan met 'n verandering van denke of van die verstand. Dit behels 'n totale verandering van gesindheid, en ook 'n verandering van die hart. Al is die orgaan van die hart op 'n ander plek geleë as die verstand, het 'n hartsverandering alles met ons denke en met ons keuses te make. En al dink ons normaalweg liefde en omgee vir mense en lojaliteit teenoor Yahweh is alles dinge wat met die hart te make het, kan dit net gebeur as daar "metanoia" in ons lewe plaasgevind het – 'n totale verandering van denke, wat insluit: 'n vaste besluit om Yahweh eerste te stel in elke faset van ons lewe. Net soos YoshiYah se bekering beteken het dat hy met sy hele hart en siel en al sy krag op Yahweh gefokus het, net so moet ons bekering ook dít beteken. En sonder 'n vaste besluit en 'n doelbewuste omdraai sal dit nooit gebeur nie. Ons weë is van nature nie dieselfde as Yahweh se weë nie. Ons moet eers omdraai om meer in lyn met Hom te kom. En hierdie omdraai moet ons hele wese in beslag neem: ons hart en ons siel en al ons kragte. Dit is presies wat die Woord bedoel as dit sê die belangrikste van al die gebooie is om Yahweh lief te hê met ons hele hart en ons hele siel en al ons kragte. Maar voordat ons nie tot bekering gekom het nie, kan dit nooit gebeur nie.
Miskien is jy nie seker of jou terugkeer na Yahweh 'n terugkeer met hart en siel en al jou kragte was nie. Dalk weet jy tot vandag toe nie of jy dit ooit teenoor Yahweh uitgespreek het dat dit jou begeerte is om sy belange en sy koninkryk en sy waardes, en sy Seun, bo-oor jou eie belange en jou eie sieninge en jou eie gewoontes, te "superimpose" nie. Dalk het jy dit lank gelede gedoen, maar intussen weer 'n koers ingeslaan wat Hom uit jou lewe uitgeskuif het, al is dit net gedeeltelik. Dan het dit tyd geword om jou denke in te span en 'n wilsbesluit te neem om Hom opnuut eerste te stel en "lock, stock and barrel" na Hom toe terug te draai.