DIE BERG LANGS DIE VALLEI
Vishoek, in die Suidelike gedeelte van die Kaapse Skiereiland, is ‘n besondere en ‘n unieke dorp, in baie opsigte. Sonder om in detail in te gaan en die veelsydigheid en die goeie en minder goeie kwaliteite van hierdie dorp te besing, kan ‘n mens Vishoek en die aanliggende gedeelte tot by Kommetjie uitsonder, bloot vanweë sy unieke ligging as ‘n vallei tussen die berge, omgrens deur die see aan die westekant sowel as die oostekant. Die kontras tussen die vallei-gedeelte en die berg-gedeelte is veral baie opvallend. Vanaf sommige plekke in Vishoek kan ‘n mens glad nie die see sien nie – nie aan die westekant nie en ook nie aan die oostekant nie. Vanaf ander plekke, ‘n bietjie hoër teen die berg, kan jy die see aan die oostekant sien, maar nie aan die westekant nie. En dan is daar plekke waarvandaan ‘n mens die see aan albei kante kan sien, asook die berge en die hele vallei wat tussen die berge lê – ‘n gesig wat ‘n mens nie op baie ander plekke in die wêreld sal kry nie.
Yisrael (of Israel) is ook ‘n land wat bekend is vir sy berge en sy valleie. Op ‘n kaart kan ‘n mens sien dat daar ‘n hoë bergreeks is wat van Noord na Suid deur die sentrale deel van die land loop, drie groot vlaktes of valleie wat van Noord na Suid langs die Middellandse See aangetref word en die Jordaanvallei of Jordaandal wat tussen die sentrale bergreeks en die Jordaanrivier voorkom. In die Suide van die land is groot Negev woestyn en in die Noorde is daar nog ‘n vlakte wat min of meer van die Weste tot die Ooste van die land strek en wat seker die heel bekendste vallei in die land Yisrael is. Die naam van hierdie vallei klink byna dieselfde as die naam van die land en miskien is dit op sigself alreeds ‘n aanduiding dat die betekenis van hierdie vallei, die vallei van Yizreël, vir ons van die grootste belang is. In sy geheel gesien, is daar soveel valleie in die land Yisrael – grotes en kleineres – dat dit bykans onmoontlik is om van punt A na punt B te beweeg, sonder om deur ‘n vallei te beweeg.
Daar is veral drie woorde wat in Hebreeus vir ‘n vallei of ‘n vlakte of ‘n laagland gebruik word, nl. "bik’ah", "emek" en "shefelah". As ‘n mens die betekenis van hierdie drie woorde bestudeer, is dit nie moeilik om te verstaan waarom die valleie en die laagtes in Yisrael dikwels met stryd en verdeeldheid en swaarkry geassosieer word nie en waarom daar dikwels eers uitkoms en antwoorde gekom het wanneer die volk, of die leiers van die volk, hulle na die berge begewe het nie. Dis op die berge waar Yahweh dikwels met die volk of met sy leiers gepraat het en waar hulle weer krag en bemoediging ontvang het. Dis op die berge waar Yisrael dikwels ‘n voorsprong bo sy vyande gehad het. En dis op die berge waar hulle letterlik en figuurlik beter kon "sien" en waar hulle dikwels ‘n ander perspektief binne sekere situasies kon verkry. In die geskiedenis van die verwoesting van Sedom en Amorah (Sodom en Gomorra) sien ‘n mens ‘n illustrasie van hierdie waarheid in Bereshiet (Genesis) 14:10 "Maar die laagte (of die vallei) Sieddiem was vol gate in die lymgrond; en toe die konings van Sedom en Amorah wegvlug, het hulle daarin geval, en die wat oorgebly het, het na die gebergte gevlug."
Die eerste woord wat dikwels vir ‘n vallei gebruik word, is "bik’ah" wat afkomstig is van die werkwoord "bakah" en hierdie woord beteken basies: "to make a breach; to break in pieces; to burst; to cut out; to divide; to tear". Dis in die valleie van ons lewe dat ons ook dikwels voel dat ons uitmekaar uit geskeur word, opgesny word en verdeel word deur die vyande van die geloof en deur hulle wat deur die groot Vyand opgekommandeer word – soveel so dat dit later voel of ‘n mens gaan oopskeur of gaan bars. Dan word ons letterlik soos die oorblyfsel van Bereshiet 14 wat na die gebergte toe, na die plek van aanbidding en die plek van bemoediging, moet vlug!
Die tweede woord is "emek" wat afkomstig is van "amak" en laasgenoemde beteken "to be in the deep / depths". Hierdie soort vallei is net so relevant in die lewe van iemand van vandag nog begeer om voor die aangesig van Yahweh te wandel. Daar is dikwels "dieptes", "donker periodes", "dale van doodskaduwee" wat beleef word. Daar is dikwels net ongekende en soms onverklaarbare laagtepunte wat beleef word – tot so ‘n mate dat mens nie weet hoe jy weer jou vreugde en jou nugterheid gaan terugkry nie. Dit is dan wat ‘n mens jou oë na die berge ophef om na hulp te roep en saam met die profeet in YeshaYahu 52:7 kan sê: "Hoe lieflik is op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor, wat goeie tyding bring, wat verlossing uitroep; wat aan Tsion sê: Jou Elohiem is Koning!"
Die derde woord is "shefelah". Dit is vandag nog die naam wat gebruik word vir die laagland gedeelte tussen die Judese berge en die Middellandse See, suid van Yaffa of Tel Aviv. Hierdie woord is afkomstig van die woord "shafal" wat beteken: "to depress; to sink; to humiliate; to cast down". Wie van ons ken nie ook hierdie gevoel nie? Daardie tye van vernedering waardeur ons dikwels moet gaan, juis omdat (of nadat) ons iets van die grootheid en die waarheid van Yahweh (op die berg) ontdek het. Maar dan ook tot ons ontnugtering ontdek het dat ‘n mens nie altyd op die berg kan bly nie – dat daar ‘n gees in hierdie wêreld is wat ‘n mens altyd weer aftrek, terug in die laagte, en soms platslaan, nadat jy ‘n besondere hoogtepunt beleef het. Dit is dan dat mens begeer dat iets van die belofte van YermeYahu 50:19 vir jou sal waar word: "En Ek sal Yiesra~el na sy weiveld terugbring, en hy sal wei op Karmel en in Bashan; en sy siel sal op die gebergte van Efrayiem en in Ghiel~ad versadig word."
Die profeet EliYah het juis die berg Karmel uitgekies as die plek waar die volk eens en vir altyd sou sien dat Yahweh die Een is by wie daar krag en outoriteit en verlossing is en dat die Baalprofete niks teen Yahweh kan uitrig nie – veral nie deur op hulle eie krag of op hulle afgode te steun nie. Die volk Yisrael het ‘n ongekende tyd van droogte beleef. Hierdie droogte is op sy felste beleef in die vrugbare vallei van Yizreël wat reg onderkant die Karmelberg geleë was. Vandag nog staan hierdie vallei bekend as die "broodmandjie van Israel" – die enkele stuk aarde in Israel wat weens sy vrugbaarheid en voedselproduksie kop en skouers uittroon bo enige ander area in die land. Die naam "Karmel" beteken "wingerd of tuinland of plantasie van Elohiem" en dit verwys natuurlik ook na hierdie vallei. Maar op hierdie tydstip toe EliYah die Baalprofete uitgedaag het om te wys waartoe hulle in staat was, was daar nie eens ‘n enkele spruit in hierdie hele vallei waarin water gevind kon word nie. En die droogte in die land was tekenend van die geestelike droogte in die harte van die mense. Baälaanbidding en die verering van Asherah was aan die orde van die dag. Die mense van Yisrael het hulle letterlik en figuurlik in ‘n vallei en in "laagte" of ‘n "depressie" bevind. Die uitkoms van die byeenkoms op Karmel was van deurslaggewende belang!
Wat toe gebeur het, is welbekend. Die altaar, die bulle, die water wat op die hout uitgegiet is en die gebed (eers tot Baäl en toe tot die ware Elohiem) dat daar vuur sou kom om die offer aan die brand te steek … Soos so dikwels in die verlede, gebruik Yahweh weer ‘n berg om vir sy volk, en ook vir sy profeet, perspektief te bring. Die beste deel van hierdie verhaal is EliYah se opdrag aan sy dienskneg om sewe keer in die rigting van die see te kyk of daar nog nie reën op pad is nie. Ja, dis eers op teen die berg dat ‘n mens na die see kan kyk – met verwagting en met hoop kan kyk, omdat Yahweh jou geloof versterk het en jou hart aangeraak het. In ‘n oogwink was die hemel swart van wolke en wind, en ‘n groot reën het gekom (sê vers 45) en dan gebeur daar iets wat menslik gesproke byna onmoontlik is: Die hand van Yahweh kom oor EliYah en die profeet omgord sy heupe en begin om te hardloop in die rigting van Yizreël – nie die vlakte van Yizreël nie, maar die dorpie Yizreël, aan die oorkant van die vlakte, omtrent 25 km ver van Karmel af – en hy kom daar aan voor Agav wat met ‘n perdewa voor hom uit Karmel weg is! Die verskil het gekom met dit wat op die berg Karmel gebeur het! Dieselfde kan in jou en my lewe gebeur as ons Yahweh toelaat om ons lewe op sy berg aan te raak en vir ons ‘n nuwe verwagting gee en ‘n nuwe doel om na te strewe!