BESEF JY DIS DIE LAASTE UUR?
In 1 Yahuganan 2:18 word gelowiges daaraan herinner dat dit die laaste uur is. In die lig daarvan word hulle opgeroep om elke dag te lewe soos mense wat wéét dat dit die laaste uur is. Is óns daarop ingestel om elke dag te leef soos mense wat weet dat dit die laaste uur is? Is ons gedrag en ons ingesteldheid teenoor die lewe eindtyd-georiënteerd? Is ons besig om alles in die stryd te werp om seker te maak dat die koms van die Messias en die voleinding van hierdie bedeling ons nie soos ’n dief in die nag oorval nie? Die Skrif sê onomwonde dat iemand wat nie deeglik hiermee rekening hou nie, ‘n dwaas is wat dobbel met die redding en die shalom wat Yahweh vir hom bestem het. Kom ons kyk na die aanwysings in hierdie hoofstuk (1 Yahuganan 2) oor hoe ons in die laaste uur behoort te lewe.
As ons nougeset hierdie roete volg, kan ons seker wees dat ons aan die Messias verbind sal bly, "sodat ons vrymoedigheid kan hê wanneer Hy verskyn en nie beskaamd van Hom weggaan by sy wederkoms nie" (vers 28). Niks in hierdie lewe is belangriker of van groter waarde as dit nie.