DIE BETEKENIS VAN YOM KIPPUR

Die tiende dag van die sewende Skriftuurlike maand word as ‘n baie belangrike "moad" (vasgestelde en voorafbepaalde dag vir afsondering) aangedui. In Wayyiekra 23:27 word dit letterlik "Yom Hakippuriem" genoem – "Dag van die Versoeninge". Dit dui daarop dat daar meer as een vorm van "versoening" op hierdie dag plaasgevind het en dat ons ook kan verwag dat wanneer hierdie Dag in die toekoms finaal in vervulling sal gaan, daar ook sprake van versoening op verskeie vlakke sal wees.

Die woord "versoening" ("kafar") beteken letterlik "to cover; to expiate; to condone; to cancel; to appease; to cleanse; to pardon". Webster se Woordeboek gee die volgende verduideliking van die begrip expiate: "to perform some act which is supposed to purify the person guilty; or some act which is accepted by the offended party as satisfaction for the injury; that is, some act by which his wrath is appeased, and his forgiveness procured". ‘n Studie van Wayyiekra 16, waar ons ‘n breedvoerige uiteensetting vind van wat die hoëpriester alles op Yom Kippur moes doen, bring aan die lig dat die hoëpriester vir vier verskillende groepe mense of items versoening moes doen: (1) Vir homself en sy huis – 16:11 – (2) Vir die Afgesonderde Plek – 16:16 – (3) Vir die altaar – 16:18 – en (4) Vir die kinders van Yiesrael, insluitende die ander priesters – 16:21,33.

Sonde het verreikende gevolge. Alles en almal is geraak deur die besoedeling wat sonde meebring en dit was die vereiste van die Almagtige self dat die mense en plekke wat deur sonde besoedel is, op ‘n gereelde basis gesuiwer en gereinig moes word. Dit moes veral op vier maniere gebeur: (1) Mense se oortreding moes "bedek", vergewe en uitgekanselleer word op ‘n manier ooreenkomstig die duidelike voorskrif van die Almagtige. (2) Die sondige en rebelse gesindhede van mense moes verander en plek maak vir ‘n gesindheid van boetedoening en berou. (3) Die plek en items wat tydens aanbidding gebruik is, moes op die voorgeskrewe manier gesuiwer word om elke vorm van belemmering in die aanbiddingsruimte uit die weg te ruim. (4) Die toorn van die Almagtige moes (volgens sy eie voorskrif) "tot bedaring gebring word" sodat daar weer herstel in die verhouding tussen Hom en sy volk kon intree.

Wayyiekra 16 gebruik ook 4 verskillende woorde om die sonde en ongeregtigheid van die volk, waarvoor versoening gedoen moet word, te beskryf. Die vier woorde is (1) onreinheid ("tum’ah": om onrein te wees, seremonieel gesproke, maar ook spesifiek a.g.v. seksuele onreinheid en afgodediens) – 16:16; (2) oortreding ("pesha": om weg te breek van die aangeduide weg en met rebelsheid – d.w.s. willens en wetens – die neergelegde gebod te verbreek) – 16:16; (3) sonde ("gattah": om die doel te mis; om die beloning te verbeur; om die pad byster te raak; om die gebooie na te laat en om geregtigheid kort te kom) – 16:16; (4) ongeregtigheid ("avoon": om met perversiteit en skeefgetrekte gedrag af te wyk van die reguit pad en dinge te doen wat duidelik teen die Vader se wil is) – 16:21. Dit is duidelik dat elkeen van hierdie gestaltes van sonde vandag nog net so ‘n prominente rol in die wêreld speel en dat ook die gelowiges nodig het om hulle eie lewens en harte in die lig van hierdie vier begrippe te ondersoek.

 

 

 

 

Watter ander vorme van "versoeninge" kom ook in die Skrif ter sprake?

  1. Mosheh het opdrag van Yahweh ontvang dat hy die Yiesraeliete moes tel en dat elkeen van die geteldes van 20 jaar en ouer ‘n half shekel as "losgeld" (Hebr. "kofer", van dieselfde stam as "kippur") vir die bediening van die plek van samekoms moes gee (Shemot 30:11-16). Die rykes moes nie meer as dit gee nie en die armes moes nie minder as dit gee nie. Hierdie "losgeld" was bedoel om vir hulle siele versoening ("kippur") te doen en sodat daar geen plaag onder hulle mag kom nie. Die bedrag wat as losgeld betaal moes word, was maar klein, maar die verantwoordelikheid wat op elkeen gerus het om dit te betaal, was geweldig groot. Eenvoudige gehoorsaamheid, ook in die klein dingetjies, is genoeg om ons te "bedek" ("kafar") sodat Yahweh nie sy toorn oor ons hoef uit te stort nie. Hierdie gehoorsaamheid moet kom uit ‘n gesindheid van dankbaarheid vir al die seën uit die hand van die Vader en moet gepaard gaan met die erkenning dat net Yahweh vir ons voorspoed en welstand kan waarborg. Iemand wat nie hierdie gesindheid het nie, kan nie die Vader se seën oor su lewe verwag nie.
  2. Noag moes ‘n ark bou en dit met pik "bestryk" of bedek ("kafar", van die dieselfde stam as "kippur") nadat Yahweh die aarde ondersoek het en bevind het dat dit vol geweld was, deur en deur bedorwe, en dat alle vlees sy weë verontagsaam het. Hierdie ark (Hebr. "tebah") kan vergelyk word met die mandjie (dieselfde Hebr. woord "tebah") waarin Mosheh as baba geplaas is (Shemot 2:3) en vir hom ‘n "bedekking" was, terwyl die res van die Yisraelitiese seuntjies by geboorte doodgemaak is. Die woord "tebah" beteken "riet" of "iets wat (uitge)hol is" en wys heen na die bedekking of die beskerming wat die Messias sou bring: Hy wat Homself "ontledig" het en die grootheid waarmee die Vader Hom beklee het, prysgegee het, om vir die uitverkorenes op aarde ‘n "holte" te bied waarin hulle tot rus kan kom ("Noag" = "rus"). Só volkome en volmaak is hierdie "holte" wat die Messias bied, dat die Skrif telkens die posisie van die gelowiges beskryf as "IN Y'shua die Messias". Ons uitverkiesing is IN Hom (Efes 1:4); ons verlossing is IN Hom (Rom 3:24); ons geregtigheid is IN Hom (2 Kor 5:21); ons onderrig is IN Hom (Efes 4:21); ons lewenswandel is IN Hom (Kol 2:6); ons opstanding is gewaarborg IN Hom (1 Kor 15:22); ons erfporsie is IN Hom (Efes 1:11); ons roem is IN Hom (Rom 15:17); ons oorwinning is IN Hom (2 Kor 2:14); selfs as ons sterf is dit IN Hom dat ons ontslaap (1 Tess 4:14).