Strongs H5749
Heb: "ood"
A primitive root; to duplicate or repeat; by implication to protest, testify (as by reiteration); intensively to encompass, restore (as a sort of reduplication): - admonish, charge, earnestly, lift up, protest, call (take) to record, relieve, rob, solemnly, stand upright, testify, give warning, (bear, call to, give, take to) witness.
BETROUBARE GETUIENISSE
Die Skrif heg groot waarde aan getuienisse. Soms is Yahweh self ‘n getuie, soms is die hemel en die aarde getuies, soms word mense as getuies gereken, soms word iets wat ‘n mens kan sien of aan kan raak (soos ‘n hoop klippe) tot getuie gemaak en soms word getuienisse as iets abstrak voorgestel (soos ‘n siekte of ‘n ramp wat iemand getref het). Die hele idee met getuienisse is dat daar iets of iemand moet wees wat vir die waarheid kan instaan. Dit wat waar is en dit wat reg is en dit wat werklik betekenis het, word met getuienisse bevestig en verseël sodat daar geen twyfel daaroor kan wees nie. Yahweh het getuienisse ingestel en aangewys om vir jou en my in ons geloof te help – om ons geloof op ‘n vaste fondament te plaas sodat ons iets het om op terug te val as ons deur moeilike tye gaan.
Luister ‘n bietjie hoe ‘n groot rol getuienisse in die Skrif speel: Een van die tien woorde wat Mosheh van Yahweh ontvang het, is dat mens geen valse getuienis teen jou naaste mag spreek nie. Die rede is voordiehandliggend: ‘n getuie is bedoel om die waarheid te bevestig en vas te maak – ‘n valse getuienis maak ‘n bespotting van die doel wat Yahweh van die begin af met getuienisse gehad het. In Shemot 23:1 en 2 lees ons: "Verbind jou nie met die skuldige om 'n kwaadwillige getuie te wees nie. Jy mag die meerderheid nie volg in verkeerde dinge nie. En jy mag in 'n regsaak geen getuienis aflê agter die meerderheid aan om die reg te verdraai nie." Daar is geen twyfel nie dat Yahweh baie sterk voel daaroor dat enige getuie ‘n betroubare getuie sal wees. Menslike faktore (soos simpatie met die "underdogs" of groepsdruk van die "majority") mag ons in geen opsig laat wankel in ons roeping om betroubare getuies te wees nie.
En een, alleenstaande getuie word normaalweg nie as genoegsaam gereken nie – daar moet twee of drie getuies wees om ‘n saak te laat vasstaan (Devariem 17:6; 19:15; Bemiedbar 35:30; MattietYahu 18:16). Dis wat ons hemelse Vader ook gedoen het om sy woord en sy waarheid aan hierdie wêreld bekend te maak – reg deur die Skrif ontdek ons ‘n hele spektrum van getuienisse wat die Almagtige self in plek gestel het om te verseker dat mense die onvervalste woord hoor en dit in hulle harte aanvaar. Dis ook hoekom ek en jy nie soos "lone rangers" ons eie geloofspaadjie moet probeer loop, los van medegetuies nie. Van die begin af was dit Yahweh se bedoeling dat ons deel sal word van ‘n hele wolk van getuies (Ievriem 12:1) sodat daar geen dubbelsinnigheid sal wees in die boodskap wat in staat is om mense se lewens radikaal te verander nie.
In Devariem 31:19 lees ons hierdie woorde: "Skryf dan nou vir julle hierdie lied op, en leer dit aan die kinders van Yiesraél; lê dit in hulle mond, dat hierdie lied vir My 'n getuie teen die kinders van Yiesraél kan wees". In die volgende hoofstuk, Devariem 32 volg daardie aangrypende lied wat oor baie eeue heen vir miljoene mense ‘n getuienis van die grootheid van Yahweh was. "Die Naam van Yahweh roep ek uit: Gee grootheid aan onse Elohiem! Die Rots - volkome is sy werk; want al sy weë is reg; 'n El van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy … Soos 'n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels (so het Yahweh sy volk gelei)." ‘n Lied as getuie van Yahweh se grootheid, maar ook as getuie van hoe dom en fataal dit is om jou lojaliteit aan Yahweh prys te gee: "Jy het vet geword, dik geword, spekvet geword - en hy het Eloha verwerp wat hom gemaak het, en die steenrots van sy verlossing geminag … Die Steenrots wat jou verwek het, het jy veronagsaam; en jy het die El vergeet wat jou voortgebring het … Want 'n nasie van verlore raadsplanne is hulle, en daar is geen verstand in hulle nie … My kom die wraak toe en die vergelding, op die tyd as hulle voet sal wankel; want die dag van hulle ondergang is naby." Ons Vader het dit nodig geag om nie net getuies op te rig van sy goedheid en sy liefde nie, maar ook van sy vergelding en sy straf wanneer sy volk ontrou en ongehoorsaam is. Daarom sê Hy vir Mosheh: "As dan baie ellendes en node oor hulle kom, dan sal hierdie lied in hulle aangesig as getuie antwoord - want dit sal uit die mond van hulle nageslag nie vergeet wees nie …" Dis wanneer ons Yahweh se getuienisse die nodigste het – as ons in die nood is, as dit voel of ons wêrelde rondom ons intuimel. Hoe gou is ons nie dan om sy getrouheid te bevraagteken nie. Maar sy getuienisse is daar om ons te herinner dat Hy in die verlede getrou was en altyd getrou sal bly, maar dat dit ons is wat so tragies geneig is om ons rug op Hom te draai en dan onvermydelik die gevolge daarvan moet dra. Hierdie boodskap is nie ‘n baie gewilde boodskap nie. In meeste kerke word dit toegesmeer met ‘n afgewaterde boodskap van liefde en genade en vergifnis – wat in wese daarop neerkom dat valse getuies nader geroep word en vir eie gewin ingespan word. Met so ‘n praktyk mag ek en jy niks te make hê nie.
In Yahushua 24:22 sê Yahushua vir die volk: "Julle is getuies teen julleself dat julle vir julleself Yahweh gekies het om Hom te dien. En hulle sê: Ons is getuies." Net voor hierdie belydenis het Yahushua baie dringend met die volk gepraat en vir hulle in geen onduidelike taal laat verstaan dat ‘n mens die besluit om Yahweh te dien nie ligtelik moet opvat nie. Hy is ‘n afgesonderde Elohiem. Hy duld dit nie as iemand sy Naam bely, maar sy woorde verontagsaam nie. Hy verdra dit nie as mense "in naam" sy volgelinge is, maar Hom nie met hart en siel aanhang nie. Daarom is daar getuienis nodig dat daar ‘n plegtige onderneming van hulle kant af was om Hom met oorgawe en met volharding te dien. Ons het ook sulke getuienisse. Daar was getuienisse toe ons gedoop is in die Naam van Y'shua. Daar was getuienisse toe ons sekere waarhede van sy Woord aanvaar het. Toe ons in ons harte die keuse gemaak het om ‘n sekere koersaanpassing in ons lewe te maak. Laat ons hierdie getuienisse nie verontagsaam nie. Elkeen van hulle werk mee om die waarheid in ons lewens te bevestig en die sekerheid en vastigheid in ons eie harte te versterk.
In Yahuganan 1:6-8 lees ons: "Daar was 'n man van Elohiem gestuur, wie se naam Yahuganan was. Hy het tot 'n getuienis gekom om van die lig te getuig, sodat almal deur hom sou glo. Hy was nie die lig nie, maar hy moes van die lig getuig." In die res van die Messiaanse Skrifte blyk dit dat nie net Yahuganan die Doper nie, maar ook gewone mense wat tot geloof in Y'shua die Messias gekom het, die opdrag ontvang het om van die lig te getuig. Eers het hulle, deur middel van betroubare getuienisse wat deur Yahweh self voorsien is, tot kennis van die lig gekom. Nou staan hulle voor die uitdaging om self getuienisse te wees: betroubare getuienisse, mense wat niks te make wil hê met enige vorm van vervalsing oor wie die lig is en wat Hy kom doen het nie. Mense wat met hulle eie oë gesien het en met hulle eie ore gehoor het en wat niks meer begeer as net om hierdie groot boodskap aan ander oor te dra nie. Dit net te herhaal, nie te fabriseer nie. Dit te herstel soos dit oorspronklik was, nie voort te bou op subtiele verdraaiings wat met die tyd ingesluip het nie. En, terwyl hulle hierdie getuienis lewer, staan hulle fier en regop soos mense wat die lig gesien het en niks het om oor skaam te wees nie …