DIE BETEKENIS VAN LYDING

Deur die eeue het gelowiges nog altyd geworstel met die vraagstuk van lyding. Die geleerdes noem dit die teodisee vraagstuk. Teodisee kom van twee Griekse woorde: "Theos" wat basies ‘n misplaaste Griekse vertaling van "Elohiem" is en "dikeo" wat verband hou met die woord "regverdig" (die "s" van "disee" kom van die Engelse "c" wat ‘n wisselvorm van die "k" van "dikeo" is). Dus kan ons sê die teodisee vraagstuk hou hom besig met die vraag "Is Elohiem regverdig wanneer hy toelaat dat sekere mense swaarder ly as ander mense?"

In die lig van die gebeure van die afgelope week, het ons as gesin, en ek vermoed dalk meeste ander wat vir Hubré ken en liefhet, met soortgelyke vrae geworstel. Ons vraag was nie of Yahweh regverdig is nie. Ons weet Hy is regverdig en ons twyfel nie vir een oomblik daaraan nie. Maar binne ‘n baie kort tydjie het ons letterlik van aangesig tot aangesig voor die wrede werklikheid en ook die kompleksiteit van lyding te staan gekom. In so ‘n situasie kan ‘n mens nie die vrae keer of doodsmoor nie. Jy wonder of daar iets is wat in die onsigbare realm gebeur het wat aanleiding tot hierdie voorval gegee het. Jy wonder of Satan ‘n voet in die deur gekry het – die Skrif sê mos dat ons aan die duiwel geen plek moet gee nie en dat hy rondloop soos ‘n brullende leeu op soek na iemand om te verslind. Jy wonder of die Vyand nie vir jou deur jou kind se swaarkry wil bykom nie – soos hy vir Job bygekom het deur die ramp wat sy huis en sy kinders te beurt geval het. Jy wonder of ‘n gebrek aan waaksaamheid aan ons kant dalk daartoe gelei het dat die Vyand sy pogings toespits op die geslag van jongmense wat die volgende generasie is wat die Naam van Yahweh moet verteenwoordig en uitdra in hierdie wêreld. Jy wonder of Yahweh hierdie voorval, wat vir ons almal soos een groot tragedie voel, wil gebruik om iets wat ons nog nie kan identifiseer nie, in ons lewens tot stand te bring. Jy wonder selfs of dit nie gebeur het om dit wat ons as mense beplan het, te keer, omdat ons planne nie in ooreenstemming met Yahweh se volmaakte wil was nie en Hy ons almal dus in die proses wil beskerm. Onwillekeurig vra ‘n mens vir jouself die vraag: Wat is dit wat ons as mense moet leer en moet raaksien in dit wat hier gebeur het?

Ek wil dadelik byvoeg dat dit my eie oortuiging is dat alles wat in die lewe van gelowiges gebeur, onder die wakende en beherende hand van Yahweh, die Almagtige plaasvind. Hy wat die hare van ons hoof getel het, wat in sy Woord verklaar dat die voetstappe van ‘n mens van Yahweh afhang en dat die tye van ‘n mens in Yahweh se hand is – by Hom berus die finale besluit oor wat in ‘n mens se lewe gebeur. Hy gee lewe en Hy neem dit weer. Hy laat siekte en rampe toe en Hy maak weer gesond en bring weer herstel. Dit geld eintlik nie net vir gelowiges nie – dit geld vir alle mense, maar meeste mense erken dit nie. Hierdie beheer wat Yahweh oor ons lewens uitoefen, moet glad nie as ‘n soort "bloudruk" verstaan word nie. Dis nie iets wat vooraf oor ons besluit is en wat in elk geval sal gebeur, maak nie saak hoe ons ons lewenspad loop nie. Nee, die beheer wat Yahweh oor ons lewens uitoefen, is dinamies van aard en inkorporeer ten volle elke begeerte van ons hart; elke gebed wat ons bid; elke besluit wat ons neem en elke keuse wat ons maak – of dit goed is of sleg. Soms maak ons die regte keuse en ontvang later beloning daarvoor in die vorm van seën en vrug en groei. Soms maak ons die verkeerde keuse en moet dan dikwels die negatiewe gevolge van daardie keuse beleef. Soms raak dit vir ons alleen – ons wat in die eerste plek die keuse uitgeoefen het. Soms raak dit ander mense rondom ons. Soms raak dit ‘n hele gemeenskap of selfs ‘n hele nasie.

Maar dit beteken ook nie noodwendig dat elke negatiewe gebeurtenis teruggevoer kan word na sonde of ongehoorsaamheid nie. Die man wat blind gebore is, van wie ons lees in Yahuganan 9, se blindheid was nie ‘n gevolg van sy eie sonde of van sy ouers se sonde nie – nee, dit was sodat die werke van Elohiem in hom geopenbaar kon word. Die merkwaardige is egter dat Yahweh Hom al keer op keer bewys het as Een wat ‘n negatiewe ervaring – ja, selfs rampe en katastrofes – kan inspan om nog steeds sy volmaakte en goeie plan tot stand te bring. Hy kan dissiplineer en liefdevol begelei deur een en dieselfde katastrofe. Om dit menslikerwys te stel: Met die een hand kan Hy ‘n roede vashou om ons tot die besef te bring dat ons van sy weë afgewyk het en met die ander hand kan Hy ons met groot deernis en eindelose geduld en kragtige ondersteuning terugbring na die plek waar Hy ons wil hê.

Wat staan ons te doen as ons midde in so ‘n katastrofe te staan kom? In die lig van die Skrif is daar vir my net een antwoord. Ons moet onsself so ver kry om nie heeltyd teen die katastrofe vas te kyk nie, maar ons koppe te draai en ons oë op Yahweh te vestig. Om aan te sluit by die simboliek van lewe voor die aangesig van Yahweh (ons tema van verlede week): Ons moet by ‘n punt kom waar ons ophou om heeltyd net te staar na dit wat voor ons eie aangesig vorm aangeneem het en terugkom waar ons, met ons lyding en al, weer volledig voor die aangesig van Yahweh staan en voor die aangesig van Yahweh wandel. Daar sal Hy ons ontmoet. Daar sal Hy ons aanraak. Daar sal Hy ons die krag gee om ná ons swaarkry weer op te staan en voluit te lewe. Dit is die een tyd in jou lewe dat jy nie kan bekostig om Yahweh se nabyheid en sy gemeenskap mis te loop nie. Die grootste fout wat mens in so ‘n situasie kan maak is om jou só besig te hou met al die vrae wat met jou eie negatiewe omstandighede te make het, dat jy glad nie tot rus kom in Yahweh en Hom toelaat om sy groot werk te doen nie.

Hoe maak ‘n mens as jy nie regkry om sy nabyheid te ervaar nie – maak nie saak hoe hard jy probeer nie? Hoe maak ‘n mens as jy, hier waar jy die impak van jou krisis op sy felste beleef, voel of Yahweh ver weg van jou af staan? Jy luister na die beloftes van sy Woord en neem ‘n wilsbesluit om dit te glo. Mense wat deur ‘n traumatiese ervaring gaan, se gevoelens en emosies word geweldig beïnvloed deur wat met hulle gebeur het. Hulle sal nie sommer voel of beleef of selfs vermoed dat Yahweh in hulle krisis langs hulle staan en werksaam is in hulle lewens nie. Maar die feit van die saak is: Hy is. Die Woord sê dit male sonder tal. En wat meer is – Hy kan en Hy wil van hierdie minus een groot plus maak – baie groter as wat ons ooit nou kan dink. As ons dit kan regkry om ‘n stap van geloof te neem (geloof wat nou nog niks kan sien nie), te staan op elke belofte wat Hy in sy Woord vir ons gee, Hom te loof en te dank dat Hy groter is as ons krisis en Hom eenvoudig soos ‘n kind te vertrou dat Hy ‘n deurbraak kan bewerkstellig, sal ons lyding uiteindelik vir ons ‘n bron van inspirasie word. En die Naam van Yahweh sal uiteindelik grootgemaak word. Dan het daar in ons eie lyding presies dieselfde gebeur wat in die lyding van die blinde man van Yahuganan 9 gebeur het: Die werke en die grootheid van Elohiem is deur ons swaarkry geopenbaar.

As ‘n mens oor lyding dink, dan besef jy dat ‘n mens twee woorde, die woorde "daarom" en "nogtans" voor die woord "lyding" kan skryf. Maar jy kan dieselfde twee woorde ook ná "lyding" skryf. Wat ek bedoel is dit: Soms staan daar ‘n "daarom" voor lyding. Iets het moontlik gebeur wat tot die situasie van lyding aanleiding gegee het. Dit kan ‘n hewige aanval van die Bose wees. Dit kan ‘n oop deur of ‘n verslapping in die geloof en waaksaamheid, of selfs direkte ongehoorsaamheid van Yahweh se volgelinge wees. Soms staan daar egter ook ‘n "nogtans" voor lyding. Menslik gesproke het jy gewandel met die lig tot jou beskikking. Jy het Yahweh se aangesig gesoek. Jy het Hom geken in jou besluite en jou keuses. Maar nogtans het die krisis plaasgevind. Daar is nie ‘n oorsaak wat met die vinger uitgewys kan word nie. En is so ‘n geval gaan dit ons net mooi nêrens bring om ons koppe te breek om te probeer soek na ‘n "daarom" wat voor die lyding staan nie.

Die "daarom" en die "nogtans" wat ná die lyding te staan kom is egter baie belangriker as dit wat vóór die lyding staan. Daar is altyd ‘n "daarom" wat ná die lyding kom. Daar is altyd is altyd ‘n gevolg van lyding. Deur op die regte manier na lyding te kyk, en Yahweh se aangesig in ons lyding te soek, kan ons verseker dat die daarom op iets positiefs uitloop – iets wat groter is as wat ons voorheen gehad het. Yahweh is groot en almagtig – Hy is absoluut in staat om dit te doen. Hy het die al male sonder tal in die verlede gedoen en Hy sal dit weer doen. Daar is ook altyd ‘n nogtans wat ná lyding volg. Hierdie nogtans word nie deur almal raakgesien nie. Maar met die oog van die geloof kan ‘n mens dit raaksien. Al kry ek swaar kan ek nogtans in Yahweh jubel. Ek versmag my liggaam en selfs my emosies, kan my gees vernuwe word en verkwik word soos nog nooit tevore nie. "Nogtans" is die geloof se manier om te sê: Ek weier om toe te laat dat my omstandighede my onderkry – niemand of niks kan my erfenis in die Messias van my ontneem nie. Ek sal die Naam van Yahweh groot maak, al lê daar soveel dinge rondom my in skerwe. Hy is my roem en Hy is my lewe!