DIE GEES VAN ESAU

Ons het baie oor Ya’akov gepraat die laaste tyd, en groot lesse uit sy lewe geleer, maar wat van Esau? As Ya’akov vir ons betekenis het, het Esau nie ook betekenis nie? As Ya’akov ‘n voorloper was van die uitverkorenes van Yahweh, die oorblyfsel ("remnant") van Yisrael en die gelowiges wat tot die einde sal volhard, was Esau nie ook ‘n tipe van ‘n groep of ‘n beweging of ‘n geloofs-klassifikasie van ons tyd nie?

Esau was die tweelingbroer van Ya’akov wat, soos ons in die verlede al dikwels gehoor het, deur Ya’akov uit sy regmatige erfdeel as eersgeborene, en uiteindelik ook uit sy regmatige seën as eersgeborene, verkul is. Die Skrif gee vir ons ‘n redelike goeie aanduiding van die voortdurende stryd wat daar tussen Ya’akov en Esau geheers het. In die Joodse geskrifte word hierdie stryd selfs nog meer akuut voorgestel. Alhoewel daar geen bewyse is dat die Joodse literatuur oor Esau die volle waarheid is nie, is dit nogtans baie interessant om daarvan kennis te neem. In die Joodse literatuur word onder meer gesê dat Esau se slegte en immorele gedrag direk aanleiding gegee het tot die dood van Avraham, sy oupa. Die pot lensies wat tot die onenigheid oor die eersgeboortereg aanleiding gegee het, was volgens die ou rabbi’s die tipiese maaltyd wat tydens ‘n routydperk voorberei is en is beskou as Ya’akov se manier om ‘n bydrae te lewer in die tyd toe daar oor Avraham gerou is. Esau word in hierdie geskrifte geskets as ‘n moorddadige, haatdraende, selfsugtige en skynheilige karakter wat vir sy familie en dierbares net hartseer en ellende gebring het en dit was eintlik nie so buitengewoon dat hy by hierdie geleentheid sonder om te blik of te bloos sy erfdeel as eersgeborene vir 'n pot lensies verruil het nie – op so ‘n wyse dat die Skrif sê hy het sy eersgeboortereg "verag". Volgens die Joodse geskrifte was Esau goed bekend met Nimrod en was Esau die een wat Nimrod vermoor het. Die kleed van velle wat Ya’akov aangetrek het toe hy sy Vader se eersgeboorte seën ontvang het, was volgens hierdie geskrifte die kleed wat Esau by Nimrod afgeneem het toe hy hom vermoor het.

‘n Kykie in die geslagsregister van Esau help ‘n mens verder om die karakter en die eindbestemming van Esau te verstaan. Esau het drie vroue gehad: Ada (die dogter van ‘n Getiet), Oholiváma (die dogter van ‘n Gewiet) en Bosmat (die dogter van Yishma’el). Die Getiete en die Gewiete was twee Kanaanitiese nasies wat deur Noag vervloek is omdat Kanaan se pa, Gam onrespekvol teenoor Noag opgetree het. Yishma’el (of Ismael) was Avraham se eerste seun by die slavin Haghar, wat moes plekmaak vir Yitsgak, die seun van die belofte. Esau se drie vroue kom uit ‘n agtergrond van heidense gebruike, afgodediens en seksuele wanpraktyke. In Bereshiet 36 word beskryf dat Esau se tweede vrou, Oholivama, twee pa’s gehad het, naamlik Tsiv’on en Ana. Tsiv’on en Ana was op hulle beurt pa en seun. ‘n Mens kan net een afleiding maak en dit is dat hierdie dogter, Oholivama, die produk van totale ontug was en dat daar nie eens sekerheid was oor wie se kind sy eintlik was nie. Esau se eersgebore seun was Elifaz, wie se naam beteken "My El is goud". ‘n Mens hoef vandag nie ver te soek om die geestelike nasate van Elifaz in ons samelewing te identifiseer nie. Een van Esau se kleinseuns was Amalek. In Devariem 25 word daar van die nasie Amalek gesê dat hy Elohiem nie vrees nie en dat sy gedagtenis onder die hemel uitgedelg gaan word.

Die grondgebied wat Esau as erfdeel ontvang het word Seïr genoem. Seïr is die area waar Oholivama se voorouers altyd gewoon het. Die mense wat voorheen in Seïr gewoon het, is die Goriete genoem. Die woord "Seïr" beteken "harig", "faun" (half bok half mens); "bosduiwel" of "sater". Die woord "Gori" waarvan die "Goriete" afgelei word, beteken "grotbewoner". Die plek waar hierdie Goriete oorspronklik, en Esau se nageslag later, gewoon het, is die gebied in die moderne Jordanië wat as Petra ("rots") bekend staan en wat bekend is vir sy interessante rotsformasies en talle grotte. ‘n Interessante brokkie geskiedenis is dat die Romeinse generaal, Pompey, in die eerste eeu voor Messias, opdrag ontvang het om met die inwoners van Petra, wat toe as die Nabatene bekend gestaan het, te gaan afreken. Die Nabatene het op daardie stadium baie probleme veroorsaak en was ‘n groot probleem vir die opkomende Romeinse Ryk. Pompey het na Petra gegaan en daar vir die eerste keer met die godsdiens van Mithras kennis gemaak. In hierdie sonaanbidding-kultus van die Nabatene, die nasate van Esau, het Pompey van "Sondag", die weeklikse fees ter ere van die son, en van 25 Desember, die verjaardag van die Son, te hore gekom. Hierdie kennis oor die aanbidding van Mithras en oor die twee bekende vierdae van die Mitras geloof, het hierna soos ‘n veldbrand deur die hele Romeinse Ryk versprei.

In YeshaYahu 34:5 kondig Yahweh deur die profeet aan dat die swaard van sy banvloek op Edom gaan afkom om hom te oordeel. Edom is niemand anders nie as die nageslag van Esau (Bereshiet 25:30). "Edom" beteken "rooi" en verwys na die rooi kleur van die pot lensies wat Esau in ruil vir sy eersgeboortereg geëet het. Ongeveer 100 jaar voor die koms van die Messias is die Edomiete gedwing om deel van die Joodse nasie nasie te word. Onder dwang van die Makkabeërs moes hulle ook die besnydenis ondergaan en Joodse gebruike nakom. Die eeu-oue stryd tussen Ya’akov en Esau het weer sterk na vore gekom. Dit het egter nie lank geduur voordat die Edomiete ‘n voet in die deur gekry het en uiteindelik die regering van die Joodse nasie binnegedring het nie. Die koninklike geslag van Herodes, wat ook in die Messias se tyd aan bewind was, was Edomiete wat daarin geslaag het om die wurggreep van die Makkabeërs af te skud en, met die hulp van die Romeine, self ‘n leiersposisie oor die Joodse volk in te neem.

Die omstredenheid van die heerskappy van die Herodus familie is alombekend. Dit is hulle wat die opvolgers van die Makkabeërs, die Hasmoniese priesters, uitgeroei het. Dit was Herodus die Grote wat bevel gegee het dat al die babas van twee jaar en jonger na die geboorte van die Messias vermoor moes word. Dit was sy seun, Herodus Antipas wat Johannes die Doper laat vermoor het en aan bewind was toe die Messias tereggestel is. Regdeur die bewind van die Herodusse was daar ‘n slinkse bondgenootskap tussen die Edomiete en die Romeine, maar dit was uiteindelik hierdie bondgenootskap wat tot die verwoesting van Jerusalem in 70 n.M. en die disintegrasie van die Joodse nasie in 135 n.M. aanleiding gegee het.

Was daar dalk meer opgesluit in die bondgenootskap tussen Edom en Rome as wat algemeen erken word? Die Joodse Ensiklopedie (in ‘n artikel oor "Esau") verklaar onomwonde dat Esau of Edom deur die latere Rome verteenwoordig word. In YeshaYahu 34 word die straf oor Edom verbind met die leerskare van die hemel wat tot niet gemaak sal word. Wie of wat is die leerskare van die hemel? Talle gedeeltes in die Skrif (soos Devariem 4:19 en YermeYahu 8:2) bevestig dat dit die hemelliggaame soos die son is wat deur mense aanbid word. Is dit miskien toevallig dat die hart van sonaanbidding langs die roete van Edom en Rome ook aan jou en my voorgestel is? Die Skrif laat ons nie in die duister nie: Yahweh haat hierdie praktyke en sal dit nie duld nie!

YeshaYahu 34 sê verder dat die blare sal afval van die vyeboom (vers 4). In sommige vertalings staan daar die "vye" sal afval, maar die woord "vye" kom nie in die Hebreeus voor nie en in die konteks lyk dit asof dit die blare is wat sal afval. Waarna verwys dit? Alhoewel ons nie 100% seker kan wees nie, is dit interessant dat volgens Encyclopedia Brittanica is die vyeboom en die god "Nude" twee belangrike simbole van die songod, Mithras. ‘n Mens kan nie help om die verband met die geskiedenis van Adam en Chawah (Eva) raak te sien nie. Adam en Chawah was naak ("nude") en het hulle naaktheid met vyeblare probeer toemaak. Dit dui daarop dat die mens van die begin af probeer het om van mens-uitgedinkte maniere gebruik te maak om sy eie sondigheid, en sy verleentheid oor sy sonde, te bedek. Die Skrif sê egter duidelik dat ons nie ons eie maniere van aanbidding moet uitdink nie, maar slegs aan Yahweh en aan sy woorde gehoorsaam moet wees. Die vyeblaar-gees van Mithras het feitlik ons hele samelewing verblind en bekoor met menslike uitvindsels soos Sondag en Kersfees. In dieselfde gedeelte waarin daar ‘n sterk oordeel oor Edom uitgespreek word, word daar ook gesê dat die leerskare van die hemel sal vergaan soos wat die vyeblare afgestroop word van ‘n vyeboom.

In Ivriem (Hebreërs) 12:16 lees ons die volgende woorde: "Laat niemand 'n hoereerder wees nie, of 'n ligsinnige soos Esau, wat vir één spysgereg sy eersgeboortereg verkoop het." Die woord wat hier met "hoereerder" vertaal word, is "pornos" waar ons woord "pornografie" vandaan kom. Die gedagte onderliggend aan hierdie woord is "om te verkoop" en dit verwys uiteraard na iemand wat sy of haar liggaam op ‘n seksuele manier "verkoop". Dis egter presies wat Esau ook gedoen het, deur iets so kosbaars soos ‘n eersgeboortereg, wat hy uit die hand van Yahweh ontvang het, teen ‘n prys te verkoop. Dis wat Ysira’el ook telkemale gedoen het. Om Yahweh en sy weë te verlaat en hulleself en hulle erfenis aan heidense nasies te verkoop ter wille van tydelike genot wat nie opgeweeg kan word met dit wat hulle in die eerste plek van Yahweh ontvang het nie. En dis presies wat duisende mense vandag nog doen wanneer hulle deur die Roomse gees van Esau laat bekoor om Yahweh se weë te verlaat ter wille van ‘n sogenaamde "prys" wat uiteindelik ook hulle ondergang sal beteken.

"Laat niemand ‘n hoereerder wees, of ‘n ligsinnige nie". Die woord "ligsinnige" kom van die Griekse woord "bebelos" en hierdie woord verwys daarna dat ‘n mens iets wat besonders of voortreflik of afgesonder is, onder jou voete vertrap. Dis wat Esau gedoen het. Hy kon dit wat kosbaar en afgesonder was, nie waardeer nie. Hy het nie ‘n probleem daarmee gehad om dit wat Yahweh as afgesonder beskou het, onder sy voete te vertrap nie. Hy het ook nie ‘n probleem daarmee gehad om dit wat Yahweh as onrein verklaar het, sommer op sy eie as "rein" te verklaar nie. Net soos daar onder Roomse invloed ook onder die kerke gedoen is. Daarom dat sommige vertalings van Mark 7:19 suggereer dat Y'shua by hierdie geleentheid alle voedsel rein verklaar het, al het Yahweh tevore sommige voedselsoorte uitdruklik as "onrein" verklaar. Dis die gees van Esau wat vandag nog werksaam is: Leef net vir die oomblik; doen wat vir jou lekker is; volg jou eie begeertes en drange na!

Laat ons dit ‘n saak van erns maak om die gees en gesindheid van Esau van ons af te skud, ja, selfs die vyeblare of die harige vel wat ons self aanmekaar gewerk het om ons naaktheid te bedek. Die gees van Esau en die nalatenskap van Rome het die Christelike kerk binnegedring net soos die Grieke Troje met hulle Trojaanse perd binnedring het. Laat ons ons eie naaktheid voor Yahweh erken en ons bedek met die rooi bedekking, nie van Esau se lensies nie, maar van die kosbare bloed van Y'shua die Messias!