OPPAS VIR DIE GEES VAN JEROBEAM!

Die koning wat ons ken as Jerobeam, se naam is in werklikheid Yaravám, en dit beteken iets soos: "die volk wat baie geword het". Die Skrif sê vir ons dat hy die eerste koning van die Noordelike tien stamme van Yisrael was en boonop ‘n Efrayimiet, d.w.s. uit die stam van Efrayiem. Efrayiem beteken "dubbele vrug" en is die benaming wat dikwels gebruik word om na die tien Noordelike stamme van Yisrael, en almal wat met hulle geassosieer word, te verwys. Dit is moontlik dat beide die benaminge "Yaravám" en "Efrayiem" vir ons ‘n bedekte aanduiding gee oor wat later met die Noordelike tien stamme van Yisrael sou gebeur. Hulle is ‘n volk wat "baie" sou word in die sin dat hulle in ballingskap sou gaan en tussen die menigtes van die nasies van die wêreld opgeneem sou word.

Hulle is ook ‘n volk wat ‘n "dubbele vrug" sou openbaar: die eerste vrug dui op diegene wat fisies deel was van die Noordelike tien stamme van Yisrael; die tweede vrug dui op diegene uit elke volk en taal en nasie wat later sou "terugkeer" na die Elohiem van Yisrael en na die beproefde Weg wat Hy van die begin af aan sy volk openbaar het. Die moontlikheid is baie sterk dat mense soos ek en jy op ‘n verborge, wonderbaarlike manier deel geword het van "die volk wat baie geword het" en van die "dubbele vrug" waarvan die Skrif reeds in die tyd van die aartsvaders gepraat het (Bereshiet 12:2; 13:6; 15:5; 17:5; 17:6; 18:18; 22:17; 22:18; 26:4; 28:3; 35:11; 41:52; 48:13-12; ens.).

As dit waar is dat ons op ‘n manier ingesluit is by Yaravám, "die volk wat baie geword het", kan ons verwag dat iets van die gees van Yaravám nog steeds in ons midde sal wees. Ons moenie verbaas wees as die gees en die sondige geaardheid van koning Yaravám in ons dag, en onder die mense van ons tyd, nog steeds sy kop uitsteek nie. Dit is van die grootste belang dat ons hierdie "Jerobeam-gees" van ons dag sal herken en deur die krag van die Gees van Yahweh in ons, sal teëstaan.

  1. Die gees van Jerobeam word dikwels geopenbaar in diegene wat die hand oplig teen Dawid en die saad van Dawid – 1 Melagiem 11:26-27 ("Ook Yaravám, die seun van Nevat, ‘n Efrayiemiet uit Tsereda—die naam van sy moeder was Tserua, ‘n weduwee—‘n dienaar van Shelomoh, het sy hand opgehef teen die koning. En dit was die aanleiding dat hy die hand teen die koning opgehef het: Shelomoh het Millo gebou en daardeur die skeur aan die stad van sy vader Dawied toegemaak"); ook 12:16,19.
  2. Die gees van Jerobeam is dikwels weggesteek agter die gestalte van "dapper helde" en "bekwame arbeiders". Drie belangrike beskrywings word hier gebruik: "ghibboor" (sterk, magtig en bekwaam vir stryd); "chayiel" (suksesvol, ambisieus en vermoënd) en "asah melagah" (hardwerkend en produktief) – 1 Melagiem 11:28 ("En die man Yaravám was ‘n dapper held. Toe Shelomoh sien dat die jongman ‘n bekwame arbeider was, het hy hom aangestel oor al die dwangarbeiders van die huis van Yosef").
  3. Die gees van Jerobeam word dikwels in stand gehou deur ‘n profesie wat nie in waarheid uitgespreek of ontvang is nie – 1 Melagiem 11:38 ("En as jy luister na alles wat Ek jou beveel en wandel in my weë en doen wat reg is in my oë deur my insettinge en my gebooie te hou, soos my kneg Dawied gedoen het, dan sal Ek met jou wees en vir jou ‘n bestendige huis stig, soos Ek vir Dawied gestig het, en Yiesraél aan jou gee"); 1 Melagiem 14:2 ("En Yaravám het vir sy vrou gesê: Maak jou tog gereed en trek ander klere aan, sodat hulle nie kan merk dat jy die vrou van Yaravám is nie, en gaan na Shiloh; kyk, daar is die profeet AgiYah wat van my gesê het dat ek koning oor hierdie volk sou word").
  4.  

  5. Die gees van Jerobeam is dikwels in verset teen dit wat Yahweh ingestel het en dink niks daarvan om, ter wille van menslike oorwegings, veranderinge aan die verordeninge van Yahweh aan te bring nie – 1 Melagiem 12:31-32 ("Hy het ook tempels van die hoogtes gebou en priesters aangestel uit al die dele van die volk wat nie uit die seuns van Lewi was nie. En Yaravám het ‘n fees gehou in die agtste maand, op die vyftiende dag van die maand, soos die fees wat in Yehudah was, en op die altaar geklim. So het hy in Bet-el gedoen en geoffer aan die kalwers wat hy gemaak het, en ook in Bet-el priesters aangestel vir die hoogtes wat hy gemaak het").
  6. Die gees van Jerobeam roem dikwels op wonderbaarlike genesing, maar openbaar nie ‘n bereidheid om tot inkeer te kom as gevolg van die genesing wat plaasgevind het nie – 1 Melagiem 13:6 ("Toe begin die koning om aan die man van Elohiem te sê: Smeek tog die aangesig van Yahweh jou Elohiem om guns en bid vir my, dat my hand tot my terugkeer. En die man van Elohiem het die aangesig van Yahweh om guns gesmeek, sodat die hand van die koning tot hom teruggekeer het en dit soos tevore was").
  7. Die gees van Jerobeam kom dikwels na vore wanneer mense iets voorgee wat hulle nie regtig is nie. Dit gebeur omdat hulle later so deur hulle sonde verwar en verstrengel en verduister word, dat hulle nie meer in die lig kan wandel nie – 1 Melagiem 14:1-2 ("In dieselfde tyd het AviYah, die seun van Yaravám, siek geword. En Yaravám het vir sy vrou gesê: Maak jou tog gereed en trek ander klere aan, sodat hulle nie kan merk dat jy die vrou van Yaravám is nie, en gaan na Shiloh; kyk, daar is die profeet AgiYah wat van my gesê het dat ek koning oor hierdie volk sou word").
  8. Die gees van Jerobeam kan dikwels uitgeken word daaraan dat leiers hulle volgelinge laat sondig omdat hulle self nie aan Yahweh gehoorsaam is nie – 1 Melagiem 14:8,16 ("…maar jy was nie soos my kneg Dawied wat my gebooie gehou en My met sy hele hart nagevolg het om net te doen wat reg is in my oë nie … En Hy sal Yiesraél oorgee vanweë die sondes van Yaravám wat hy gedoen het en waarmee hy Yiesraél laat sondig het").

Die beste manier om die Jerobeam-gees te weerstaan, is om te verstaan dat die "dubbele vrug" oorspronklik as ‘n seën bedoel is, en nie ‘n vloek nie. Die vrug wat Yahweh vir sy volk in die vooruitsig gestel het, was die vrug van lewe, nie die vrug van die dood nie. Ja, dis waar, soms dra bome nie die vrug wat hulle bestem is om te dra nie. In so ‘n geval is die boodskap van die Skrif baie duidelik: "Ek, Yahweh, deursoek die hart, toets die niere, om aan elkeen te gee na sy weë, ooreenkomstig die vrug van sy handelinge" (YermeYahu 17:10).

Kom ons maak seker dat die vrug wat in ons lewens gesien kan word, die vrug van geregtigheid is, waarvan die Skrif in die volgende gedeeltes praat:

Ef 5:9-11 "Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid. En beproef wat die Meester welbehaaglik is; en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie, maar bestraf dit liewer."

Fil 1:9-11 "En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand 'n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van die Messias, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Y'shua die Messias tot eer en lof van Elohiem."

Heb 12:11-14 "Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie 'n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter 'n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is. Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word. Jaag die vrede na met almal, en die afgesonderdheid waarsonder niemand die Meester sal sien nie."