Yom Kippur behoort meer te wees as net ‘n dag waarop ‘n mens met ‘n lang gesig op jou tande kners en heimlik wens dit so gou as moontlik verby gaan. Dit is onder meer die boodskap van YeshaYahu 58. Hierdie hoofstuk handel oor twee belangrike aspekte van ons wandel voor die aangesig van Yahweh: (1) Die regte manier om te vas en (2) die regte manier om ‘n Shabbat (of ‘n rusdag) te vier. Die enigste verpligte vasdag wat die Skrif ken, is Yom Kippur – ‘n dag wat volgens Wayyikra 23:32 terselfdertyd ook ‘n dag van volkome rus (letterlik: "shabbat shabbaton") moet wees. Eintlik is daar dus net een vasgestelde dag in die jaar wat volledig inpas in die konteks van YeshaYahu 58 – ‘n dag wat beide as vasdag en as rusdag ingeruim moet word – en dié dag is Yom Kippur. YeshaYahu 58 praat by uitstek oor die gesindheid wat pas by Yom Kippur en draai geen doekies om nie oor hoe Yahweh daaroor voel wanneer sy volk hierdie dag met ‘n verkeerde gesindheid aanpak. Kom ons kyk na die soort gesindhede wat NIE by hierdie dag hoort nie.
- ‘n Gesindheid van nuuskierigheid en selfs gretigheid om meer oor Yahweh se weë te leer, maar teësinnigheid om sy idee van rus volledig te aanvaar (vers 2).
- ‘n Gesindheid van ywer om toenadering tot Yahweh te soek, maar ‘n nog groter ywer om vir jou goeie werke deur Yahweh beloon te word (vers 3).
- ‘n Gesindheid van selfdissipline en uiterlike onthouding van voedsel, maar ‘n onvermoë om jou te onthou van woede, irritasie en hoogmoed (vers 4).
- ‘n Gesindheid van ootmoed en totale rustigheid op die vasdag, maar ‘n gebrek aan waagmoed en aksie om uitvoering te gee aan die diepste bedoeling van die Torah (vers 5).
- ‘n Gesindheid van voorgee dat jy nie deur begeertes soos kos gebind word nie, maar afsydigheid teenoor die massas wat op allerlei ander maniere gebind word (vers 6).
- ‘n Gesindheid van gewilligheid om ‘n selfopgelegde honger te ondergaan, maar onwilligheid om iets konstruktief aan die honger van baie ander te doen (vers 7).
- ‘n Gesindheid van afsondering van die wêreld (vir een volle dag), maar nie weet hoe om na afloop van die dag weer jou oë vir die nood rondom jou oop te maak nie (vers 7).
- ‘n Gesindheid van tydelike verontagsaming van jou eie liggaam, maar intussen nie omgee dat jy op ander tye jou verberg "vir jou eie vlees" nie (vers 7).
- ‘n Gesindheid van beterweterigheid en verontwaardiging oor die sondes van ander, maar ‘n vreemde blindheid oor wat verkeerd is in jou eie lewe (vers 9).
- ‘n Gesindheid van in-beheer-wees oor jou lus vir kos, maar dit nie regkry om jou lus vir ander sake te bedwing nie en bo alles nie verstaan wat dit is om jou in Yahweh te verlustig nie (vers 13).
Yom Kippur hoef nie net ‘n sombere, morbiede dag vir ons te wees nie. Dis nodig dat ons hierdie dag sal beleef, ons gesindhede sal toets in die lig van die Woord en alles in ons vermoë sal doen om versoening in die volle sin van die woord na te jaag. Dan sal Yahweh …
- sy lig vir ons laat deurbreek
- sy genesing laat uitspruit
- sy geregtigheid voor ons laat uitgaan
- sy grootheid agter ons opstel
- sy antwoorde aan ons bekendmaak
- sy leiding nooit onttrek nie
- sy versadiging aan ons skenk
- sy kragtige herstel teweegbring
- sy verkwikking laat ervaar
- sy fonteine vir ons oopmaak
- sy bouwerk weer tot stand bring
- sy lus en sy vrede in ons midde stel
- sy hoogtes toeganklik maak
- sy erfdeel gee aan wie dit toekom