DIE UITEENLOPENDE GESTALTES

VAN MISLEIDING

  1. Misleiding is vir baie mense ‘n soort skuiling of wegkruipplek omdat hulle, weens stilswye of verdraaiing van die waarheid, nie gekonfronteer word met die noodsaaklikheid om Yahweh te gehoorsaam nie.
  2. YeshaYahu 28:15 Omdat julle sê: Ons het ‘n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons ‘n verdrag aangegaan; as die golwende gésel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie; want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en ons in bedrog weggesteek.

  3. Misleiding het dikwels die gedaante van lewende water, maar dit versadig nie werklik die siel nie, versterk nie werklik die geloof nie en verdryf nie werklik die duisternis nie.
  4. YeshaYahu 58:9-11 As jy van jou verwyder die verdrukking, die uitsteek van die vinger en die leuenagtige woord, en jou siel laat uitgaan na die hongerige, en die neergeboë siel versadig; dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag. En Yahweh sal jou gedurigdeur lei en jou siel versadig in dor plekke en jou beendere sterk maak; en jy sal wees soos ‘n tuin wat goed besproei is en soos ‘n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel (letterlik: "mislei") nie.

  5. Misleiding lei tot verwarring ten opsigte van reg en verkeerd – hulle wat die leuen navolg, word opgehemel en gepamperlang, maar die wat die waarheid liefhet, word vervolg en verag.
  6. Yegezkel 13:19 En julle ontwy My by my volk vir ‘n paar hande vol gars en vir ‘n paar stukke brood om siele dood te maak wat nie moes gesterf het nie, en om siele in die lewe te hou wat nie moes geleef het nie, deurdat julle my volk belieg wat na leuens luister.

  7. Misleiding volg dikwels ‘n patroon waarin verkeerde gedrag en foutiewe oortuigings herhaaldelik goedgepraat word en daarom lei dit tot vermetelheid, arrogansie, verwaandheid, hoogmoed en ‘n valse gevoel van veiligheid.
  8. OvadYah 1:3-4 Die vermetelheid van jou hart het jou bedrieg, o jy wat woon in die rotsklowe, op hoë plekke bly, en in jou hart sê: Wie sal my op die aarde neerwerp? Al woon jy so hoog soos die arend en al was jou nes tussen die sterre gestel—daarvandaan sal Ek jou neerwerp, spreek Yahweh.

  9. Misleiding is die oorsaak waarom baie gelowiges soos skape sonder ‘n herder is en nie vertroue het in die heenkome en boodskap en manier van doen wat in baie kerke aangetref word nie.
  10. Yegezkel 34:6-8 My skape dwaal rond (letterlik: "word mislei") op al die berge en op al die hoë heuwels; ja, oor die hele oppervlakte van die aarde is my skape verstrooi, sonder dat iemand na hulle vra of hulle soek … omdat my skape ’n prooi geword het en my skape as voedsel gedien het van al die wilde diere van die veld, omdat daar geen herder was nie, en my herders na my skape nie vra nie; en die herders aan hulleself weiding verskaf, maar my skape nie laat wei nie.

  11. Misleiding se wurggreep raak geleidelik al hoe erger: Die onwilligheid om na Yahweh se stem te luister lei tot ‘n onbekendheid met sy weë en later tot ‘n verharding van die hart en uiteindelik tot uitsluiting uit die rus van Yahweh.
  12. Tehilliem 95:7-11 Want Hy is onse Elohiem, en ons is die volk van sy weide en die skape van sy hand. Ag, as julle vandag maar na sy stem wou luister! Verhard julle hart nie soos by Mériva, soos op die dag van Massa in die woestyn nie; waar julle vaders My versoek het, My beproef het, alhoewel hulle my werk gesien het. Veertig jaar het Ek ‘n afkeer gehad van hierdie geslag en gesê: Hulle is ‘n volk met ‘n dwalende hart, en hulle ken my weë nie; sodat Ek in my toorn gesweer het: Waarlik, hulle sal in my rus nie ingaan nie!

  13. Misleiding het in die Skrif en in die geskiedenis dikwels gemanifesteer as die koers wat deur die meerderheid en die oorhoofse leierskap ingeslaan is en nie noodwendig deur klein, minderheidsgroepe nie.
  14. YeshaYahu 9:13-16 Maar die volk bekeer hulle nie tot Hom wat hulle slaan nie, en hulle soek nie Yahweh van die leërskare nie. Daarom sny Yahweh van Yisra’el af kop en stert, palmtak en biesie, op een dag. Die oudste en aansienlike, dié is die kop, en die profeet wat leuens profeteer, dié is die stert; en die leiers van hierdie volk het verleiers geword, en dié van hulle wat gelei word, is op ‘n dwaalweg gebring.

  15. Misleiding het ‘n begeerlike en aantreklike voorkoms, maar is gebore uit ‘n hart wat nie werklik die Messias wil dien nie en ingestel is op ander motiewe as die korrektheid van die oorspronklike leer.
  16. Romeine 16:17-18 En ek vermaan julle, broers, hou hulle in die oog wat tweedrag en aanstoot veroorsaak teen die leer wat julle geleer het, en vermy hulle. Want sulke mense dien nie ons Meester Y'shua nie, maar hulle eie buik; en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges.

  17. Misleiding kom byna altyd voor waar iemand voorgee dat hy ‘n spesiale gesant van die Messias of ‘n geroepe profeet is of waar oordrewe klem op tekens en wonders geplaas word.
  18. MattitYahu 24:24 Want daar sal valse messiasse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei.

  19. Misleiding kan oorkom en uitgeskakel word deur die Skrifte te bestudeer, die waarheid na te jaag, nie die krag van Yahweh af te water nie en nie mense te verheerlik nie.
  20. MattitYahu 22:29 Toe antwoord Y'shua en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van Elohiem nie.

    Romeine 1:25 hulle wat die waarheid van Elohiem verruil het vir die leuen en die skepsel vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid.

    1 Yahuganan 2:21 Ek het nie aan julle geskrywe omdat julle die waarheid nie ken nie, maar omdat julle dit ken en omdat geen leuen uit die waarheid is nie.