KOSTE vs KOSBAARHEID
Iemand vra die afgelope week vir my: Is dit die moeite werd om sekere aanpassings in die geloof te maak – om meer in lyn met die Woord te kom, maar dan is dit ten koste van ‘n hele klomp ander dinge? Ten koste van dinge wat op die oog af lyk na goeie dinge. Ten koste van verhoudings en ‘n vriendekring wat vir ‘n mens in die verlede baie beteken het. Ten koste van sekerheid en gemoedsrus in die geloof wat voortspruit uit die wete dat meeste ander glo ook soos jy glo. Ten koste van betrokkenheid by die gebedsaksies en sendingaksies van kerke. Ja, ten koste van ‘n leefstyl wat oor ‘n lang periode vorm aangeneem het – waarvan jy gehou het en waarin jy gemaklik gevoel het. Meeste van ons, indien nie almal nie, het al met hierdie soort vrae geworstel. Kom ons kyk weer na ‘n aantal Skrifgedeeltes wat vir ons perspektief behoort te gee.
Bereshiet (Gen) 22:1-2;16-17 Na hierdie dinge het Elohiem Avraham op die proef gestel en aan hom gesê: Avraham! En hy antwoord: Hier is ek! Toe sê Hy: Neem jou seun …en gaan na die land MoriYah en offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal aanwys … Ek sweer by Myself, sê Yahweh, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën.
WARE GEHOORSAAMHEID WORD BEOEFEN SONDER OM TERUG TE HOU.
2 Shemuel (2 Sam) 24:24 Maar die koning het Arauna geantwoord: Nee, maar ek wil dit verseker van jou koop vir sy prys; en ek wil nie verniet aan Yahweh my Elohiem brandoffers bring nie. En Dawied het die dorsvloer (waar Avraham vir Yietsgak wou offer en waar die tempel later gebou sou word) en die beeste gekoop vir vyftig sikkels silwer.
DIE DIEN VAN YAHWEH IS NOOIT VERNIET NIE.
Tehielliem (Ps)132:3-5 Sekerlik sal ek nie ingaan in die tent van my woning of klim op die bed wat vir my gesprei is nie; sekerlik sal ek my oë geen slaap gun, aan my ooglede geen sluimering nie, totdat ek 'n plek vind vir Yahweh, 'n woning vir die Magtige van Yaákov!
GUN JOUSELF GEEN RUS VOORDAT YAHWEH SY REGMATIGE PLEK INNEEM NIE.Mieshleh (Spr) 16:32 Die lankmoedige is beter as 'n held; en hy wat sy gees beheers, as een wat 'n stad inneem. (Na aanleiding van hierdie beginsel het iemand eenkeer gesê: "He is more of a hero who has conquered himself, than he who has taken the best fortified city.") OM TE KAN OORWIN, MOET JY JOU NATUURLIKE BEGEERTES KAN BEDWING.
YermeYahu (Jer) 7:9-10 Sal julle steel, doodmaak en owerspel bedrywe en vals sweer en vir Baál offerrook laat opgaan en agter ander magtiges aan loop, wat julle nie ken nie, en dan kom staan voor my aangesig in hierdie huis waaroor my Naam uitgeroep is, en sê: Ons is verlos! --om al hierdie gruwels te doen? HULLE WAT SÊ "ONS IS VERLOS" MAG NIE YAHWEH SE WOORD VERAG NIE.
Mal’agi (Mal) 1:13 En julle sê: Kyk, wat 'n moeite! En julle verag dit, sê Yahweh van die leërskare; en julle bring geroofde en lam en siek diere - so bring julle dan die offer! Kan Ek dit met welgevalle uit julle hand aanneem? sê Yahweh. HY WAT TERUGDEINS VIR MOEITE, KAN NIE ‘N BEHOORLIKE OFFER BRING NIE.
MattietYahu (Mat) 8:19-20 En 'n sekere skrifgeleerde het gekom en vir Hom gesê: Meester, ek sal U volg waar U ook al mag gaan. En Y'shua sê vir hom: Die jakkalse het gate en die voëls van die hemel neste, maar die Seun van die mens het geen plek waar Hy sy hoof kan neerlê nie. OM DIE MESSIAS TE VOLG, BETEKEN OM AF TE SIEN VAN GERIEF EN SEKURITEIT.
MattietYahu 10:37-38 Wie vader of moeder bo My liefhet, is My nie waardig nie; en wie seun of dogter bo My liefhet, is My nie waardig nie. En wie sy martelpaal nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie. DIE MESSIAS IS WAARDIG GENOEG OM BO ALLES EN ALMAL GESTEL TE WORD.
MattietYahu 13:44 Verder is die koninkryk van die hemele soos 'n skat wat verborge is in die saailand, wat 'n man kry en wegsteek; en uit blydskap daaroor gaan hy en verkoop alles wat hy het, en koop daardie saailand. WIE DIE SKAT VAN DIE KONINKRYK ONTDEK, IS BEREID OM ALLES PRYS TE GEE.
MattietYahu 16:24 Toe sê Y'shua vir sy dissipels: As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy martelpaal opneem en My volg. SELF-VERLOËNING IS NOODSAAKLIK VIR ELKEEN WAT DIE MESSIAS WIL VOLG.
Lukas 14:28 Want wie van julle wat 'n toring wil bou, gaan nie eers sit en die koste bereken, of hy die middele het om dit uit te voer nie? VOORDAT JY DIE PAD VAN GELOOF KAN STAP, MOET JY EERS DIE KOSTE BEREKEN.
Romeine 13:14 Maar beklee julle met die Meester, Y'shua die Messias, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie. MOET NOOIT ‘N AGTERDEUR OOPLOS VIR DIE VLEES EN SY BEGEERTES NIE.
Ievriem (Heb) 11:25 omdat hy (Mosheh) verkies het om liewer sleg behandel te word saam met die volk van Elohiem as om 'n tyd lank die genot van die sonde te hê. SIEN JY KANS OM SLEG BEHANDEL TE WORD SAAM MET DIE VOLK VAN ELOHIEM?
Openbaring 12:11 En hulle het hom oorwin deur die bloed van die Lam en deur die woord van hulle getuienis, en hulle het tot die dood toe hulle lewe nie liefgehad nie. OORWINNING IS BESKORE VIR HULLE WAT HULLE LEWENS VIR DIE LAM SAL AFLÊ.
Met verwysing na Matt 16:26 ("Want wat baat dit 'n mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly?") het iemand êrens geskryf: "The soul is too dear a price to pay even for the whole world … He who gains the world at such a cost is a loser by the bargain." As ons gaan sit om die koste te bereken van wat dit van ons sal vra om Yahweh te dien en Y'shua te bely, moet ons daardie koste vergelyk met die koste daarvan wanneer ‘n mens koninkryk en die ewige lewe misloop. Ons moet die koste van dissipelskap vergelyk met die kosbaarheid van die seën en die beloftes van Yahweh en sy Woord. En bo alles moet ons die koste van geloof vergelyk met die prys wat dit die Vader gekos het om sy eie Seun na hierdie wêreld te stuur en Hom in ons plek te laat sterf.