DIE KRAG VAN GETUIENIS
Die begrippe "getuies" en "getuienis" kom gereeld voor in die boek Handelinge en veral binne die konteks van daardie groot Shavuot fees (Pinksterfees) waarvan ons lees in Handelinge 2. Selfs in die vorige hoofstuk (Handelinge 1) word besondere klem op die aspek van "getuienis" geplaas en hoor ons hierdie woord onder meer in die bekende uitspraak van die Messias, kort voor sy hemelvaart, Hand 1:8: "Julle sal krag ontvang wanneer die Afgesonderde Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Yerushalayiem en in Judea en in Samaria en tot aan die uithoeke van die wêreld."
Die bekendste Hebreeuse woord vir getuienis is "ied
" of "eyd", wat 'n afleiding is van die werkwoord "oed" of "ud". Die betekenis van hierdie stamwoord word in woordeboeke aangegee as (onder meer): "to duplicate or repeat, to testify, to protest, to restore, to admonish, to stand upright, to record, to give warning". Soms word Yahweh tot getuie verklaar as twee partye 'n ooreenkoms met mekaar aangegaan het (1Sam 12:5 Daarna sê hy vir hulle: Yahweh is getuie teen julle, en getuie is sy gesalfde vandag, dat julle niks in my hand gevind het nie. En hulle roep: Hy is getuie). Soms word mense as getuies opgeroep (Rut 4:9 Toe sê Boáz aan die oudstes en al die mense: Julle is vandag getuies dat ek alles wat aan Elimeleg en alles wat aan Kielyon en Maglon behoort het, uit die hand van Naómi koop). Soms word 'n dooie voorwerp soos 'n klip of 'n altaar tot getuie verklaar (Jos 24:27 Toe sê Yahushua aan die hele volk: Kyk, hierdie klip sal 'n getuie teen ons wees, want hy het al die woorde van Yahweh gehoor wat Hy met ons gepraat het; en hy sal 'n getuie teen julle wees, sodat julle jul Elohiem nie verloën nie). Dit is duidelik dat hierdie "getuies" moes help dat 'n belangrike gebeurtenis of 'n belangrike woord of 'n belangrike ooreenkoms (belofte) nie vergeet word nie.Dit is juis om dié rede dat die twee kliptafels wat Mosheh op die berg Sinai ontvang het, met die tien woorde wat Yahweh met sy eie vinger geskryf het, ook as DIE GETUIENIS bekendgestaan het. Daarom is die ark, waarin hierdie kliptafels gebêre is, genoem "die Ark van die Getuienis
" en die Tent waarin die ark altyd gestaan het, het bekend gestaan as "die Tent van die Getuienis". Daardie "GETUIENIS" was 'n herinnering aan die woorde en die opdragte van Yahweh – méér as 'n herinnering: dit was 'n konstante en 'n ewigdurende bevestiging van wat Yahweh van sy mense verlang het. Dit het die sleutel bevat tot herstel en verkwikking van gees, siel en liggaam (een van die betekenisse van "ud" is "to restore"). En dit het die potensiaal ingehou dat die een wat hom daaraan steur en dit gehoorsaam, regop (d.w.s. In geregtigheid) voor die aangesig van Yahweh sou staan en sou lewe (een van die betekenisse van "ud" is "to stand upright"). Uit die res van die Skrif blyk dit dat Yahweh se GETUIENIS nie net die 10 woorde is nie, maar al sy ander opdragte en woorde insluit.Dit is duidelik dat Yahweh sy getuienisse gebruik om mense te waarsku – dit kom alreeds na vore in die woordeboek definisie waarna hierbo verwys is. In 2 Melagiem (2 Konings) 17:15 lees ons hierdie woorde: "En hulle het sy insettinge en sy verbond verwerp wat Hy met hulle vaders gesluit het, en sy getuienisse waarmee Hy hulle gewaarsku het, en agter nietige afgode aan geloop en self nietig geword, en agter die nasies aan wat rondom hulle was, van wie Yahweh hulle beveel het om nie soos hulle te maak nie." Hoekom gebruik Yahweh getuienisse om mense te waarsku? Is dit omdat Hy 'n pretbederwer probeer wees? Allermins! In die volgende gedeelte kan gesien word dat Yahweh mense waarsku omdat Hy vir hulle die lewe, in al sy volheid wil gee – Hy kan nie toekyk dat mense die lewe (en dit wat ware kwaliteit aan die lewe gee) deur hulle vingers laat glip nie: "(
Deut 32:46-47) Plaas julle harte op al die woorde waarmee ek julle vandag waarsku, dat julle dit jul kinders beveel om al die woorde van hierdie Torah sorgvuldig te hou. Want dit is geen vergeefse woord vir julle nie, maar dit is julle lewe; en deur hierdie woord sal julle die dae verleng in die land waarheen julle deur die Yarden (Jordaan) trek om dit in besit te neem."In Tehielliem (Psalm) 19:7en 8 skryf Dawied oor die onberekenbare waarde van die getuienis of getuienisse van Yahweh: "Die Torah van Yahweh is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van Yahweh is gewis (d.w.s. vas en seker): dit gee wysheid aan die eenvoudige. Die bevele van Yahweh is reg: hulle verbly die hart; die gebod van Yahweh is suiwer: dit verlig die oë." Ander Psalms sluit hierby aan:
Ps 25:10 Kaf. Al die paaie van Yahweh is goedertierenheid en trou vir die wat sy verbond en sy getuienisse bewaar. Ps 93:5 U getuienisse is baie betroubaar. Afgesonderdheid pas by u huis, Yahweh, tot in lengte van dae!En dan veral Ps 119
: Ps 119:2 Geseënd is die wat sy getuienisse bewaar, Hom van ganser harte soek ... Ps 119:14 Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerlei rykdom ... Ps 119:24 Ja, u getuienisse is my verlustiging, my raadsmanne ... Ps 119:36 Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie ... Ps 119:59 Ek het my weë oordink en my voete laat teruggaan na u getuienisse ... Ps 119:99 Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing ... Ps 119:111 Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart ... Ps 119:167 My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief ... (om maar net 'n paar te noem).Dit Skrif se verstaan van "getuienis" is dat dit die waarheid verteenwoordig en beskerm en dat dit daarop gemik is om leuens en valsheid te vernietig. Dit kan in die volgende gedeeltes gesien word.
Spr 14:25 'n Betroubare getuie red lewens, maar hy wat leuens uitstrooi, is bedrog. Jes 8:15-16 En baie onder hulle sal struikel en val en verbreek en verstrik en gevang word. Bind die getuienis toe, verseël die Torah in die hart van my leerlinge. Jes 8:20 Tot die Torah en tot die getuienis! As hulle nie praat ooreenkomstig hierdie woord nie, is hulle 'n volk wat geen daglig het nie. Jes 43:9-10 Laat hulle hul getuies bring, dat hulle in die gelyk gestel kan word; en laat hulle hoor en sê: Dit is die waarheid! Julle is my getuies, sê Yahweh, en my kneg wat Ek uitverkies het, sodat julle kan weet en My kan glo en insien dat dit Ek is.Die Skrif se duidelike beginsel is dat enige saak in die mond van twee of drie getuies vasstaan (Bemiedbar / Numerie 35:30; Devariem 17:6; Matt 18:16; 2 Kor 13:1). Dit beteken dat daar altyd so veel as moontlik getuies moet wees sodat niemand aan die waarheid of die egtheid van enige saak hoef te twyfel nie. Dit is een van die vernaamste redes waarom Yahweh sy Seun na hierdie wêreld gestuur het – om nog 'n kragtige Getuie te wees van wat Hy (Yahweh) van sy volgelinge verwag en ook van dit wat Hy nog in die toekoms gaan doen. In YeshaYahu (Jesaja) 55 word daar profeties van die komende Messias gepraat en onder meer verklaar: "Kyk, Ek het hom tot 'n getuie van die volke gemaak, tot 'n heerser en 'n gebieder van die nasies" (vers 4). Hierdie waarheid word telkens in die Messiaanse geskrifte bevestig, onder meer in
Joh 3:32 (En wat Hy gesien en gehoor het, dit getuig Hy; en niemand neem sy getuienis aan nie) en 1 Tim 2:6 (wat Homself gegee het as 'n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd).In die boek Openbaring word daar nie minder nie as sewe maal (o.m. Opb 1:9 en Opb 20:4) verwys na die tweeledige fondasie waarop die geloof gebou is van diegene wat uiteindelik gered word: (1) Die woord of die opdragte van Yahweh en (2) die GETUIENIS van Yahshua. Hierdie getuienis van Yahshua is nie net die getuienis wat Yahshua self gelewer het (en waarvoor Hy uiteindelik tereggestel is) nie. Nee, dit is ook die getuienis OOR Yahshua – die getuienis van sy volgelinge, die getuienis van die apostels en die gelowiges van die eerste paar eeue na die Messias se hemelvaart. Ja, dit is ook jou en my getuienis – vir soverre ons getuienis 'n getroue weergawe is van sy getuienis. Enige getuienis is nie goed genoeg nie. Die blote napraat van sogenaamde geesvervulde Christene waarin die regte geluide gemaak word, maar die ware getuienis van Yahshua nie eens herken kan word nie, is nie goed genoeg nie. Dit is nie die getuienis van Yahshua waaraan ek en jy moet vashou nie. Ons getuienis moet 'n getuienis wees OOR Yahshua (met ander woorde 'n getuienis waarin ons geloof uitgespel word dat Hy waarlik die beloofde Messias is, dat Hy opgestaan het uit die dood en dat Hy weer sal terugkeer na hierdie aarde). Maar ons getuienis moet ook dieselfde wees as sy getuienis (een van die betekenisse van die oorspronklike woord is "to duplicate"). En Yahshua se vernaamste getuienis was dat Yahweh se getuienis nog steeds geldig is. Dat Yahweh se norme van reg en verkeerd nog nie verander het nie en ook nie links en regs verbreek mag word nie. Dat die sleutel tot ware lewe nog steeds daarin opgesluit lê om na Yahweh terug te keer en Hom te gehoorsaam en Hom te eer in alles wat ons doen.