SAL DIE KERK DIE KRISIS VAN DIE KODE OORLEEF?
Die fondasies van die Christelike kerk is die afgelope tyd geskud soos nog selde tevore. En die rede: Een van die mees kontroversiële films wat nog gemaak is, "The Da Vinci Code" het wêreldwyd sy opwagting in teaters gemaak. Die film het ‘n skynbaar normale plot, wat basies begin met die moord op die kurator van die Louvré Museum in Parys. Die hoofverdagte is die hoofrolspeler, Tom Hanks, ‘n professor by Harvard, wat uiteindelik die groot misterie agter die moord ontrafel en in die proses sekere feite wat teruggaan tot by Leonardo Da Vinci (15 de Eeu) en selfs verder terug tot by die lewe van die Messias, aan die lig bring. Die kurator van die Louvré was bekend met hierdie feite en dit was juis hierdie kennis wat tot sy dood aanleiding gegee het. En dit is veral hierdie feite, of sogenaamde feite, wat met die Messias te make het, wat die kerk in ‘n krisis oor geloofwaardigheid gedompel het.
‘n Mens sou die vraag kon vra: Waaroor is al die geskarrel rondom hierdie film? Meeste van ons is reeds bekend met sekere van die uitsprake wat in die film (en in die boek) gemaak word. Dat die Messias voor sy dood getroud was met Maria Magdalena en dat sy hulle baba verwag het ten tyde van sy dood. Dat die "dissipel wat Y'shua liefgehad het" van wie ons lees in die Evangelie van Yahuganan, in werklikheid nie Yahuganan self was nie, maar Maria Magdalena. En dat die beeld wat van Maria Magdalena voorgehou word deur die kerk, naamlik dat sy ‘n prostituut was, ‘n vervalsing was wat die kerk gefabriseer het om Maria se "ware" identiteit te verberg. In die film word daar na Leonardo da Vinci se bekende skildery, die Laaste Avondmaal, verwys om sommige van hierdie beweringe te staaf.
Kom ons oriënteer onsself ‘n bietjie na aanleiding van die bohaai wat losgebars het rondom The Da Vinci Code. In die heel eerste plek, ek sien myself nie as deel van die kerk wat van die vroegste tye af vir haarself die lat gepluk het om die oorgelewerde en betroubare feite rondom die Messias te manipuleer en subtiel te verander, sodat dit by die leerstellinge en praktyke van die (aanvanklik deur en deur Rooms-Katoliek gesinde) kerk kan inpas nie. Daarmee sê ek geensins dat die aansprake wat in The Da Vinci Code oor Y'shua en Maria Magdalena gemaak word, waar is nie. Dit wil egter voorkom of sekere aspekte van die film (en veral die boek) mense se oë daarvoor kan oopmaak dat die vroeë kerk en haar leiers verantwoording sal moet doen vir die wyse waarop daar die afgelope 2000 jaar met die waarheid omgegaan is.
Op bladsy 232-233 van die boek maak die hoofkarakter ‘n aantal stellings wat sekerlik ook baie mense se hare sal laat rys, maar as ‘n mens dit werklik wil gaan toets, sal jy uitvind dat dit die waarheid is: "Historians still marvel at the brilliance with which Emperor Constantine converted the sun-worshipping pagans to Christianity. By fusing pagan symbols, dates, and rituals into the growing Christian tradition, he created a kind of hybrid religion that was acceptable to both parties … virtually all the elements of the Catholic ritual— the miter, the altar, the doxology, and the communion, the act of ‘God-eating’—were taken directly from earlier pagan mystery religions … By the way, December 25 is also the birthday of Osiris, Adonis, and Dionysus … Even Christianity’s weekly holy day was stolen from the pagans … Originally, Christianity honoured the Jewish Sabbath of Saturday, but Constantine shifted it to coincide with the pagan’s veneration day of the sun … To this day, most churchgoers attend services on Sunday morning with no idea that they are there on account of the pagan sun god’s weekly tribute—Sunday,"
Miskien is hierdie soort stellings wat in die boek gemaak word, en die manier waarop die film ook iets hiervan weerspieël, die eintlike rede vir die storm wat ontketen is. Die manier waarop die kerk nou al vir eeue lank sekere aspekte van die Messias en sy boodskap verdraai en vervals het en die onmeetbare skade wat dit vir baie mense meegebring het, laat ‘n mens baie sterk vermoed dat die Satan self, met al sy mag en sy bose planne, by hierdie proses betrokke was, en nog steeds is. Solank die ware feite rondom die boodskap en betekenis van die Messias verdraai en vir mense verberg word, is hy as die groot "Vyand" tevrede. Satan verteenwoordig immers die gees van die anti-messias wat reeds 2000 jaar lank aan die werk is (vgl. 1 Yahuganan 4:3). Daar is heelwat van ons wat die afgelope week bewus geraak het van ‘n intense geestelike stryd en ‘n onbekende gevoel van bedreiging rondom ons. Kan dit dalk deel wees van die Satan se benoude geskarrel omdat iets van sy bose werksaamhede oor die afgelope 2000 jaar deur hierdie film aan die lig gebring is?
Deur ‘n klein bietjie navorsing te doen oor die herkoms en agtergrond van sommige van die simbole en gebeure wat in The Da Vinci Code na vore kom, kan ‘n mens duidelike tekens sien van die Vyand se bemoeienis en betrokkenheid. In die film speel die sogenaamde "holy grail", die beker wat tydens die laaste avondmaal gebruik moes gewees het, ‘n belangrike rol. Daar is ‘n tradisie wat sê dat Yosef van Ramatayiem (Josef van Arimathea) in besit van hierdie beker was en dit later na Engeland geneem het, waar dit deel geword het van die verhale rondom King Arthur. Hierdie verhale is ingeweef in die Keltiese mitologie, waarin heidense gode, toordery en ‘n vermenging en verdraaiing van sekere waarhede van die Skrif ‘n belangrike rol speel. In die Keltiese mitologie word ook na die sogenaamde "Otherworld" verwys en die vroeë weergawe van die bekende fees, "Halloween", is as die "dood van die Otherworld" beskou.
Die kurator wat doodgemaak word in die film het ‘n aantal kode boodskappe nagelaat wat as leidrade sou dien om die misterie van Da Vinci te ontrafel. Drie van hierdie kode boodskappe is nagelaat in die vorm van anagramme wat sinspeel op die naam "Leonardo da Vinci" en twee van sy bekende skilderye: "O, draconian devil!" (Leonardo da Vinci); "Oh, lame saint!" (The Mona Lisa) "So dark the con of Man" (Madonna of the Rocks). Dis nie moeilik om die subtiele verwysings na die Satan en sy werksaamhede in hierdie kodes raak te sien nie. Die woord "con" in die laaste kode boodskap moet heel moontlik as afkorting van "contra" gesien word, wat dieselfde betekenis het as "anti" soos in Anti-messias". Daar is inderdaad ‘n donker sy aan die Anti-messias en die gees van die Anti-messias wat ek en jy moet raaksien en waarvoor ons te alle tye paraat moet wees.
Die groot Vyand, hy wat die mense-moordenaar en leuenaar van die begin af is, sal dit nie net gelate aanvaar dat sommige van sy eeu-oue leuens deur hierdie film, en die boek waarop dit gebaseer is, op so ‘n groot skaal aan die kaak gestel word nie. Vandat die boek van Dan Brown die eerste keer sowat drie jaar gelede op boekrakke verskyn het, is daar alreeds 60.5 miljoen kopieë gedruk. Wie is die mense op wie die Vyand hom gaan toespits, noudat sekere aspekte van die waarheid op so ‘n manier aan die lig gebring is? Die skrywer? Die uitgewersmaatskappy? Die filmbedryf, wat biljoene dollars met die film maak en baie sterker daaroor voel om sensasie te wek en mense te trek, as om die waarheid aan die lig te bring? Nee, ek dink nie die Vyand sal hierdie instansies probeer bykom nie. Hy sal húlle probeer bykom wat hulle lewens totaal en al op die waarheid gebou het en ‘n prys daarvoor betaal het en nie belangstel in sensasie en geld en populariteit nie. Hy sal hom toespits op diegene wat in hulle harte oortuig is van die waarheid en die krag van dinge wat byna terloops in die boek en die film na vore gebring word. "Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broerskap wat in die wêreld is. En mag die Elohiem van alle guns self, wat ons geroep het tot sy ewige voortreflikheid in die Messias Y'shua, nadat ons 'n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! Aan Hom die eer en die krag tot in alle ewigheid! Amein." ( 1 Kefa 5:8-11).