DIE "NOGTANS" ASPEK VAN GELOOF
By ‘n vorige geleentheid het ons ondersoek ingestel na die "nog-nie" aspek van geloof: Nie net is daar sekere dinge wat Yahweh vir sy volgelinge belowe het, maar wat Hy om verskeie (goeie) redes NOG NIE vir hulle gegee het nie; ook óns moet ontdek en bely dat daar sekere dinge is wat NOG NIE in plek is in ons eie lewens nie – dinge wat met traagheid en ongehoorsaamheid en die vleeslike begeertes van ons eie harte te make het.
Een van die mees merkwaardige eienskappe van die Elohiem wat ons aanbid, is dat Hy ons keer op keer verras met sy eindelose geduld en oorvloedige barmhartigheid. Selfs in tye dat ons diep onder die besef gekom het dat ons NOG NIE aan die standaard van die Woord voldoen nie, vind ons tot ons verbasing uit dat Hy, die regverdige maar ook goedgunstige Elohiem, NOGTANS na ons uitreik, NOGTANS wil vergewe en NOGTANS getrou bly aan dit wat Hy belowe het. In hierdie hele proses word ons as gelowiges voor ‘n keuse gestel waarin ons op een van twee maniere kan terugval op die aspek van "NOGTANS": (1) Ons kan ‘n houding inneem van: Al is Yahweh so getrou en so lankmoedig en so vol ontferming, gaan ek NOGTANS volhou om in my ou weë te wandel en my eie kop te volg, of (2) Ons kan ‘n houding inneem van: Al kry ek daagliks teenstand vanuit verskillende oorde en al loop ek my dikwels tromp-op teen teëspoed en terugslae in die wêreld daarbuite, gaan ek NOGTANS aan Yahweh en aan sy Woord vashou. Kom ons kyk na wat die Skrif vir ons leer oor hierdie aspek van NOGTANS en die keuse wat ons telkens in hierdie verband in ons eie harte moet maak …
Bemiedbar (Num) 14:43-44
Want die Amalekiete en die Kenaániete is daar voor julle, en julle sal deur die swaard val; omdat julle van Yahweh afvallig geword het, daarom sal Yahweh nie met julle wees nie. Nogtans het hulle vermetel gehandel om op die top van die berg te klim; maar die verbondsark van Yahweh en Mosheh het nie uit die kamp gewyk nie.Devariem (Deut) 8:18-19
Maar dink aan Yahweh jou Elohiem, dat dit Hy is wat jou krag gee om rykdom te verwerwe, dat Hy sy verbond kan bevestig wat Hy aan jou vaders met 'n eed beloof het, soos dit vandag is. Maar as jy nogtans Yahweh jou Elohiem vergeet en agter ander magtiges aan loop en hulle dien en voor hulle neerbuig, dan verseker ek julle vandag dat julle beslis sal omkom;YeshaYahu (Jes) 43:21-22
Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig. Nogtans het jy My nie aangeroep, o Yaákov, dat jy jou vir My sou vermoei het nie, o Yiesraél!YermeYahu (Jer) 11:7-8
Want Ek het julle vaders nadruklik gewaarsku op die dag toe Ek hulle uit Mietsrayiem laat optrek het tot vandag toe, vroeg en laat, en gesê: Luister na my stem! Nogtans het hulle nie geluister en geen gehoor gegee nie, maar hulle het gewandel elkeen in die verharding van sy bose hart. Daarom het Ek oor hulle gebring al die woorde van hierdie verbond wat Ek beveel het om te doen, maar wat hulle nie gedoen het nie.
Amos 4:11
Ek het julle omgekeer soos Elohiem Sedom en Amorah omgekeer het, sodat julle soos'n stuk brandhout was wat uit die vuur geruk is - nogtans het julle jul tot My nie bekeer nie, sê Yahweh.
MigaYah (Miga) 3:9-11
Hoor tog dit, hoofde van die huis van Yaákov en owerstes van die huis van Yiesraél! Julle wat in die reg 'n weersin het en al wat reg is, verdraai; julle wat Tsion bou met bloed en Yerushalayiem met onreg! Sy hoofde spreek vonnisse uit vir 'n geskenk, en sy priesters gee onderrig vir loon, en sy profete is waarsêers vir geld. Nogtans steun hulle op Yahweh en sê: Is Yahweh nie in ons midde nie? Geen rampspoed sal ons beleef nie!Mal’agi 1:2
Ek het julle liefgehad, sê Yahweh. Nogtans vra julle: Waarin het U ons liefgehad? Is Esau nie die broer van Yaákov nie? sê Yahweh. Tog het Ek Yaákov liefgehad,Iyov (Job) 19:25-26
Maar ek, ek weet: My Verlosser leef; en Hy sal as laaste oor die stof opstaan. En nadat hulle so my vel afgeskeur het, sal ek nogtans uit my vlees Eloha aanskou.Tehielliem (Ps) 27:3-4
Al word 'n kamp teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan 'n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek. Een ding het ek van Yahweh begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van Yahweh, om die lieflikheid van Yahweh te aanskou en te ondersoek in sy tempel.Tehielliem (Ps) 73:21-23
Toe my hart bitter gestemd en ek in my niere geprikkel was, toe was ek dom en het niks geweet nie; ek was 'n dier by U. Nogtans is ek voortdurend by U; U het my regterhand gevat.Tehielliem (Ps) 119:109-111
My lewe is voortdurend in my hand; nogtans vergeet ek u Torah nie. Die afvallige het vir my 'n vangnet gespan; nogtans het ek van u bevele nie afgedwaal nie. Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart.Gavakuk (Hab) 3:17
Alhoewel die vyeboom nie sal bloei en aan die wingerdstokke geen vrug sal wees nie, die drag van die olyfboom sal teleurstel en die saailande geen voedsel oplewer nie, die kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle sal wees nie - nogtans sal ek jubel in Yahweh, ek sal juig in die Elohiem van my verlossing.