DIE TYDIGE BOODSKAP VAN HOSHEA
Gedurende die afgelope drie en ‘n half weke, vandat Hubré in ’n motorbotsing betrokke was, het daar ‘n hele paar dinge gebeur wat ‘n mens laat besef het dat ons baie sensitief moet wees vir dit wat Yahweh moontlik deur hierdie gebeurtenis vir ons probeer sê. Daar is by baie van ons ‘n sterk vermoede dat dit wat rondom Hubré gebeur het, op een of ander manier ‘n profetiese betekenis het waarvan ons almal behoort kennis te neem. Ons het by ‘n vorige geleentheid reeds besin oor hierdie kwessie van hoe om teëspoed te verstaan en dit sal goed wees om net weer een aspek te beklemtoon voordat ons verder gaan. Hierdie aspek is baie belangrik vir ons eie verwerking en verstaan van so ‘n krisis.
Dit is naamlik die perspektief wat in die Woord na vore kom dat teëspoed, aan die een kant, eintlik altyd ‘n oorsaak het, maar aan die ander kant moet ons nooit probeer om slegs by en in onsself die oorsaak te soek vir elke stuk teëspoed of ellende wat ons tref nie. Soms lê die oorsaak wel by onsself – nie net in die sin van sonde nie, maar ook in die sin van onverskilligheid en onverantwoordelikheid, en dan moet ons verstandig genoeg wees om dit te erken en dit reg te stel. Maar soms lê die oorsaak ook by iemand anders – ‘n ander persoon of instansie se sonde of onverskilligheid of onverantwoordelikheid. En soms is die oorsaak nog verder verwyderd uit ons eie onmiddellike omgewing, in die sin dat dit wat mý getref het, nie deur my eie toedoen is nie, ook nie deur enige mens of instansie met wie ek direk te make het nie, maar dat dit eenvoudig (in ‘n meer algemene sin) gesien moet word as een van die negatiewe gevolge van sonde, wat sy tentakels (van Adam se tyd af) so in hierdie wêreld ingeslaan het, dat niemand en niks die impak daarvan kan vryspring nie.
Wat egter vasstaan, is dat Yahweh midde-in ons grootste krisisse, ongeag wat of wie die oorsaak daarvan is, by ons as gelowiges kom staan en vir ons sy grootheid wil kom wys en sy uitkoms kom aanbied. Soos wat Hy in die geval van die blinde man in Yahuganan 9 gedoen het. Om dit te kan raaksien en dit te kan ontvang, het ons geloof nodig. En die ingesteldheid van die hart om Hom toe te laat om sy volmaakte werk in ons te kom doen, al leef ons in ‘n onvolmaakte wêreld en al is ons hóé bewus van ons eie broosheid en ons eie verganklikheid.
Op meer as een manier is ons aandag deur dit wat hier met een jongmens gebeur het, oor die afgelope klompie dae en weke teruggevoer na die boodskap van die boek Hoshea. Toe ek gisteroggend by Hubré kom, het sy vir my gesê dat sy weet dat sy gister ontslaan sou word (al het alles daarop gedui dat sy nog nie gereed was om ontslaan te word nie). Toe ek haar vra hoe sy dit weet, het sy vir my Hoshea 6:1-3 gelees. Later het ons gehoor dat nog iemand in die gemeente in dieselfde periode op presies dieselfde gedeelte afgekom het. Gister was die derde dag vandat haar been uit traksie gehaal is en die einde van die derde week vandat sy in die hospitaal opgeneem is. Terwyl ons gewag het om finaal te hoor of sy ontslaan mag word, het Hubré vir die eerste keer met krukke in die hospitaal gang af geloop en ‘n mens kon jou herinner aan die woorde van Hoshea 11:3 "Ek self het vir Efrayiem leer loop". Toe die fisioterapeut later kom en vir haar verduidelik hoe sy op ‘n stoel moet sit en moet opstaan, het sy die beeld gebruik van ‘n swanger vrou – een van die bekendste beelde uit Hoshea (bv. 1:6; 1:8; 2:5; 9:11; 9:16; 10:14; 12:3; 13:13; 13:16). Toe ons met Hubré uit die hospitaal uitkom, val daar uit die bloute uit ‘n sterk bui reën – menslik gesproke heeltemal ontydig en onverwags, maar ek het onwillekeurig gedink aan Hoshea 6:3 "En laat ons ken - laat ons dit najaag om Yahweh te ken; sy opgang is so seker soos die dagbreek, en Hy sal tot ons kom soos die reën, soos die laat reëns wat die aarde besproei." Kom ons kyk vervolgens na hierdie vers in meer detail.
Die groter boodskap van Hoshea, saamgevat in Hoshea 6:3 …
Laat ons Yahweh ken (yadah)
Hoshea 2:8 Ja, sy het nie erken (yadah) dat Ek aan haar die koring en die mos en die olie gegee het nie, ook silwer vir haar vermenigvuldig het en goud, wat hulle vir Baál gebruik het.
Laat ons dit najaag om Yahweh te ken (radaf)
Hoshea 2:7 En sy sal haar minnaars agternaloop (radaf), maar hulle nie inhaal nie; en sy sal hulle soek, maar nie vind nie. Dan sal sy sê: Ek wil heengaan en terugkeer na my vorige man, want toe het ek dit beter gehad as nou.
Laat ons raaksien hoedat Yahweh deurbreek (yatsah)
Hoshea 9:13 Efrayiem, soos Ek dit sien na Tsor heen, is geplant (shatal) in 'n mooi omgewing, maar Efrayiem sal sy seuns na die moordenaar moet uitbring (yatsah).
Laat ons verstaan dat sy werke seker en vas is (kun)
Hoshea 2:14-17 Daarom (kun), kyk, Ek sal haar lok en haar in die woestyn lei en na haar hart praat. Dan sal Ek haar daarvandaan haar wingerde gee en die dal Agor tot 'n deur van hoop, en daar sal sy antwoord gee soos in die dae van haar jeug en soos die dag toe sy uit Mietsrayiem opgetrek het. En in daardie dag, sê Yahweh, sal jy My noem: My man; en jy sal my nie meer noem: My Baál nie. Dan verwyder Ek die name van die Baáls uit haar mond, sodat hulle by hul naam nie meer genoem sal word nie.
Laat ons Yahweh se aangesig ernstig en betyds begin soek (shagar)
Hoshea 5:15 Dan gaan Ek heen, Ek keer na my woonplek terug, totdat hulle skuld beken en my aangesig soek. In hulle nood sal hulle My soek (shagar)
Laat ons nie so blind wees dat ons Yahweh nie sien aankom nie (boh)
Hoshea 11:8-9 Hoe kan Ek jou oorgee, o Efrayiem, jou prysgee, o Yiesraél? Hoe kan Ek jou maak soos Admah, jou gelykstel met Tsevoíem: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek. Ek sal my gloeiende toorn nie laat geld nie, Ek sal Efrayiem nie weer te gronde rig nie; want Ek is El en nie 'n mens nie, die Afgesonderde in jou midde. En Ek sal nie kom (boh) in gramskap nie.
Laat ons die uitgiet van sy stortreën op die aarde nie verhinder nie (yarah)
Hoshea 10:12 Saai vir julle ooreenkomstig die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle 'n braakland, want dit is tyd om Yahweh te soek, totdat Hy kom (boh) en geregtigheid oor julle laat reën (yarah).