DIE VAAL KOL VAN ALKOHOL

Min mense sal dit ontken dat alkoholgebruik ‘n drastiese uitwerking op mense het – hetsy dit op die vlak van familie, beroep, sosiale groeperinge of die breër samelewing is. Hierdie uitwerking raak mense se gedrag, hulle gesprekke, hulle gesondheid, hulle gemoedstoestand, hulle gewoontes, hulle geloofwaardigheid en goeie naam, hulle gesonde oordeel en uiteindelik ook hulle geloof. Die kwessie van alkoholgebruik en geloof word in baie kringe vurig bespreek en daar is uiteenlopende menings hieroor wat ons baie lank kan besighou. Ons kan nie by ‘n geleentheid soos hierdie na al die fasette van hierdie kwessie gaan kyk nie. Ons kan nie eens al die gedeeltes in die Skrif wat oor wyn en sterk drank handel (omtrent 250 verse), ondersoek nie. Ons kan hoogstens na ‘n paar breë riglyne gaan kyk wat in die Skrif na vore kom en probeer om die vraag te beantwoord: Wat behoort jou en my houding hieroor te wees? Hoe moet ons optree sodat ons gedrag nie die "vaal kol" van alkohol in ons samelewing nog valer en nog meer van ‘n verleentheid maak nie?

Die probleme wat voortspruit uit alkoholmisbruik is meer as bekend. In Amerika sterf 65 mense elke dag op die land se hoofroetes as gevolg van alkohol. In Suid Afrika sterf daar meer as 2000 voetgangers per jaar wat dronk was toe die voorval van hulle dood plaasgevind het. Mense wat alkohol misbruik bring vier keer soveel tyd in hospitale deur as mense wat nie alkoholprobleme het nie. ‘n Oormaat alkohol inname is die grootste oorsaak van lewersiektes en lewersterftes in die wêreld. ‘n Opname in Amerika, ‘n paar jaar gelede, het aangedui dat 62% van jongmense onder 16 jaar minstens een keer al dronk was. My vermoede is dat hierdie syfer op die oomblik in Suid Afrika heelwat hoër is. In Engeland word daar jaarliks sowat 6000 jongmense onder die ouderdom van 16 jaar, in staatshospitale opgeneem as gevolg van alkohol verwante voorvalle. ‘n Mens kan net wonder wat die syfer in Suid Afrika is, wat ‘n paar jaar gelede die twyfelagtige prestasie behaal het dat hy beskik oor "one of the highest per capita alcohol consumption rates in the world". Ongeveer 95% van alle alkoholiste sterf as gevolg van die misbruik van alkohol en hierdie sterftes vind plaas op ‘n ouderdom ongeveer 26 jaar jonger as die normale lewensverwagting. So kan ‘n mens aangaan met die een statistiek na die ander wat hierdie vaal kol van alkohol net verder onderstreep. Dan het ons nog nie eens begin om oor die hartseer, pyn en vernietiging in alkohol-besoedelde gesinne en verhoudinge te praat nie.

Die Skrif plaas nie ‘n verbod teen die gebruik van alkohol, per sé, nie. Daar is mense wat ‘n saak hiervoor probeer uitmaak, wat probeer om onderskeid te maak in die Skrif tussen wyn met alkohol en wyn sonder alkohol en dan te sê dat oral in die Skrif waar wyn "goedgepraat" word, het ons te make met wyn sonder alkohol. Dit bring hulle dan uit by die standpunt dat die Skrif enige vorm van die gebruik van alkohol veroordeel. Dis egter baie duidelik dat dit nie is wat die Skrif probeer sê nie. In die lig van die oorweldigende negatiewe prentjie wat toenemend in die wêreld rondom alkoholmisbruik begin vorm aanneem het, is die vraag egter vir jou en my, en hierdie vraag is van die allergrootste belang: Wat moet ons doen in die lig van hierdie situasie? Wat moet ons doen om seker te maak dat die Naam van Yahweh nie deur ons optrede skade aangedoen word nie? Wat moet ons doen om nie net uit die moeilikheid te bly nie, maar ook ‘n opbouende rol te speel in wat ons rondom ons sien gebeur? Kom ons kyk na ‘n sterk paar beginsels wat in die Skrif na vore kom.

  1. Ons moet baie, baie seker maak dat ons nie in hierdie opsig aan die wêreld gelykvormig word nie (Rom 12:2). Wanneer ons alleen by die huis is, net soos wanneer ons tussen mense is, moet ons altyd onthou dat ons geroep is om afgesonder te wees, soos wat Yahweh afgesonder is (1 Kefa / 1 Petrus 1:15) en dat ons eie optrede, as mense wat die Naam van Yahweh bely, in alle omstandighede onberispelik moet wees (1 Kefa / 1 Petrus 2:12).
  2. Ons moet die feit aanvaar dat alkohol wat enigsins oormatig gebruik word, aanleiding gee tot ‘n verslapping van inhibisies, ‘n gebrek aan oordeel en ‘n verlaging in selfdissipline en selfbeheer en dat hierdie faktore, met verloop van tyd, byna altyd oorgaan in allerlei vorme van oortreding van die Torah. Iemand wat Yahweh en sy Torah liefhet, mag op geen manier toelaat dat dit gebeur nie.
  3. Een van die pertinente gevolge van ons geloof in die Messias is dat die sonde nie meer heerskappy oor ons voer nie (Rom 6:12) en dat ons nie meer volgens die begeerlikhede van ons vlees wandel nie (Efes 2:3). As wyn en alkohol vir ons in hierdie opsig ‘n struikelblok is, moet ons raaksien dat ons weer terugbeweeg het na waar ons was voordat ons die Messias leer ken het en ons volledig daarvan bekeer. Vir iemand wat ontdek dat alkohol ‘n groter rol in sy lewe speel as wat dit moet, maar tog ook nie die werk van die Messias ongedaan wil maak nie, is daar geen ander keuse nie as om so vinnig as moontlik heeltemal met alkohol te breek.
  4. Daar is duidelike uitsprake in die Skrif wat daarop neerkom dat die oormatige gebruik van wyn en sterk drank teen Yahweh se wil, en daarom sonde is. ‘n Mens dink hier aan Mieshleh / Spreuke 20:1 (Die wyn is 'n spotter, en sterk drank 'n lawaaimaker; en elkeen wat daardeur bedwelmd raak, is nie wys nie); YeshaYahu / Jesaja 5:11 (Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag laat opbly terwyl die wyn hulle verhit) en 1 Kefa / 1 Petrus 4:3 (Want dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye).
  5. Wyn (en die vrug van die wingerd) word in die Skrif dikwels in verband gebring met opregte en uitbundige dankbaarheid vir Yahweh se hand van seën wat oor sy mense was (Bereshiet / Gen 27:28; Devariem / Deut 7:13). Ons eie houding teenoor die vrug van die wingerd behoort dieselfde karakter te toon. As ons gebruik van wyn egter oorgaan in misbruik, dan is die klem nie langer op dankbaarheid, erkentlikheid en eerbied teenoor Yahweh nie.
  6. Gelowiges wat nie ‘n probleem het met die matige gebruik van alkohol nie, moet volgens die Skrif uiters sensitief wees wanneer hulle in die teenwoordigheid is van ander wat swakker in die geloof is of wat moontlik net ‘n geringe alkoholprobleem het. Ons behoort ons in hierdie opsig deur die beginsel van 1 Kor 8:13 te laat lei: (Daarom, as voedsel my broer laat struikel, sal ek in der ewigheid geen vleis eet nie, om my broer nie te laat struikel nie). Vgl. ook Rom 14:21.
  7. Die Skrif gee vir ons die volmaakte alternatief vir alkoholmisbruik (Efes 5:18): "Moenie dronk word van wyn nie - daarin is losbandigheid; maar word met die Gees vervul". Om met die Gees van Yahweh vervul te wees en om oormatig met sterk drank vervul te wees, sluit mekaar wedersyds uit. Kom ons neem vandag ‘n besluit in hierdie opsig wat nie net die beheer van ons lewe teruggee aan Yahweh nie, maar wat ook weer sy krag, sy eer en sy vrede sal teruggee aan ons!