DIE VERBORGE DINGE VAN ELOHIEM (2)

Ons het gesien dat daar nie net verborge dinge is wat oor ‘n sekere tydsverloop "weggesteek" word sodat dit op die regte tydstip geopenbaar kan word nie, maar dat die uitverkorenes self in ‘n sekere sin deur Yahweh weggesteek of verberg word, sodat hulle enersyds teen die Vyand bewaar en beskerm kan word, maar andersyds ook op die bestemde tyd "geopenbaar" kan word as die kinders van Elohiem – vgl. Rom 8:19 "Want die skepping wag met reikhalsende verlange op die openbaarmaking van die kinders van Elohiem." Op ‘n hele paar plekke in die Ou Verbond word die uitverkorenes beskryf as diegene wat deur Yahweh weggesteek of verberg word. So, byvoorbeeld Tehielliem 31:20 ("U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die samesweringe van mense; U steek hulle weg in 'n hut vir die twis van die tonge") en Tehielliem 83:3 ("Teen u volk smee hulle listig 'n plan en hou onder mekaar raad teen u verborgenes").

Daar is ‘n dinamika opgesluit in die proses van verberg en openbaar en Yahweh self is die Een wat hierdie dinamika geskep het en dit in die lewens van sy uitverkorenes na vore laat kom. Dit is wat onder meer in Tehielliem (Psalm) 25:14 uitgelig word: "Die verborgenheid van Yahweh is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak." So ook in Mieshleh (Spreuke) 3:32 "Want die verkeerde is vir Yahweh 'n gruwel, maar sy verborgenheid is met die opregtes." So verklaar die profeet Amos onomwonde: "Want die Meester Yahweh doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie." En Dawied is bekend vir sy uitspraak "Kyk, U het 'n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend." (Tehielliem 51:6). Ons kan gerus wees oor dit wat nog nie bekend gemaak is nie en ons oë slegs op Hom vestig wat gesê het: "Want daar is niks verborge wat nie openbaar sal word nie, en daar is niks weggesteek nie of dit moet in die lig kom" (Markus 4:22). Kom ons kyk vervolgens na nog ‘n aantal aspekte wat in die Skrif as deel van die "verborge dinge" van Elohiem aangedui word.

  1. Die verborgenheid van die huis van Dawied, wat deur Yahweh gesuiwer word deurdat Hy diegene wat hulleself verhef, tot ‘n val laat kom en aan andere in hulle plek ‘n ereposisie toeken. YeshaYahu 22:14-24 "Maar Yahweh van die leërskare het Hom in my ore geopenbaar en gesê … gaan in by daardie bestuurder, by Shevna, wat oor die paleis aangestel is, en sê: Wat het jy hier, en wie het jy hier, dat jy vir jou hier 'n graf uitgekap het soos een wat in die hoogte sy graf uitkap, wat in die rots vir hom 'n woning uithol? Kyk, Yahweh sal jou wegslinger, soos 'n man iets wegslinger …En in daardie dag sal Ek my kneg Elyakiem, die seun van GielkiYah, roep; en Ek sal hom jou gewaad aantrek en hom gord met jou gordel, en jou mag sal Ek in sy hand lê, en hy sal vir die inwoners van Yerushalayiem en vir die huis van Yehudah 'n vader wees. En Ek sal die sleutel van die huis van Dawied op sy skouer lê; en hy sal oopmaak, en niemand sal sluit nie; en hy sal sluit, en niemand sal oopmaak nie … En hulle sal aan hom ophang die hele swaarte van die huis van sy vader, die spruite en die wilde lote."
  2. Die verborgenheid van die groot benoudheid in die eindtyd en die bewaring van die uitverkorenes totdat hulle gered sal word en die ewige lewe sal ontvang. Daniel 11 en 12. "En nou sal ek jou die waarheid bekendmaak (11:2) … En die verstandiges onder die volk sal baie tot insig bring; maar hulle sal struikel deur swaard en vlam, deur gevangenskap en berowing, dae lank (11:33) … En van die verstandiges sal sommige struikel, om onder hulle loutering en reiniging en suiwering aan te bring tot die tyd van die einde - want dit sal nog duur tot op die vasgestelde tyd (11:35) … En in daardie tyd sal Migaél, die groot vors wat oor die kinders van jou volk staan, optree; en dit sal 'n tyd van benoudheid wees soos daar nie gewees het vandat 'n volk bestaan het tot op daardie tyd nie; maar in daardie tyd sal jou volk gered word, elkeen wat in die boek opgeskrywe staan (12:1) … En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak, sommige tot die ewige lewe en sommige tot groot oneer, vir ewig afgryslik (12:2) … En jy, Daniél, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe (12:4).
  3. Die verborgenheid dat Y'shua die Natsarener die ware Messias is wat sou kom en dat nie-Jode deur geloof in Hom mede-erfgename van die Yiesraeliete kan word. Efes 3:3-6 "dat Hy aan my deur 'n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid … dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in die Messias deur die evangelie". Vgl. ook Matt 16:25-26 "Aan Hom dan wat magtig is om julle te versterk volgens my evangelie en die prediking van Y'shua die Messias, ooreenkomstig die openbaring van die verborgenheid wat eeue lank verswyg is, maar nou geopenbaar is en deur die profetiese Skrifte bekend gemaak is onder al die heidene, volgens die bevel van die ewige Elohiem, tot gehoorsaamheid van die geloof."
  4. Die verborgenheid dat gelowiges deel van die liggaam van die Messias word en aan Hom verbind is soos ‘n bruid aan haar man. Efes 5:30-32 "Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene. Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef en hulle twee sal een vlees word. Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op die Messias en die gemeente."
  5. Die verborgenheid van die lewe van die gelowige wat dieselfde patroon volg as die lewe van die Messias. "Want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met die Messias verborge in Elohiem. Wanneer die Messias, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in voortreflikheid geopenbaar word. Maak dood dan julle lede wat op die aarde is, naamlik hoerery, onreinheid, hartstog, slegte begeertes en gierigheid … Maar nou moet julle ook dit alles aflê … omdat julle die oue mens met sy werke afgelê het en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper."
  6. Die verborgenheid van die wetteloosheid wat in die laaste dae hoogty sal vier en waardeur baie mense mislei sal word. 2 Tess 2:7-11 "Want die verborgenheid van die wetteloosheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word … hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerlei kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerlei verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nie. En daarom sal Elohiem hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo."
  7.  

  8. Die verborgenheid van die Antimessias en die groot Bavel wat sal dronk word van die bloed van die afgesonderdes en sal oorlog voer teen die Lam. Openbaring 17:6-14 "En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die afgesonderdes en van die bloed van die getuies van Y'shua, en ek het my grootliks verwonder toe ek haar sien. Toe sê die boodskapper vir my: Waarom het jy jou verwonder? Ek sal jou die verborgenheid van die vrou vertel en van die dier met die sewe koppe en die tien horings, wat haar dra … Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier … Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin want Hy is die Meester van die meesters en die Koning van die konings en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou."