Daar is baie dinge wat verband hou met die nuwe hemel en die nuwe aarde waarna ons as gelowiges kan uitsien, maar dit moet sekerlik een van die mees onbeskryflike en mees ondenkbare vooruitsigte wees dat daar ‘n tyd gaan kom dat ons vir Yahweh self in al sy majesteit en sy grootheid op sy skitterende troon sal sien sit. Die profeet YeshaYahu het vir Yahweh in ‘n visioen op ‘n hoë en verhewe troon gesien, terwyl sy some die tempel gevul het. Skitterende hemelwesens het rondom die troon gevlieg en uitgeroep: Afgesonder, afgesonder, afgesonder is Yahweh van die leërskare. Die hele aarde is vol van sy grootheid! Die geluid van hulle stemme was so oorverdowend dat die drumpels van die tempel gebewe het en die tempel vol rook geword het. Die profeet wat dit alles aanskou het, kon uiteindelik maar net uitroep: "Wee my, ek is verlore! Want ek is ‘n man onrein van lippe en woon onder ‘n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, Yahweh van die leërskare, gesien!" (YeshaYahu 6:1-5). Dit laat mens wonder wat ons reaksie sal wees as daardie onbeskryflike en verruklike oomblik vir ons moet aanbreek.
Die Hebreeuse woord vir "troon" lig die sluier so ‘n klein bietjie, sodat ons (net naastenby) kan verstaan waarom die troon van Yahweh so ‘n geweldige groot "gesig" is om na uit te sien. Die woord is "kissêh" en word heel waarskynlik van twee verwante woorde afgelei, naamlik "kasah", wat beteken "om (op) te vul of te bedek" en "kus" (uitgespreek: "koes") wat beteken "om bymekaar te hou (soos ‘n beker water bymekaar hou)". Hieruit kan ons minstens drie dinge aflei wat moontlik mag lig werp op die grootsheid van Yahweh se troon. (1) Sy troon is dit wat alles in die heelal bymekaar hou – wat alles orden en wat aan alles sin gee; (2) Sy troon is die finale en hoogste "covering" wat daar is – die bron van outoriteit, van beskerming en van verantwoording, voor wie niemand uiteindelik kan ontvlug nie; en (3) Sy troon en die voorreg om voor sy troon te staan te kom, sal vir jou en my die hoogste vorm van vervulling wees wat daar is – niks in hierdie lewe kan groter vervulling bied as dit nie!
Die troon van Yahweh is een van die mees sentrale temas in die boek Openbaring. Die woord "troon" kom 42 keer voor in Openbaring – drie keer soveel as in die res van die Nuwe Verbond, gesamentlik. Dis veral in hoofstukke 4 en 5 waar ons ‘n uitvoerige beskrywing van die troon van Yahweh het. Kom ons kyk na sommige van die gesigspunte wat hier (en op ander plekke in Openbaring) na vore kom.
- OP DIE TROON: die Een wat al ons aanbidding waardig is. 4:2 En dadelik was ek in die Gees, en kyk, daar staan 'n troon in die hemel en Een sit op die troon; 4:9-11 En elke keer as die lewende wesens grootheid en eer en danksegging gee aan Hom wat op die troon sit, wat tot in alle ewigheid lewe, val die vier en twintig ouderlinge neer voor Hom wat op die troon sit, en aanbid Hom wat tot in alle ewigheid lewe, en werp hulle krone voor die troon en sê: U is waardig, o Yahweh, om te ontvang die grootheid en die eer en die krag, want U het alles geskape en deur u wil bestaan hulle en is hulle geskape.
- RONDOM DIE TROON: vier lewende wesens, 24 ouderlinge en ‘n skare boodskappers, almal gefokus op die Een wat op die troon is. 7:11-12 En al die boodskappers het rondom die troon en die ouderlinge en die vier lewende wesens gestaan, en hulle het voor die troon op hulle aangesig neergeval en Elohiem aanbid en gesê: Amein! Die lof en die grootheid en die wysheid en die danksegging en die eer en die krag en die sterkte aan ons Elohiem tot in alle ewigheid! Amein.
- VOOR DIE TROON: ‘n groot menigte verlostes wat niemand kon tel nie. 7:9-10 Na hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was 'n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande; en hulle het met 'n groot stem geroep en gesê: Verlossing aan ons Elohiem wat op die troon sit, en aan die Lam!
- IN DIE MIDDEL VAN DIE TROON: ‘n Lam asof Hy geslag is. 5:6-10 En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar 'n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van Elohiem is wat uitgestuur is oor die hele aarde. Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit; en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die afgesonderdes is. Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir Elohiem met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir ons Elohiem gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.
- VANUIT DIE TROON: ‘n stem soos die geluid van baie waters wat redding aankondig 19:5-8 En 'n stem het uit die troon uitgegaan en gesê: Prys ons Elohiem, al sy diensknegte, en julle wat Hom vrees, klein en groot! En ek het iets gehoor soos die stem van 'n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: HalleluYah! want Yahweh Elohiem, die Almagtige, het die koningskap aanvaar. Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die eer gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die afgesonderdes. 22:1 En hy het my getoon 'n suiwer rivier van die water van die lewe, helder soos kristal, wat uitstroom uit die troon van Elohiem en van die Lam.
- TOT BY DIE TROON: die gebede en liedere van die gelowiges. 8:3-4 En 'n ander boodskapper het gekom en met 'n goue wierookbak by die altaar gaan staan, en baie reukwerk is aan hom gegee, om dit met die gebede van al die afgesonderdes op die goue altaar voor die troon te lê; en die rook van die reukwerk het met die gebede van die afgesonderdes uit die hand van die boodskapper opgegaan voor Elohiem. 14:2-3 En ek het 'n geluid uit die hemel gehoor soos die geluid van baie waters en soos die geluid van 'n harde donderslag, en ek het die geluid gehoor van siterspelers wat speel op hulle siters. En hulle het 'n nuwe lied gesing voor die troon en voor die vier lewende wesens en die ouderlinge; en niemand kon die lied leer nie, behalwe die honderd vier en veertig duisend wat van die aarde vrygekoop is.
- SAAM OP DIE TROON: hulle wat oorwin het, deurdat hulle die Lam volg, waar Hy ook al heengaan. 3:21 Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om saam met My te sit op my troon, soos Ek ook oorwin het en saam met my Vader op sy troon gaan sit het. 14:4-5 Dit is hulle wat hulself met vroue