DIMENSIES VAN DIE OPSTANDING IN HANDELINGE

Die sentrale tema van die boek Handelinge is die opstanding van die Messias. Dis te verstane, want nie net handel die boek oor die periode direk ná die opstanding van die Messias nie, maar die hoofinhoud van die boodskap van die apostels was dat Yahshua as waardige draer van titels soos "Seun van Elohiem", "Messias", "Meester" en "Redder" verklaar en bewys is, deurdat Hy deur sy Vader uit die dood opgewek is. Dit is interessant om daarop te let dat die begrip opstanding 11 keer in hierdie boek voorkom – elke keer met verwysing na die opstanding van die Messias. Net so kom die begrip "opwek" (of "opgewek") ook 11 keer in Handelinge voor – ook elke keer met verwysing na die opstanding (of opwekking) van die Messias. Die begrip "opstaan" (of "opgestaan") kom 25 keer in die boek voor, maar net 2 hiervan verwys na die opstanding van Yahshua. In die oorblywende 23 verse verwys "opstaan" of "opgestaan" 17 keer na iemand wat in 'n hoedanigheid van "grootheid" of leierskap opgestaan het en sekere dinge in die openbaar bekend gemaak het. Dis duidelik dat die Messias se "opstaan" 'n direkte gevolg was van sy opwekking deur Yahweh en nie 'n "opstaan" omdat Hy mense se aandag op Homself of sy eie boodskap wou vestig nie.

Act 1:1 Die eerste verhaal, Theofilus, het ek opgestel oor alles wat Yahshua begin doen en leer het tot op die dag dat Hy opgeneem is, nadat Hy aan die apostels wat Hy uitverkies het, deur die Afgesonderde Gees bevele gegee het;aan wie Hy ook, na sy lyde, Hom lewend vertoon het deur baie kentekens, terwyl Hy gedurende veertig dae aan hulle verskyn het en oor die dinge van die koninkryk van Elohiem gepraat het (die koninkryk van Elohiem kan slegs verstaan word in die lig van die opstanding van Yahshua).

Act 2:24 Hom het Elohiem opgewek, nadat Hy die smarte van die dood ontbind het, omdat dit onmoontlik was dat Hy daardeur vasgehou sou word (die dood kon Yahshua nie "vashou" nie, nie omdat Hy oor bonatuurlike kragte beskik het nie, maar omdat daar niks is wat Yahweh se plan sou stuit nie).

Act 2:31 het hy, omdat hy dit vooruit gesien het, gepraat van die opstanding van die Messias, dat sy siel nie in die doderyk agtergelaat is en sy vlees ook nie verderwing gesien het nie (slegs die opstanding uit die dood kan waarborg dat ons siel nie in die doderyk agtergelaat word nie).

Act 3:15 en die Leidsman tot die lewe het julle doodgemaak. Elohiem het Hom uit die dode opgewek ... (deur sy opstanding lei Yahshua ons tot die lewe).

Act 4:10-11 laat dit bekend wees aan julle almal en aan die hele volk van Yiesraél dat deur die Naam van Yahshua die Messias, die Natsarener, wat julle aan 'n folterpaal opgehang het, maar wat Elohiem uit die dode opgewek het, dat deur Hom hierdie man gesond voor julle staan. Hy is die steen wat deur julle, die bouers, verag is, wat 'n hoeksteen geword het (sy opwekking uit die dood is die hoeksteen van ons geloof en skep die moontlikheid van groot wonderwerke).

Act 4:33 En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Meester Yahshua, en groot guns was oor hulle almal (die opstanding is ook ons bron van krag, getuienis en guns in hierdie wêreld).

Act 5:30-31 Die Elohiem van ons vaders het Yahshua opgewek, wat julle omgebring het deur Hom aan 'n folterpaal te hang. Hom het Elohiem as Leidsman en Verlosser deur sy regterhand verhoog om aan Yiesraél bekering en vergifnis van sondes te skenk (die opstanding bring sin en betekenis aan die oproep tot bekering en vergifnis).

Act 7:56 En hy het gesê: Kyk, ek sien die hemel geopen en die Seun van die mens aan die regterhand van Elohiem staan (die opstanding bring ons voor die realiteit van Yahshua aan die regterhand van Yahweh).

Act 8:33-36 In sy vernedering is sy oordeel weggeneem, en wie sal sy geslag opskryf? Want sy lewe word van die aarde weggeneem. En die hofdienaar antwoord en sê vir Filippus: Ek bid u, van wie sê die profeet dit, van homself of van iemand anders? En Filippus het sy mond geopen en van hierdie Skrif af begin en die goeie nuus van Yahshua aan hom verkondig. En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Kyk, daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? (die goeie nuus van Yahshua is die nuus dat Yahshua uit die dood opgestaan het en hierdie feit is die sleutel tot die doop).

Act 9:3-5 En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik 'n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor 'n stem vir hom sê: Shaúl, Shaúl, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Meester? En Hy antwoord: Ek is Yahshua wat jy vervolg (kragtens sy opstanding uit die dood, kan Yahshua vandag nog aan mense op aarde verskyn).

Act 10:40-41 Hom het Elohiem op die derde dag opgewek en beskik dat Hy sou verskyn, nie aan die hele volk nie, maar aan getuies wat deur Elohiem voorheen verkies was, aan ons wat met Hom saam geëet en gedrink het nadat Hy uit die dode opgestaan het (Yahweh self het getuies in plek gestel wat moes verseker dat die goeie nuus van Yahshua almal bereik wat vir die ewige lewe bestem is).

Act 13:32 En ons bring julle die goeie tyding van die belofte wat aan die vaders gedoen is, dat Elohiem dit aan ons, hulle kinders, vervul het deur Yahshua op te wek, soos daar ook in die tweede psalm geskryf is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer (hierdie profesie het dus nie die betekenis wat voorstanders van die Drie-eenheid wil hê nie, nl. dat Yahshua van ewigheid af gegenereer, maar nie gemaak is nie).

Act 17:1-3 Toe het hulle deur Amfipolis en Apollonië gereis en in Thessalonika gekom, waar 'n sinagoge van die Yehudiem was. En volgens sy gewoonte het Shaúl na hulle gegaan en drie Shabbatte lank met hulle gepraat uit die Skrifte en dit uitgelê en aangetoon dat die Messias moes ly en uit die dode opstaan, en gesê: Hierdie Yahshua wat ek aan julle verkondig, is die Messias (Shaúl gebruik die Shabbat om mense van die opstanding te leer, maar die Christendom gebruik die opstanding om mense téén die Shabbat te leer).

Act 17:31 omdat Hy 'n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur 'n Man wat Hy aangestel het, en Hy het hiervan aan almal sekerheid gegee deur Hom uit die dode op te wek (die opstanding is die grootste bewys dat Yahshua deur Yahweh aangestel is).

Act 23:6 En omdat Shaúl geweet het dat die een deel uit Tsaddukiem en die ander uit Perushiem bestaan, het hy in die Raad uitgeroep: Broeders, ek is 'n Perushiet, die seun van 'n Perushiet. Oor die hoop en die opstanding van die dode staan ek voor die gereg (die geloof in die opstanding is ons grootste enkele bron van hoop).

Act 24:15 en 'n hoop op Elohiem het, 'n hoop wat hulle self ook verwag, dat daar 'n opstanding sal wees van regverdiges sowel as onregverdiges (die Skrif leer van 'n opstanding van beide die regverdiges as die onregverdiges, op verskillende tye).

Act 25:19-20 maar hulle het met hom sekere twisvrae oor hulle eie geloofsopvattinge gehad en oor 'n sekere Yahshua wat dood is, van wie Shaúl verklaar het dat Hy lewe. En omdat ek met die ondersoek hiervan verleë was, het ek gevra of hy na Yerushalayiem wou gaan en daar oor hierdie dinge teregstaan (die "wysheid" van hierdie wêreld maak dat mense verleë is oor die geloof in die opstanding).

Act 26:22-23 Maar omdat ek hulp van Elohiem ontvang het, staan ek tot vandag toe en getuig aan klein en groot, en praat niks behalwe wat die profete en ook Mosheh gesê het dat sou gebeur nie: dat die Messias moes ly en die eerste wees uit die opstanding van die dode, en 'n lig aan die volk en die heidene sou verkondig (die opstanding uit die dood is 'n vervulling van die profesieë oor Messias).