DAWIED SE GIBBORIEM

2 Shemuel 23 word ingelui met die kort, maar betekenisvolle aankondiging: "En dit is die laaste woorde van Dawied ...". 'n Mens wonder wat alles ingesluit sal wees onder die laaste woorde van Dawied. Daar is meer direkte aanhalings van Dawied ingesluit in die Skrif as van enige ander mens wie se gedagtes en woorde waardig genoeg geag is om ingesluit te word by die onverganklike Woord van Yahweh. 'n Mens kan verwag dat Dawied se laaste woorde iets besonders behoort te wees. En so is dit inderdaad. Dit kon net sowel bekend gestaan as Tehielliem 151. Hy begin deur te se dat dit die Gees van Yahweh is wat in hom praat en die Rots van Yiesrael wat tot hom spreek. Dis meer as net sy eie gedagtes. Dit is 'n uitspraak met verreikende implikasies. Dit gaan oor Dawied self, maar ook oor Iemand groter as Dawied. Iemand wat 'n Heerser oor mense is - 'n heerser in die vrees van Elohiem. Iemand wat vergelyk word met die môrelig by sonsopgang. Iemand wat sal toesien dat Dawied se huis altyd by Yahweh sal wees en dat die ewige verbond tot in die fynste detail in vervulling gaan. Iemand wat self soos 'n Spruit ("branch") uit die aarde opkom en wat sal maak dat ander ook soos spruite uit die aarde sal opkom (of: sal opstaan). Iemand soos Y'shua, die Messias uit die nageslag van Dawied.

In vers 8 kom daar 'n tweede aankondiging, byna onverwags, omdat dit lyk of dit niks met die voorafgaande te make het nie: "Dit is die name van die helde wat Dawied gehad het ...". Die helde van Dawied ("gibboriem") staan nie los van die woorde van Dawied ("devariem") nie. Soos die eerste 7 verse 'n dieper betekenis het en heenwys na die Messias, só het die laaste 32 verse 'n dieper betekenis en wys dit heen na hulle wat aan die Messias behoort - almal van hulle is "gibboriem" - helde, magtige manne en vroue, reuse in die geloof, onverskrokke in hulle ywer en lojaliteit teenoor hulle Meester, beklee met 'n innerlike sterkte wat jy nie aldag in die wêreld sien nie. In 1 Shemuel 22:2 lees ons hierdie woorde: "Verder het by Dawied vergader elkeen wat in benoudheid was, en elkeen wat 'n skuldeiser gehad het, en elkeen wat verbitterd was; en hy het owerste oor hulle geword, sodat daar omtrent vier honderd man met hom saam was." Van hierdie 400 word omtrent 10% (37, om presies te wees) uitgesonder in 2 Shemuel 23 en hulle word "Gibboriem" genoem - hulle wat geen vrees vir 'n mens geken het nie, omdat hulle die vrees van Yahweh in hulle gehad het. Dis die patroon wat ons hemelse Bevelvoerder dikwels volg: Hy kies die eenvoudiges en die ellendiges van hierdie wêreld en maak bulle deel van sy leermag waarin hulle geleer word wat moed en durf en deursettingsvermoë werklik beteken. Nie almal slaag die toets nie, maar die handjievol wat deurdruk, word as waardig genoeg geag om in dieselfde verslag as die van hulle Meester se laaste woorde opgeneem te word.

Die eerste drie helde wat ook as die grootstes beskryf word, is Adino die Etsniet; Eliazar, die Agogiet en Shamma, die Harariet. Hierdie drie word vir hulle besondere dapper optrede uitgesonder. Adino, wat besondere wysheid aan die dag gele het (dit kan afgelei word uit die benaming "Tagkemoniet') en bereid was om teen 800 man op te staan en hulle almal verslaan het. Eliazar en Shamma, onderskeidelik, wat by twee verskillende geleenthede bereid was om onder groot druk te bly staan toe die res van Yiesrael voor die Pelieshtyne gevlug het en verseker het dat daar groot oorwinnings behaal is. Dit is interessant om te let op die werkwoorde wat elkeen van hierdie drie helde se strategie beskryf waarmee hulle in die stryd betrokke geraak het. Adino se gevegstrategie word met die woorde "Yoshev-Bashevet" beskryf. Dit dui daarop dat hy (byna stilweg) op een plek gebly het (Ietterlik: "gesif' het) en hom nie in enige ander koers laat indwing het nie juis daarin was sy wysheid opgesluit. Eliazar se gevegstrategie word met die woord "garaf" beskryf. Letterlik beteken dit "uitdaag, ontbloot, ontmasker, minag (Engels: "defy"). En Shamma se gevegstrategie word beskryf met die woorde "yatsav" (om vas te staan, sonder om te wankel) en "natsal" (om te verdedig of te herwin of terug te neem).

Dieselfde strategieë sal wondere verrig in die lewens van die volgelinge van Y'shua, die Messias. Soms is dit nodig om soos Adino bonatuurlike wysheid aan die dag te le en op een plek te bly - selfs 'n lae profiel te handhaaf as dit nodig is - en nie deur die massas daarbuite van stryk gebring word of deur mense omgepraat word om op te spring en in 'n magdom aktiwiteite betrokke te raak nie. Soms is dit weer nodig om soos Eliázar die vyand en sy sluwe planne tromp-op te loop en dit te ontmasker vir wat dit werklik is. Van die begin tot die einde moet ons soos Shamma vasstaan en uithou en volhard, sonder om te wankel, sodat ons uiteindelik ons beloning van die Meester kan ontvang. Dat daar 'n stryd is om te stry, is gewis. Soos Shaul is ons geroep om die boodskap van waarheid met alles wat in ons is, te verdedig ("... aangesien julle almal in my boeie sowel as in die verdediging en bevestiging van die evangelie my deelgenote in die guns is" - Filippense 1 :7). Die vyand het genoeg daarin geslaag om te steel en te vernietig en te verwar. Ons het die mandaat ontvang om dit wat weggeneem en vervals is, weer te herwin en terug te neem. Sal daar van jou en my gesê kan word dat ons "gibboriem" was omdat die waarheid van die Woord en die waarheid van die Messias met ons lewens - en met die tyd en die middele tot ons beskikking - verdedig het?

Die vierde persoon wat by name genoem word, is Avishai. Opvallend in die twee verse wat oor hom handel (vers 18 en 19) is die herhaalde verwysing na die getal drie en drie honderd (hy was hoof van die drie; hy het sy spies geswaai oor die drie honderd; hy het 'n naam gehad onder die drie; hy was onder die drie geëer; tot by die eerste drie het hy nie gekom nie). Die Hebreeuse woord vir "drie" kom van die stam "shalash" wat met die letter "shin" begin en ook met dieselfde letter eindig. Die woord beteken letterlik "om iets intensief te doen o'f in die intensiewe trap voor te stel". In die genoemde twee verse kom daar (behalwe die woord "drie") nog ander woorde ook voor waarin die letter "Shin" gehoor kan word (bv. "rosh" wat "hoof" beteken; "shem" wat "naam" beteken en ook Avishai se eie naam). Die letter "shin" in Hebreeus het drie opvallende punte wat met 'n tuinvurk of drie spiese of die letter "W" vergelyk kan word. Dalk moet ons hierin 'n verborge aanduiding sien dat die "gibboriem" van Yahweh, hulle is wat nie met een of twee tevrede is nie, maar deurdruk totdat hulle seker is die vyand is verslaan of die stryd is gewen of die boodskap het tuisgekom. Intensiteit en vurigheid van gees is 'n eienskap wat dikwels jammerlik ontbreek by diegene wat by die leër van Yahweh aansluit.

Die vyfde persoon van wie daar spesiale melding gemaak word, is BenaYah, wie se naam beteken: "Yah het gebou" of "Opgebou deur Yah". Alles wat van BenaYah gesê word – onder meer dat hy twee manne van Moav verslaan het wat met leeus vergelyk kan word ("ariel") en ook dat hy letterlik (eenkeer in 'n put) 'n leeu ("ari") verslaan het - kan daaraan toegeskryf word dat hy toegelaat het dat Yahweh die Bouer van sy lewe was en dat hy hom deur die Almagtige laat opbou en laat vorm het. Vir hulle wat besig is met Yahweh se bouwerk hier op aarde, is leeus - ja, selfs die magte van Moav en Mietsrayiem - nie te groot om te bowe te kom nie. Die Hebreeuse woorde vir seun en dogter ("ben" en "bat") is ook afgelei van die woord "banah" wat "bou" beteken. Dit wil se: As ek myself as 'n seun of 'n dogter van Elohiem beskou, beteken dit dat ek my aangemeld het om deel te word van die bouwerk en die bouproses waarmee Yahweh hier op aarde besig is. Die doel van hierdie hele proses is om die hele gemeenskap van gelowiges op te bou tot 'n verserkte stad waarin die vyand nie kan deurdring nie en wat die magte van hierdie eeu nie kan vernietig nie. Kom ons meld ons aan vir die bouprojek van Yahweh!