Die Voortreflikheid van die Waarheid

Toe Y'shua kort voor sy teregstelling voor Pilatus moes verskyn, het Hy onder meer vir Pilatus gesê: "Hiervoor is ek gebore en hiervoor het Ek in die wêreld gekom: om vir die waarheid te getuig." Pilatus se antwoord het boekdele gespreek: "Wat is waarheid?" Vandag worstel derduisende mense nog steeds met dieselfde vraag. Wat is waarheid? Shaul skryf aan die Korintiërs dat sy bediening daaroor gaan om van die skandelike dinge afstand te doen en die waarheid aan die lig te bring (2 Kor 4:2). Die vraag bly egter: Is dit maklik om hierdie waarheid uit te ken en uit te leef? Weet ‘n mens altyd presies hoe om te maak soos 2 Kor 13:8 sê: Ons doen niks téén die waarheid nie, maar wel vír die waarheid? Is ons nie soms ook maar soos hulle wat hulle hele lewe lank leer, maar nooit tot kennis van die waarheid kom nie (2 Tim 3:7)? Weet ons presies hoe om ons lendene met die waarheid te omgord, soos Efes 6:14 sê? Yahweh wil hê dat alle mense tot kennis van die waarheid moet kom (1 Tim 2:4). Wat kan ek en jy doen om seker te maak dat ons hierdie begeerte van die Vader eerbiedig? Wat kan ons doen om konsekwent die woord van die waarheid reg te sny, soos 2 Tim 2:15 sê? Is ons werklik getrou aan ons roeping om die huis of gemeente van Yahweh hier op aarde te wees wat as pilaar en grondslag van die waarheid optree?

As ek die Skrif reg verstaan, dan is "waarheid" nie een spesifieke entiteit, soos "die Shabbat" of "die Naam van die Vader" of "die Torah" of "die Messias" of "die nuwe verbond" nie. Waarheid is ook nie ‘n ingewikkelde en abstrakte sisteem van leerstellinge wat net deur geleerde mense ontdek kan word nie. Nee, waarheid is die teenoorgestelde van al die leuens en die valshede en die halwe waarhede en die menslike leerstellinge en die afgewaterde formules en die ongehoorsaamheid en die afwykende gedragspatrone van die mense van hierdie wêreld. Waarheid bestaan nie uit ‘n nuwe stel formules en leerstellinge nie. Dit is eenvoudig en duidelik omlyn. Dit is gebaseer op die duidelike en onverdraaide boodskap van die Skrif. Dit stem ooreen met die karakter en werkswyse van Yahweh, die enigste bron van waarheid. Waarheid verander nie elke nou en dan soos die omstandighede in die wêreld verander nie. Maar waarheid is ook nie rigied en onbuigsaam en ongenaakbaar nie. Inteendeel, die waarheid maak vry (Yahuganan 8:32); dit bring blydskap (1 Kor 13:6); dit gaan gepaard met die salwing van Yahweh (1 Yahuganan 2:20-21); dit bly in jou, maak nie saak wat gebeur nie (2 Yahuganan 1:2).

Die een wat hom met die waarheid besig hou is nie bang om na die lig te kom nie (Yahuganan 3:21); die een wat die waarheid liefhet, verbly hom in die getuienis van Y'shua (Yahuganan 15:26); die een wat die waarheid najaag, het ‘n ingesteldheid en ‘n ingeboude gereedheid vir die toekoms (Yahuganan 16:13); die een wat die pad van die waarheid bewandel, hou hom nie besig met fabels en gebooie van mense nie (Titus 1:14); die een wat die waarheid in hom het, maak groot erns daarmee om die gebooie van Yahweh te bewaar (1 Yahuganan 2:4); die een wat uit waarheid gebore is, praat nie net nie, maar doen ook (1 Yahuganan 3:18-19).

Waarheid is nie ‘n "nice to have" nie. Dit is krities noodsaaklik dat ons die waarheid sal najaag en dit alleen sal aanhang. In Yahuganan 4:23 lees ons hierdie woorde: "Maar daar kom 'n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom so aanbid." Yahweh soek mense wat die waarheid liefhet en dit doen. Hy soek nie mense wat hulle voelers uitsteek na die waarheid en dan net daarna omdraai en weghardloop omdat die kostes eenvoudig vir hulle te veel is nie. As Y'shua onomwonde verklaar het: Ek is die weg en die waarheid en die lewe – niemand kom na die vader behalwe deur My nie (Yahuganan 14:6), dan kan ons nie die belangrikheid van Y'shua afwater of ondergeskik maak aan enige ander sogenaamde waarheid nie. Shaul skryf aan die Romeine dat hulle wat aan die waarheid ongehoorsaam is, is eiesinnig en gehoorsaam aan die ongeregtigheid en oor hulle sal die toorn en die grimmigheid van Yahweh kom (Rom 2:8). Elkeen wat met die waarheid gekonfronteer word, staan voor ‘n dubbele verantwoordelikheid: (1) Wat gaan ek self met hierdie waarheid maak? en (2) Wat gaan ek doen om hierdie waarheid by ander uit te bring?

Daar is natuurlik ook ‘n prys wat betaal word deur hulle wat die waarheid aangryp en dit deel van hulle lewens maak. Om die pad van die waarheid te loop is nie maanskyn en rosegeur nie. Ons sien dit nêrens duideliker as in dit wat met die Messias gebeur het nie. In Yahuganan 8:40 hoor ons Hom sê, in gesprek met die Yehudiem: "Julle probeer om My om die lewe te bring, iemand wat aan julle die waarheid vertel het, wat Ek van Elohiem gehoor het." Die Messias moes uiteindelik met sy lewe boet omdat Hy vir die waarheid opgestaan het. Alles dui daarop dat dieselfde tipe vervolging ook die volgelinge van die Messias te beurt sal val. ‘n Mens lei dit af op baie plekke in die Skrif, onder meer in die bekende gebed van die Messias in Yahuganan 17: "Sonder hulle af in u waarheid; u woord is die waarheid. Soos U my gestuur het in die wêreld, het Ek ook hulle in die wêreld gestuur. En Ek sonder Myself af vir hulle, sodat hulle ook in waarheid afgesonder kan wees (Yahuganan 17:17-19). Dis hierdie afsondering in die waarheid, of ter wille van die waarheid, wat maak dat die gelowiges altyd ‘n teiken in hierdie wêreld sal wees.

Dat daar ‘n groot weerstand teen die waarheid is, van die kant van mense wat nie die waarheid ken nie, is baie duidelik. Ons sien dit in die Skrif, maar ons weet dit ook uit eie ervaring. In Yahuganan 14:17 praat die Messias van die Gees van die waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat dit Hom nie sien nie en Hom nie ken nie. Maar julle ken Hom (sê die Messias) omdat Hy by julle bly en in julle sal wees. In Rom 1:18 verwys Shaul na mense wat in afvalligheid en ongeregtigheid wandel as mense wat die waarheid onderdruk. Hulle is verdorwe in hulle verstand en hulle staan die waarheid teë, skryf hy in 2 Tim 3:8 en in 2 Tim 4:4 skryf hy sulke mense keer hulle oor af van die waarheid (wat daarop neerkom dat hulle hulle ore vir die boodskap van die waarheid toedruk) en wend hulle tot fabels. Die apostel Kefa (Petrus) skryf in 2 Kefa 2:2 dat baie mense onder die invloed van valse leraars en valse profete verderflike leringe sal navolg en die weg van die waarheid sal laster. Dis nie moeilik om die vervulling van hierdie woord in ons eie dag raak te sien nie.

Ons sien dus duidelik dat diegene wat kies vir die waarheid, hulle maar kan regmaak vir teenkanting en vervolging van die ergste graad. Tog sê die Skrif ook duidelik dat dit juis die waarheid is wat sal waarborg dat ons behoue sal bly en uiteindelik beloning sal ontvang. Hy wat met sy hart die waarheid praat, sal nie wankel tot in ewigheid nie, sê Tehielliem 15:2-5. Yahweh se lig en waarheid lei ons na sy afgesonderde en na sy woning, sê Tehielliem 43:3. Verder staan daar in Tehielliem 51:6 Yahweh het behae aan waarheid in die binneste en Hy maak sy verborgenhede aan sulkes bekend. Yahweh is naby almal wat Hom aanroep in waarheid, sê Tehielliem 145:18 en daar is geen groter vreugde nie as om te hoor dat iemand in die waarheid wandel, staan daar in 3 Yahuganan 1:4.

Dis interessant dat die Griekse woord wat normaalweg met "waarheid" vertaal word, meer as 100 maal in die Messiaanse geskrifte voorkom, maar nie een enkele keer in die boek Openbaring nie. Is dit omdat Openbaring nie juis in die tema van "waarheid" geïnteresseerd is nie? Nee, beslis nie. Openbaring is net soveel in waarheid geïnteresseerd as die res van die Skrif, indien nie nog meer nie. Tog gebruik Openbaring nie een maal die woord "aletheia" nie – ‘n woord wat feitlik in elke ander boek van die Messiaanse Geskrifte voorkom. Hoekom nie? Die woord "aletheia" is ‘n abstrakte selfstandige naamwoord wat so te sê altyd met "waarheid" vertaal word. Omdat dit ‘n abstrakte begrip is, het ons soms moeite om hierdie woord te definieer en presies te weet wat met die woord bedoel word. Miskien is dit ook een van die redes waarom daar so baie verskillende groepe is wat almal aanspraak maak op die waarheid, maar tog wesenlik van mekaar verskil. Openbaring gebruik nie een keer die abstrakte begrip "aletheia" nie. Maar Openbaring gebruik wel talle kere die verwante begrip "alethinos". Die woord "alethinos" is nie ‘n abstrakte selfstandige naamwoord nie. Dit is ‘n byvoeglike naamwoord, ‘n woord wat iets of iemand beskryf, ‘n woord wat nie meer met abstrakte begrippe werk nie, maar eenvoudig ‘n beskrywing gee wat maklik is om te verstaan en maklik om te identifiseer. In Afrikaans kan hierdie woord met "waar" of "waaragtig" vertaal word. In Openbaring is daar vyf persone of dinge wat as "waaragtig" beskryf word. Vyf persone en dinge wat uiteindelik meer as enigiets anders, vir ons sal help om uit te vind of ons op koers is met ons verstaan van die begrip "waarheid": (1) Yahweh is waaragtig (2) Yahweh se Seun is waaragtig (3) Yahweh se weë is waaragtig (4) Yahweh se oordele is waaragtig (5) Yahweh se woorde is waaragtig. Solank ons vashou aan hierdie vyf, sal ons verstaan van "waarheid" nie uit lyn uit wees nie.