WAT BETEKEN DIT OM DIE NAAM VAN YAHWEH AAN TE ROEP?

 

Ons weet volgens die Skrif dat mense soos Set (Bereshiet / Genesis 4:26), Avraham / Abraham (Bereshiet / Genesis 12:8), Haghar / Hagar (Bereshiet / Genesis 16:13), Yitsgak / Isak (Bereshiet / Genesis 26:25), Ya’akov / Jakob (Bereshiet / Genesis 49:18), Mosheh / Moses (Devariem / Deuteronomium 32:3), Aharon / Aäron (Tehilliem / Psalms 99:6), Yahushua / Joshua (Yahushua / Joshua 7:7), Ghid’on / Gideon (Shofetiem / Rigters 6:22), Shimshon / Simson (Shofetiem / Rigters 16:28), Gannah / Hanna (1 Shemuel / Samuel 1:11), Shemuel / Samuel ( 1 Shemuel / Samuel 12:18), Dawied / Dawid (2 Shemuel / Samuel 22:7),  Shelomo / Salomo ( 1 Melagiem / Konings 3:7), Asa (2 Divre Hayamiem / Kronieke 14:11), Yahushafat / Josafat (2 Divre Hayamiem / Kronieke 20:3), GizkiYah / Hiskia (YeshaYahu / Jesaja 37:15-16), EliYah / Elia (1 Melagiem / Konings 18:24), Ezra (Ezra 9:15), NegemYah / Nehemnia (NegemYah / Nehemia 1:5), YeshaYahu / Jesaja (2 Melagiem / Konings 20:11), YermeYahu / Jeremia (Ega / Klaagliedere 3:55), Yonah (Yonah 2:6), en Gavakuk / Habakuk (Gavakuk / Habakuk 3:2) pertinent die Naam van Yahweh aangeroep het.  Alhoewel meeste van die vertalings wat vandag beskikbaar is, nie spesifiek aandui dat dit die geopenbaarde Naam van die Vader (Yahweh) is wat aangeroep is nie, kan ‘n mens dit maklik kontroleer deur die Hebreeuse teks van die Skrif of ‘n vertaling met Strongs-nommers te raadpleeg.  Watter betekenis heg die Skrif daaraan wanneer mense die Naam van Yahweh aanroep?

 

1.                      Om die Naam van Yahweh aan te roep is ‘n natuurlike reaksie by die besef van die grootheid van Yahweh.

Bereshiet / Genesis 26:24-25: “En Yahweh het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die Elohiem van Avraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Avraham, my kneg. Toe bou hy daar ‘n altaar, en hy het die Naam van Yahweh aangeroep en daar sy tent opgeslaan...”

 

2.                      Om die Naam van Yahweh aan te roep beteken in die eerste plek letterlik om die Naam van Yahweh aan te roep.

Shemot / Exodus 34:5-6: “En Yahweh het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy het die Naam van Yahweh uitgeroep. En toe Yahweh by hom verbygaan, het Hy geroep: Yahweh, Yahweh, barmhartige en goedgunstige El...”

 

3.                      Om die Naam van Yahweh aan te roep is die spontane gebruik van hulle wat tot die Naam van Yahweh geroep is.

Devariem / Deuteronomium 28:9-10 “Yahweh sal jou vir Hom as afgesonderde volk bevestig soos Hy jou dit gesweer het, as jy die gebooie van Yahweh jou Elohiem hou en in sy weë wandel.  En al die volke van die aarde sal sien dat die Naam van Yahweh oor jou uitgeroep is, (letterlik: “dat jy geroep is tot die Naam van Yahweh”) en hulle sal vir jou vrees.”

 

4.                      Om die Naam van Yahweh aan te roep is die vernaamste manier om die Naam van die Almagtige te verhoog.

Devariem / Deuteronomium 32:3-4: “Want die Naam van Yahweh roep ek uit (of: roep ek aan): Gee grootheid aan onse Elohiem!  Die Rots—volkome is sy werk; want al sy weë is reg; ‘n El van trou en sonder onreg; regverdig en reg is Hy.”

 

5.                      Om die Naam van Yahweh aan te roep is die enigste manier om op te staan teen die afgodediens in hierdie wêreld.

1 Melagiem / Konings 18:24,36: “Roep julle dan die naam van julle Elohiem aan, en ék sal die Naam van Yahweh aanroep; en die Elohiem wat met vuur antwoord, Hy sal Elohiem wees... En op die tyd dat hulle die spysoffer bring, het die profeet EliYah nader gekom en gesê: Yahweh, Elohiem van Avraham, Yitsgak en Yisra’el, laat dit vandag bekend word dat U Elohiem in Yisra’el is, en ek u kneg, en dat ek al hierdie dinge op u woord gedoen het.”

 

6.                      Om die Naam van Yahweh aan te roep is die aangewese manier om sy dade onder die nasies bekend te maak.

YeshaYahu / Jesaja 12:4: “En julle sal in dié dag sê: Dank Yahweh, roep sy Naam aan, maak sy dade onder die volke bekend, verkondig dat sy Naam hoog is!”

 

7.                      Om die Naam van Yahweh aan te roep is ‘n onuitputlike en ongeëwenaarde bron van krag en oorwinning.

2 Divre Hayamiem / Kronieke 14:11: “En Asa het Yahweh sy Elohiem aangeroep en gesê: Yahweh, niemand kan help soos U tussen die magtige en die kragtelose nie; help ons, Yahweh onse Elohiem, want op U steun ons, en in u Naam het ons teen hierdie skare gekom; Yahweh, U is onse Elohiem; laat geen sterfling naas U magtig wees nie.”

 

8.                      Om die Naam van Yahweh in gehoorsaamheid en afhanklikheid aan te roep is ‘n waarborg dat Hy ons gebede sal verhoor.

Tehilliem / Psalm 99:6: “Mosheh en Aharon was onder sy priesters, en Shemu’el onder die aanroepers van sy Naam. Hulle het Yahweh aangeroep, en Hy het hulle verhoor.”

 

9.                      Om die Naam van Yahweh aan te roep gee uitkoms aan hulle wat deur bande van die dood omring word.

Tehilliem / Psalm 116:3-4: “Bande van die dood het my omring, en angste van die doderyk het my getref; ek het benoudheid en kommer gevind. Maar ek het die Naam van Yahweh aangeroep: Ag, Yahweh, red my siel.”

 

10.                Om die Naam van Yahweh aan te roep is die manier om die Vader te vergeld en te bedank vir al sy weldade aan ons.

Tehilliem / Psalm 116:12,13,17: “Wat sal ek Yahweh vergeld vir al sy weldade aan my?  Ek sal die beker van verlossinge opneem en die Naam van Yahweh aanroep ... Ek sal U ‘n offer van danksegging bring en die Naam van Yahweh aanroep.

 

11.                Om die Naam van Yahweh aan te roep is die geopenbaarde weg waarlangs verlorenes die geskenk van verlossing in ontvangs neem.

Yahu’el / Joël 2:32: “En elkeen wat die Naam van Yahweh aanroep, sal gered word; want op die berg Tsion en in Yerushalayiem sal daar ontkoming wees soos Yahweh gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat Yahweh sal roep.   Vgl. Handelinge 2:21

 

12.                Om nie die Naam van Yahweh aan te roep of te wil aanroep nie, is ‘n strafmaatreël as gevolg van ongehoorsaamheid.

YermeYahu / Jeremia 44:7-8, 26: “So sê dan nou Yahweh, die Elohiem van die leërskare, die Elohiem van Yisra’el: Waarom berokken julle julself ‘n groot onheil om onder julle man en vrou, kind en suigling uit Yehudah uit te roei, om vir julle niemand te laat oorbly nie,  deurdat julle My terg met die werke van julle hande, om vir ander magtiges rook te laat opgaan in Mitsrayiem (Egipte) waar julle gekom het om as vreemdelinge te vertoef, sodat julle julself uitroei en ‘n voorwerp van vervloeking en van oneer onder al die nasies van die aarde word? ... Daarom, hoor die woord van Yahweh, o hele Yehudah wat in Mitsrayiem (Egipte) woon! Kyk, Ek sweer by my grote Naam, sê Yahweh: Nooit sal my Naam meer aangeroep word deur die mond van enige man van Yehudah in die hele Mitsrayiem (Egipte) nie.”