DIE HART VAN HUIGELARY

Huigelary of geveinsdheid word in die Skrif voorgehou as ‘n ingesteldheid van die hart waarmee ‘n mens nie voor Yahweh se aangesig kan kom nie (Iyov /Job 13:16) – so ‘n mens se hoop is afgesny en die voorwerp van sy vertroue is ‘n spinnerak (Iyov / Job 8:14). Omdat huigelary so ‘n sentrale tema van die Skrif uitmaak en in die sterkste terme veroordeel word – beide in die Voor- en Na-Messiaanse Geskrifte – is dit van die grootste belang dat ons hierdie gesindheid in die wêreld rondom ons sal herken en veral dat ons ons eie harte daarvan sal suiwer.

Die Engelse woord "hypocrite" is afgelei van die Griekse woord "hupokrites" wat ontstaan het uit "hupokrinomai" – ‘n woord wat in die antieke tyd in die konteks van drama en toneelspel gebruik is. Die persoon wat ‘n rol vertolk in ‘n toneelstuk (wat verskil van wie hy of sy in die werklike lewe is), word beskou as iemand wat "hupokrinomai" – veral deur die woorde wat hy uitspreek of die dialoog wat hy voer. Alhoewel die woord "hupokrinomai" nie normaalweg so ‘n betekenis gehad het nie, is dit nogal veelseggend dat as ‘n mens die woord volgens sy letterlike betekenis moes vertaal, dit dan iets sou beteken soos: "onder (‘n) oordeel" of "om onder ‘n oordeel te staan". Dit is presies wat die Skrif, en by name die Messias, van mense gesê het wat hulle aan korrupsie en huigelary skuldig maak: hulle staan onder die oordeel van Yahweh en moenie dink dat hulle met hierdie gesindheid die toorn van die Almagtige sal ontvlug nie.

Die Hebreeuse woord wat normaalweg met huigelary en geveinsdheid verbind word, is "gonef" of "ganef" waarvan die basiese betekenis is: "to defile (with soil); to corrupt; to pollute; to profane." Hierdie woord word onder meer gebruik in YeshaYahu 9:17 "Daarom sal Yahweh oor hulle jongmanne nie bly wees nie en Hom nie ontferm oor hulle wese en hulle weduwees nie; want hulle is almal korrup (KJV: "every one is a hypocrite") en kwaaddoeners, en elke mond praat afvalligheid." Twee ander Hebreeuse woorde wat ook in hierdie verband gebruik word, is "badah" wat beteken "to devise or to feign" (vgl. die Afrikaanse woord "geveinsde") wat onder meer in NegemYah / Nehemia 6:6-8 gebruik word ("Die gerug gaan rond onder die volke, en Ghashmu sê: Jy en die Yehudiem (Jode) is van plan om te rebelleer; daarom bou jy die muur, en jy sal hulle koning word—dergelike dinge … maar ek het hom laat weet: Daar het nie sulke dinge gebeur as dié waar jy van praat nie, maar jy het dit self versin"), asook die woord "kagash" wat beteken "to be untrue, to lie, to deceive" en wat onder meer in ZegarYah / Sagaria 13:4 gebruik word: "En in dié dag sal elkeen van die profete, as hy profeteer, hom skaam oor sy gesig; en hulle sal die harige mantel nie aantrek om te lieg nie". Een woordeboek beskryf "hypocricy" as "feigning to be what one is not - a concealment of one's real character or motives". ‘n Ander bron sê "to feign" beteken veral drie dinge: (1) To invent or imagine; to form an idea or conception of something not real, (2) To make a show of; to pretend; to assume a false appearance; to counterfeit, en (3) To represent falsely; to pretend; to form and relate a fictitious tale. Kom ons kyk vervolgens na ‘n aantal voorbeelde uit die Skrif ten einde vir onsself meer duidelikheid oor hierdie konsep te kry.

  1. Huigelary en die alwetendheid van die Almagtige. YeshaYahu 29:15 "Wee hulle wat planne diep verberg vir Yahweh, wie se werk in duisternis plaasvind; en hulle sê: Wie sien ons en wie ken ons?" (vgl. Luk 12:2).
  2. Huigelary en lippediens. Yegezkel 33:30-31 "Hulle praat die een met die ander … en sê: Kom tog en hoor wat die woord is wat van Yahweh uitgaan. En hulle kom na jou toe soos ‘n volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan" (vgl. Tehilliem 50:16-17).
  3. Huigelary en selfregverdiging. Luk 18:11-12 "En die Perushiet (Fariseër) het gaan staan en by homself so gebid: o Elohiem, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie--rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie. Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry" (vgl. Matt 9:13).
  4. Huigelary en die verwaarlosing van die wet. Matt 15:1-7 "Toe kom daar skrifgeleerdes en Perushiem (Fariseërs) van Yerushalayiem na Y'shua en sê: Waarom oortree u dissipels die oorlewering van die ou mense? Want hulle was nie hul hande as hulle brood eet nie. Maar Hy antwoord en sê vir hulle: Waarom oortree julle ook die gebod van Elohiem ter wille van julle oorlewering? Want Elohiem het bevel gegee en gesê: Eer jou vader en moeder … maar julle sê: Elkeen wat aan vader of moeder sê: enige voordeel wat u van my sou kan geniet, is 'n offergawe--dié hoef sy vader of sy moeder glad nie te eer nie. So het julle dan die gebod van Elohiem kragteloos gemaak ter wille van julle oorlewering" (vgl. Rom 2:17-23).
  5. Huigelary en die guns van mense. Matt 23:5-6 "En hulle doen al hul werke om deur die mense gesien te word, en hulle maak hul gedenkseëls breed en die some van hul klere groot. En hulle hou van die voorste plekke by die maaltye en die voorste banke in die sinagoges" (vgl. 2 Kefa / Petrus 2:19).
  6. Huigelary en oppervlakkige godsdiens. Luk 11:39 "Maar die Meester sê vir hom: Ja, julle Perushiem (Fariseërs), julle maak die buitekant van die beker en die bord skoon, maar van binne is julle vol roof en boosheid" (vgl. Matt 23:23).
  7. Huigelary en kennis van die waarheid. 2 Tim 3:5-7 "mense wat 'n gedaante van toewyding het, maar die krag daarvan verloën het … wat altyd leer en nooit tot die kennis van die waarheid kan kom nie" (vgl. Luk 12:56).
  8. Huigelary en kritiese, afbrekende woorde. Mishleh / Spreuke 11:9 "Deur die mond stort die korrupte mens (KJV: "hypocrite") sy naaste in die verderf, maar deur kennis word die regverdiges gered" (vgl. Matt 7:5).
  9. Huigelary en valse gerustheid. YeshaYahu 48:1-2 "Hoor dit, huis van Ya~akov wat julleself noem met die naam van Yiesra~el en uit die waters van Yehudah voortgekom het, wat sweer by die Naam van Yahweh en die Elohiem van Yiesra~el roem, maar nie in waarheid of in geregtigheid nie — want hulle noem hul na die afgesonderde stad en steun op die Elohiem van Yiesra~el, Yahweh van die leërskare is sy Naam" (vgl. YermeYahu 7:8-10).
  10. Huigelary en ware liefde. 1 Kefa / Petrus 1:22 "As julle in gehoorsaamheid aan die waarheid julle siele deur die Gees tot ongeveinsde liefde vir die broers gereinig het, moet julle mekaar vurig liefhê uit 'n rein hart" (vgl. Rom 12:9).

Hierdie is maar net ‘n paar van die vele fasette van huigelary. Dit is duidelik dat ons hier met ‘n gesindheid te make het wat geen plek het in die lewe van ‘n gelowige nie. Waar hierdie gesindheid net maar enigsins sy kop uitsteek, sal dit groot skade meebring vir die koninkryk van Yahweh. Laat ons onsself deeglik in die lig van hierdie woord ondersoek, want tereg het die Messias gesê dat diegene wat hulle hieraan skuldig maak die sleutel van die kennis weggeneem het en self nie ingegaan het (in die koninkryk) nie, en vir die wat wou ingaan, verhinder het (Luk 11:52).