DIE "NOG MEER" ASPEK VAN GELOOF

Gelowiges wat die Skrif ernstig opneem, sal gou genoeg agterkom dat daar altyd "nog meer" in die Woord is wat ontdek moet word en wat hulle geloof uiteindelik na ‘n dieper dimensie sal voer. In die geloof is daar nooit plek vir ‘n houding van "kom ons rus nou op ons louere" of "ons het nou genoeg verander" nie. Skrifgebaseerde geloof meet homself aan Yahweh se definisie van "genoeg" en "volkome" – nie aan die afgewaterde standaard wat die wêreld aan ons voorhou nie. ‘n Mens dink in hierdie opsig aan die woorde van die Messias "Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is (d.w.s "nie nog meer is") as dié van die skrifgeleerdes en Perushiem nie, julle nooit in die koninkryk van die hemel sal ingaan nie" (Matt 5:20). Daar is altyd nog méér waarvoor Yahweh ons oë wil oopmaak. Daar is altyd nog méér wat ons kan doen om ‘n verskil in hierdie wêreld te maak. Daar is altyd nog méér waarmee Yahweh ons wil seën en versterk. "Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van 'n mens nie opgekom het nie, (dit het) Elohiem berei vir die wat Hom liefhet" (1 Kor 2:9). Kom ons kyk na die talle dimensies van "nog meer" wat in die Skrif na vore gebring word.

  1. Nog meer gunsbewyse as wat ons kan hanteer.
  2. 2 Shemuél (2 Sam) 12:7-8 Toe sê Natan vir Dawied: U is die man! So sê Yahweh, die Elohiem van Yiesraél: Ek het jou as koning gesalf oor Yiesraél, en Ek het jou gered uit die hand van Shaúl; en Ek het die huis van jou meester aan jou gegee, en die vroue van jou meester in jou skoot, en Ek het die huis van Yiesraél en Yehudah aan jou gegee; en as dit te min was, sou Ek aan jou nog meer sulke dinge daarby wil voeg.

  3. Nog meer ontvang namate ons bereid is om te gee.
  4. Mieshleh (Spr) 11:24-25 Daar is een wat ruim uitdeel en nog meer kry, en een wat weerhou meer as wat reg is, maar tot sy gebrek. Die siel wat seën, word versadig; en hy wat laaf, word self ook gelaaf.

  5. Nog meer wat by Yahweh se volk gevoeg word.
  6. YeshaYahu (Jes) 56:6-8 En die uitlanders wat hulle by Yahweh aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van Yahweh lief te hê deur sy knegte te wees - elkeen wat die Shabbat hou, sodat hy dit nie ontwy nie, en hulle wat vashou aan my verbond, hulle sal Ek bring na my afgesonderde berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal aanvaarbaar wees op my altaar; want my huis sal 'n huis van gebed genoem word vir al die volke. Die Meester Yahweh wat versamel diegene wat van Yiesraél verdryf is, sê: Ek sal by hom nog meer versamel, by sy versameldes.

  7. Nog meer praat as wat goed is vir ons geloof en getuienis.
  8. Markus 14:30-31 Daarna sê Y'shua vir hom: Amein Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag, voordat die haan twee maal gekraai het, sal jy My drie maal verloën. Maar hy het nog baie meer aangehou en gesê: Al moes ek saam met U sterf, ek sal U nooit verloën nie! En net so het almal ook gesê.

  9. Nog meer pogings om Y'shua dood te maak (selfs vandag nog!).
  10. Yahuganan (Joh) 5:17-19 En Y'shua het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook. Hieroor het die Yehudiem toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die Shabbat gebreek het nie, maar ook Elohiem sy eie Vader genoem het en Hom met Elohiem gelykgestel het. Y'shua het toe geantwoord en vir hulle gesê: Amein, amein Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.

  11. Nog meer wat ons moet leer wanneer ons reg is daarvoor.
  12. Yahuganan (Joh) 16:12-13 Nog baie dinge het Ek om aan julle te sê, maar julle kan dit nou nie dra nie. Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself praat nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy praat en die toekomstige dinge aan julle verkondig.

  13. Nog meer weerstand teen die Naam en dus nog meer gehoorsaam aan Elohiem.
  14. Handelinge 4:17-20 Maar dat dit nie nog meer onder die volk versprei word nie, laat ons hulle dreig om nie meer in hierdie Naam met enige mens te praat nie. En hulle het hul geroep en hulle bevel gegee om in die geheel nie in die Naam van Y'shua te praat of te leer nie. Toe antwoord Kefa en Yahuganan en sê vir hulle: Of dit reg is voor Elohiem om julle meer gehoorsaam te wees as Elohiem, moet julle self beslis; want vir ons is dit onmoontlik om nie te praat oor wat ons gesien en gehoor het nie.

  15. Nog meer ontvang as net versoening met Yahweh.
  16. Romeine 5:9-10 Veel meer dan sal ons, nou dat ons geregverdig is in sy bloed, deur Hom gered word van die toorn. Want as ons, terwyl ons nog vyande was, met Elohiem versoen is deur die dood van sy Seun, veel meer sal ons deur sy lewe gered word nou dat ons versoen is.

  17. Nog meer guns wat moet lei tot nog meer geregtigheid.
  18. Romeine 5:20-21 Maar die Torah het daar bygekom, sodat die misdaad meer sou word; en waar die sonde meer geword het, het die guns nog meer oorvloedig geword; sodat, soos die sonde geheers het in die dood, so ook die guns kan heers deur die geregtigheid tot die ewige lewe deur Y'shua die Messias, ons Meester.

  19. Nog meer liefde najaag, getemper deur kennis en ervaring.
  20. Filippense 1:9-11 En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring, om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand 'n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van die Messias, vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Y'shua die Messias tot eer en lof van Elohiem.

  21. Nog meer verantwoordelikheid neem vir ons eie verlossing.
  22. Filippense 2:12-13 Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie verlossing uit met vrees en bewing; want dit is Elohiem wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

  23. Saam met ‘n handjievol nog meer afgesonder lewe, tot by die koms van Messias.

Openbaring 22:11-12 Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog vuiler word; en wie regverdig is, laat hom nog meer geregtigheid doen, en wie afgesonder is, laat hom nog meer afgesonder word. Kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk is.