Die vrede van Yahweh
Vrede is ‘n gesogte artikel in die wêreld waarin ons leef. Wêreldvrede is op die agendas van groot, internasionale organisasies soos die Verenigde Nasies, die Europese Unie, die Afrika Unie en nog baie ander. Vrede word beskou as ‘n sleutel wat oorlewing en voorspoed vir die toekoms kan waarborg. Baie mense besef dat as daar nie vrede tussen verskillende nasies en verskillende groepe en verskillende wêrelddele is nie, kan die stryd tussen hierdie opponerende magte só fel word, dat die voortbestaan van die mensdom in sy geheel daardeur bedreig word. Vraag is egter: Hoe lyk hierdie vrede waarna almal hunker? Is dit vrede as ‘n mens jou opponent tevrede en op ‘n afstand hou, maar intussen hoop dat jy hom nooit in die oë hoef te kyk nie? Is dit vrede as twee partye mekaar nie direkte, fisiese skade berokken nie, maar agteraf geen goeie woord oor mekaar het nie? Is dit vrede as twee opponente in dieselfde regering of in dieselfde liggaam of in dieselfde kommissie dien, maar tussendeur geen steen onaangeroer laat nie om mekaar te kritiseer en swart te smeer nie. Wat daarvan as jy jou opponent "ter wille van die vrede" juis níé kritiseer nie – ten spyte daarvan dat jy nog steeds nie met hom saamstem nie? Is dít vrede? Of is dit dalk net die stilte voor die storm? Of miskien net ‘n variasie van die uitroep van die priesters waarvan YermeYahu (Jeremia) 8:11 praat: "Vrede, vrede, terwyl daar geen vrede is nie"?
Die woord wat die Skrif meestal vir vrede gebruik, is die bekende Hebreeuse woord "shalom". Dis ‘n woord wat vandag nog in baie wêrelddele gebruik word om mekaar te groet en vrede toe te wens – selfs in lande waar die mense nie Hebreeus praat nie. Hierdie woord is afgelei van die werkwoord "shalam" wat volgens woordeboeke onder meer beteken: "To be safe; to be completed; to be friendly; to make amends; to give again; to reward; to restore; to prosper". Om nader te kom aan dit wat die werklike betekenis van "vrede" is en dit wat Yahweh in sy Woord met "vrede" bedoel, is dit nodig om weer ‘n slaggie goed te gaan kyk na die manier hoe hierdie woord op verskillende plekke in die Skrif gebruik word.
Exo 22:7
As iemand aan sy naaste geld of goed in bewaring gee, en dit word uit die man se huis gesteel, moet die dief, as hy uitgevind word, dubbel daarvoor vergoed (shalam).Exo 22:12
Maar as dit van hom weggesteel is, moet hy aan die eienaar vergoeding gee (shalam).Psa 22:25
(26) Van U kom my lof in 'n groot vergadering; ek sal my geloftes betaal (shalam) in teenwoordigheid van die wat Hom vrees.Psa 116:18
Ek sal my geloftes aan Yahweh betaal (shalam) in die teenwoordigheid van sy hele volk,Spr 19:17
Wie hom ontferm oor die arme, leen aan Yahweh; en Hy sal hom sy weldaad vergeld (shalam).1Sa 24:19
(20) Want as iemand sy vyand aantref, sal hy hom op 'n goeie pad laat gaan? Maar Yahweh sal jou die goeie vergeld (shalam) vir wat jy vandag aan my gedoen het.Rut 2:12
Mag Yahweh jou daad vergeld (shalam) en mag jou loon volkome wees van Yahweh, die Elohiem van Yiesraél, onder wie se vleuels jy kom skuil het.Spr 25:22
Want jy hoop gloeiende kole op sy hoof, en Yahweh sal jou dit vergeld (shalam).Jes 57:18
Ek het hulle weë gesien, en Ek sal hulle genees; en Ek sal hulle lei en aan hulle weer vertroosting skenk (shalam), naamlik aan hulle treuriges.Joe 2:25
En Ek sal julle vergoed (shalam) die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het - my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het.Hos 14:2
(3) Neem woorde met julle, en bekeer julle tot Yahweh; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied (shalam).Nah 1:15
Kyk, op die berge die voete van hom wat die goeie boodskap bring, wat vrede laat hoor: Vier jou feesdae, o Yehudah, betaal (shalam) jou geloftes! Want die snoodaard sal nooit weer deur jou gebied trek nie; hy is totaal uitgeroei!Psa 37:21
Lamed. Die afvallige leen en gee nie terug nie (shalam), maar die regverdige ontferm hom en gee;Neh 6:15
En die muur is voltooi (shalam) op die vyf en twintigste van Elul, in twee en vyftig dae.1Ko 7:51
En toe al die werk wat koning Shelomoh in die huis van Yahweh gemaak het, gereed was (shalam), het Shelomoh die afgesonderde gawes van sy vader Dawied ingebring; die silwer en die goud en die voorwerpe het hy in die skatkamers van die huis van Yahweh neergesit.Jes 44:28
wat van Koresh sê: Hy is my herder, en hy sal alles vervul (shalam) wat My behaag deurdat hy van Yerushalayiem sê: Dit moet gebou word, en die tempel moet gegrond word.Jes 44:26
wat die woord van sy kneg vervul en die voorsegging van sy boodskappers vervul (shalam); wat van Yerushalayiem sê: Dit moet bewoon word; en van die stede van Yehudah: Hulle moet herbou word, en Ek sal sy puinhope oprig;Job 23:14
Want Hy sal vervul (shalam) wat oor my besluit is, en baie sulke dinge is daar by Hom.