DIT WAT NOOIT VERGEET KAN WORD NIE

Daar is sekere dinge in die lewe wat 'n mens nie behoort te vergeet nie. Dinge wat in die verlede gebeur het, of wat jy in die verlede ontdek het, wat geweldig belangrik is vir die hede en die toekoms. As jy hierdie dinge vergeet, kan dit verreikende gevolge vir jou inhou. Ons het verlede week hierna gekyk onder die opskrif "The things we should always remember". Vir ons as gelowiges is daar egter nog 'n manier om na die verlede te kyk nie net om dinge uit te sonder wat ons nooit BEHOORT te vergeet nie, maar ook om dinge uit te sonder wat ons eenvoudig nooit KAN vergeet nie. Dinge wat ons nie KAN vergeet nie, omdat dit so 'n blywende en allesoorheersende impak op ons lewens gehad het, dat niks die herinnering daarvan kan uitwis nie. Die dinge wat ons (geneig is om te vergeet, maar) nie BEHOORT te vergeet nie (dit waarna ons verlede week gekyk het), help ons om moed te skep en te begryp wat besig is om nou te gebeur en te volhard tot die einde. Maar die dinge wat ons nie KAN vergeet nie (omdat dit so 'n onuitwisbare indruk in ons harte gelaat het), help ons selfs nog meer: Dit gee vir ons 'n ongekende vrede, selfs in die moeilikste omstandighede. Dit help ons om uit te styg bo ons negatiewe belewenisse en ons gedagtes en emosies met hierdie onvergeetlike herinneringe te temper. En dit word uiteindelik meer as net herinneringe - dit word 'n vaste oortuiging van jou hart; dit word deel van jou geestelike fondasie wat niemand van jou kan wegneem nie. Kom ons kyk na sommige van die elemente van hierdie fondasie - dinge wat 'n mens eenvoudig nie kan vergeet en nie kan ignoreer nie - wat ter sprake kom in die boek Tehielliem (Psalms). Die kernwoord in al hierdie gedeeltes is die Hebreeuse woord "zagar' wat beteken: "to mark, in order to be recognized; to remember; to mention; to recount".

  1. Tehielliem 20:7 Sommige roem op strydwaens en ander op perde, maar ons, oor die Naam van Yahweh onse Elohiem, sal ons nadink (zagar). Sy naam kan ons nooit vergeet nie!
  2. Tehielliem 22:24-27 Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe hy Hom aangeroep het om hulp ... AI die eindes van die aarde sal daaraan dink (zagar) en hulle tot Yahweh bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid. Sy reaksie op ons noodkreet kan ons nooit vergeet nie!
  3. Tehielliem 63:2-6 So het ek U in die afgesonderde plek aanskou, om u sterkte en u grootheid te sien. Want u guns is beter as die lewe; my lippe moet U prys ... as ek aan U dink (zagar) op my bed, in die nagwake oor U peins. Sy sterkte en sy grootheid en sy guns kan ons nooit vergeet nie!
  4. Tehielliem 71:15-16 My mond sal u geregtigheid vertel, die hele dag u verlossing; want ek ken nie die maat daarvan nie. Ek sal kom met die magtige dade van die Meester Yahweh; ek sal u geregtigheid vermeld (zagar), die van U alleen. Sy geregtigheid en sy verlossing en sy magtige dade kan ons nooit vergeet nie!
  5. Tehielliem 77:11-12 Ek dink aan die dade van Yah; ja, ek wil dink (zagar) aan u wonders uit die voortyd en al u werk oordink, en ek wil peins oor u dade. Sy wonderwerke kan ons nooit vergeet nie!
  6. Tehielliem 119:51-52 Vermeteles het baie met my gespot; van u torah het ek nie afgewyk nie. Ek het gedink (zagar), 0 Yahweh, aan u verordeninge van ouds, en ek het my getroos. Sy torah en sy verordeninge van ouds kan ons nooit vergeet nie!
  7. Tehielliem 137:1-5 By die riviere van Bavel, daar het ons gesit, ook geween as ons aan Tsion dink ... As ek jou vergeet, O Yerushalayiem, laat my regterhand dan homself vergeet! Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink (zagar) nie, as ek Yerushalayiem nie verhef bo my hoogste vreugde nie. Sy stad, Yerushalayiem, kan ons nooit vergeet nie!

Laat ons ook oor die vo/gende nadink:

  1. Tehielliem 8:4 Wat is die mens dat U aan hom dink (zagar), en ‘n seun van Adam dat U hom besoek? ... dat Yahweh die mens nooit vergeet nie!
  2. Tehielliem 9:12 Want Hy wat die bloed soek, dink (zagar) aan hulle; Hy vergeet die geroep van die ellendiges nie ... dat Yahweh die geroep van die ellendiges nooit vergeet nie!
  3. Tehielliem 25:6 Dink (zagar), Yahweh, aan u barmhartigheid en u goedertierenhede, want dit is van ewigheid af ... dat Yahweh sy barmhartigheid en guns nooit vergeet nie!
  4. Tehielliem 74:2 Dink (zagar) aan u vergadering wat U in die voortyd verwerf het, wat U verlos het om die stam van u erfdeel te wees, aan die berg Tsion waar U op bewoon het …dat Yahweh die vergadering van verlostes nooit vergeet nie!
  5. Tehielliem 78:38-39 Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en vernietig nie, en dikwels wend Hy sy toorn af en wek nie al sy gramskap op nie. En Hy het daaraan gedink (zagar) dat hulle vlees was, 'n wind wat weggaan en nie terugkom nie ... dat Yahweh die tekortkominge en swakhede van die mens nooit vergeet nie!
  6. Tehielliem 89:50-51 Gedenk (zagar), Yahweh, die oneer van u knegte, hoe ek in my boesem dra die oneer van al die baie volke, waarmee u vyande, O Yahweh, skade aandoen, waarmee hulle die voetstappe van u gesalfde onteer ... dat Yahweh die oneer van sy knegte nooit vergeet nie!
  7. Tehielliem 105:7-8 Hy, Yahweh, is onse Elohiem; oor die hele aarde is sy oordele. Hy dink (zagar) vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte ... dat Yahweh sy verbond en sy Woord nooit vergeet nie!