IS JY GEREED VIR ‘N DUBBELE DEEL?

Die profeet Elisha is bekend daarvoor dat hy as opvolger van EliYah versoek het dat daar ‘n dubbele deel van EliYah se gees op hom sou kom (2 Melagiem / Konings 2:9). Rondom hierdie tema word daar dikwels baie geromantiseer en talle predikers het al hierdie vers gebruik as aansluiting om die punt te maak dat die Vader vir ons ‘n "double blessing" opsy gesit het en dat ons dit tog nie moet verbeur nie. Wat egter dikwels nie vermeld word nie, is dat enige seëning, en veral ‘n "dubbele seëning", nie sommer uit die lug val nie. Die Almagtige het nog altyd sy seën gekoppel aan gehoorsaamheid en afgesonderdheid en verantwoordelike wandel voor sy aangesig. Algemeen gesproke, seën Hy alle mense van hierdie wêreld met gesondheid, beskerming en die gawe van lewe. Maar sy besondere seëninge is nie bedoel, en sal ook nie ontvang word deur diegene wat Yahweh nie van ganser harte soek en dien nie. As ons meer wil leer oor hierdie dubbele deel wat Yahweh bestem het vir hulle wat Hom waarlik liefhet, sal dit ons meer baat om te kyk na 1 Konings 19, ‘n hoofstuk wat afgesluit word met ‘n beskrywing van die eerste werklike ontmoeting tussen EliYah en Elisha. Die opvallende van hierdie hoofstuk is die herhaling of dubbele verwysing na sekere belangrike aspekte. Hierin is daar vir ons ‘n sleutel opgesluit wat ons sal help om te verstaan wat werklik bedoel word met, en hoedat ons kan uitkom by, die dubbele deel wat Yahweh vir ons bestem het.

  1. Die allesbepalende vraag: Wat maak jy hier? Hierdie vraag word 2 maal aan EliYah gestel (vers 9 en 13). Dit is die vraag van die Almagtige aan EliYah. Wat maak hy in die berg Gorev (Horeb), ver in die Suide, terwyl hy eintlik by die berg Karmel, in die Noorde moet wees? Wat maak hy in ‘n grot waar hy gevlug het vir Isével (Isébel) terwyl Yahweh hom juis geroep het om die bose werke van Isével aan die kaak te stel? Dit is ook ‘n vraag vir jou en my wat graag ons dubbele deel wil ontvang. Is ons op die plek waar ons moet wees? Is ons op die plek waar die Vader wil hê ons moet wees? Weet ons wat ons hier op aarde moet doen? Wat ons roeping en ons taak is? Ons moet hieroor duidelikheid kry voordat ons ons dubbele deel uit die hand van Yahweh kan ontvang.
  2. Die bonatuurlike aanraking deur die Engel van Yahweh. Twee keer lees ons dat die Engel van Yahweh vir EliYah aangeraak het en vir hom die opdrag gegee het om op te staan en te eet (vers 5 en 7). Ek en jy sal nie ons dubbele deel uit die hand van Yahweh kan ontvang voordat ons nie bonatuurlik ‘n ontmoeting met sy Seun gehad het, opgestaan het van waar ons in ons gemaksone gesit het en die brood van die lewe geëet het wat Hy vir ons gee om in te neem nie.
  3. Die besondere ywer vir die Almagtige. Nie net herhaal die profeet die sin "Ek het baie geywer vir Yahweh" twee maal nie (vers 10 en 14) – hy gebruik ook die woord "ywer" (Hebreeus: "kanah") twee maal in elke sin, byna asof hy wil sê (en dit later weer herhaal): "Ek het ywerig geywer vir Yahweh". Die betekenis van die woord "kanah" dui daarop EliYah (in die goeie sin van die woord) jaloers was op die Almagtige, op die beskerming van sy Naam en op die bewaring van sy insettinge. Hy was nie bereid om toe te sien dat mense daaroor loop of dit minag nie. Dit is vir sulke mense (soos EliYah) dat Yahweh sy dubbele deel eenkant gesit het.
  4. Die groot respek vir Yahweh se verbond. Twee keer in hierdie gedeelte betreur EliYah die feit dat die volk Yisrael Yahweh se verbond verlaat het (vers 10 en 14). Daarmee word bedoel dat hulle sy gebooie verontagsaam het en dat hulle die aanbidding van die Almagtige verruil het vir die verering van vreemde magtiges. ‘n Direkte uitvloeisel hiervan was dat hulle die ware profete van Yahweh vervolg en doodgemaak het (vers 10, 14). Dieselfde tendens kan in ons dag duidelik waargeneem word. Diegene wat vir ‘n dubbele deel bestem is, is hulle wat hulle van hierdie hoofstroom distansieer, terugkeer na Yahweh se verbond (wat die hou van sy gebooie insluit) en elke vorm van afgodediens uit hulle lewens weer, maak nie saak hoeveel waarde hierdie gebruike in die oë van mense het nie.
  5. Die onontbeerlike kombinasie: Gaan uit, gaan terug. Hierdie twee aspekte kom na vore in vers 11 en vers 15. In vers 11 word EliYah beveel om uit te gaan op die berg waar Hy vir Yahweh kon ontmoet. In vers 15 word hy beveel om terug te gaan na die plek en die mense waar Yahweh hom wil gebruik. Op dieselfde wyse het die Almagtige ‘n dubbele deel wat bedoel is vir diegene wat bereid is om uit te gaan en sy aangesig op te soek (al is so ‘n ontmoeting nie altyd maklik nie) en daarna terug te gaan en die werk te doen wat die Vader gedoen wil hê (nie die werk waar mense van hou of waardeur mense beïndruk word nie).
  6. Die verrassende ontdekking: Nie "Ek alleen het oorgebly" nie, maar "7000 sal oorbly". Twee keer in hierdie gedeelte maak EliYah die wanhopige uitspraak dat hy alleen oorgebly het (vers 10 en 14) en twee keer in die Skrif verseker die Vader ons dat daar (‘n simboliese getal van) 7000 sal oorbly – vers 18 en weer in Rom 11:4. Die begrip "oorblyfsel" (Engels: "remnant") is die begrip wat in die Skrif gebruik word vir diegene wat hulle dubbele deel van Yahweh sal ontvang, omdat hulle hulle bereid verklaar het om Hom bo alles in hulle lewe te stel. Vers 18 stel dit duidelik dat hierdie oorblyfsel nie bereid is om met hulle monde aan Baäl te soen nie. Hoevele is daar nie vandag (in byna al die godsdienste van die wêreld) wat letterlik die voorwerpe van hulle aanbidding soen en daarmee verseker dat hulle nie ‘n dubbele deel uit die hand van Yahweh sal ontvang nie. Die Engelse woord "adoration" het ontstaan in ‘n konteks waar mense hulle beelde gesoen het as teken van hulle verering daarvan ("ad" = "tot" en "oris" = "mond"). Die bekendste voorbeeld hiervan is die soen van die groottoon van die Petrusbeeld in die Vatikaanstad wat eers Jupiter, die hoofgod van die sonaanbidding was. Die Vader is vandag nog op die uitkyk vir die oorblyfsel van 7000 wat nie bereid is om enige iemand (of enige iets) anders as Yahweh as hulle Elohiem te vereer nie.
  7. Die noodsaaklike oorgang van "Ek sal u volg" na "Hy het EliYah gevolg". Toe Elisha in vers 20 aangedui het dat hy EliYah sou volg, wou hy eers sy eie sake afhandel (onder meer sy vader en sy moeder gaan groet – vgl. Matt 19:29). EliYah se reaksie was taamlik kru en onverwags: "Gaan terug, want wat het ek aan jou gedoen?" Dalk was Elisha nog nie heeltemal gereed vir die groot stap om EliYah se skoene vol te staan nie. Daar was moontlik nog te veel dinge wat hom teruggehou het. Vader, moeder, familie, osse, materiële en dergelike dinge. EliYah se antwoord moes egter iets in hom losgemaak het, want net die volgende vers (vers 21) bring aan die lig dat hy hom klaargemaak en EliYah daadwerklik gevolg en gedien het. In ons eie dag is daar soveel mense wat, miskien meer as een keer, aangedui het dat hulle die Messias (volkome) sal volg, maar net nie by die punt kan uitkom waar hulle Hom werklik volg en van harte dien nie. Eers as hulle dit doen, kan hulle aanspraak maak op die dubbele deel wat Yahweh vir sy oorblyfsel bestem het.