Dwaling met verrykende gevolge
Toe die Tsaddukiem (Sudduseërs) by geleentheid na die Messias gekom het en ‘n strikvraag probeer vra het oor huwelike en verwantskappe in die bedeling ná die opstanding, het Y'shua vir hulle gesê dat hulle ‘n dubbele dwaling aanhang: (1) In die bedeling ná die opstanding is daar nie iets soos huwelike en familiebetrekkinge soos ons dit nou ken nie, en (2) Anders as wat die Tsaddukiem glo, is daar beslis ‘n opstanding – Yahweh het Homself bekend gestel as die Elohiem van Avraham Yaákov en Yietsgak en Hy is nie ‘n Elohiem van die dooies nie, maar ‘n Elohiem van die lewendes. Y'shua het dwaling herken as Hy dit gesien het en wou nie hê sy volgelinge moes in enige opsig dwaal nie. In die res van die Messiaanse Skrifte, hoor mens kort-kort die wekroep: Moenie dwaal nie! So byvoorbeeld: Moenie dwaal en dink dat jy maar lustig sonde kan doen en nog steeds die koninkryk gaan beërwe nie (1 Kor 6:10); Moenie dwaal en dink dat jy nie verantwoordelik is vir die welsyn van jou broer of jou suster of jou leermeester nie (Gal 6:7); Moenie dwaal en dink dat die opstanding al plaasgevind het nie (of: dat iemand wat sterf onmiddellik "iets soos ‘n opstanding" beleef nie - 2 Tim 2:18); Moenie dwaal en dink dat Yahweh ‘n mens versoek nie (Yaákov 1:16); Moenie dwaal en dink dat jy as volgeling van die Messias in ongebondenheid en wetteloosheid kan lewe nie (2 Kefa 2:18 en 3:17) en moenie dwaal en ontken dat Y'shua die Messias in die vlees gekom het nie (1 Yahuganan 4:6).
Daar is natuurlik baie gedeeltes in die Skrif wat by implikasie ook waarsku teen dwaling, selfs al kom die woord "dwaal" of "dwaling" of "misleiding" nie daar voor nie. Een só ‘n gedeelte is Romeine 15:8: "En ek sê dat Y'shua die Messias 'n dienaar geword het van die besnydenis ter wille van die waaragtigheid van Elohiem, om die beloftes aan die vaders te bevestig". Shaul verwys hier na die "waaragtigheid / waarheid van Elohiem" wat gebaseer is op die beloftes aan die vaders, met ander woorde beloftes wat aan Avraham, Yietsgak en Yaákov gemaak is. Watter beloftes is dit? As ons kyk na die konteks van Romeine 15, sien ons duidelik van watter beloftes hier gepraat word. Dit is die beloftes dat Yahweh uiteindelik alle nasies en volkere en tale deur die nageslag van Avraham sou seën. Daarom word Skrifgedeeltes hier aangehaal soos: Ek sal U loof onder (of tussen) die nasies (vers 9); Verbly julle, o nasies, saam met sy volk (vers 10); Loof Yahweh, alle nasies, prys Hom alle volke (vers 11); op Hom (die wortel van Yishai) sal die nasies hoop (vers 12). In vers 18 sê Shaul in soveel woorde: "Want ek sal nie waag om iets te sê van dinge wat die Messias nie deur my gewerk het nie om die heidene tot gehoorsaamheid te bring, met woord en daad". Daar is twee dinge wat hy nie sal waag nie: (1) Hy sal nie waag om ‘n dwaling te verkondig en iets ander te leer as wat hy van die Messias ontvang het nie en (2) Hy sal nie waag om die boodskap dat Yahweh die heidene tot gehoorsaamheid wil bring, af te water of te verwaarloos nie.
Ek is bevrees in ons dag is daar mense wat hulle op die Skrif beroep en presies dit doen wat Shaul gesê het hy nie sal waag om te doen nie. En dit is om ‘n boodskap te verkondig wat geheel en al ontken dat Yahweh se verlossingsplan letterlik mense uit alle volke en tale en stamme insluit. Mense wat op ‘n baie selektiewe manier sekere skrifgedeeltes gebruik (misbruik!) om te sê Yahweh is nie geïnteresseerd in mense van alle nasies nie, Hy is nie eens geïnteresseerd in die hedendaagse Jode nie, Hy kyk net na Yiesrael / Israel – en hierdie Israel lyk heelwat anders as wat meeste mense meen – húlle is die eintlike nasate van Adam en hulle velkleur is wit! Ek weet dat hierdie ‘n sensitiewe onderwerp is. Ek weet dat sommiges dalk nie so ‘n boodskap wil hoor nie. Weet egter dit, dat hierdie dwaling in ons dag geweldige afmetings aanneem, baie groter is as wat meeste van ons ooit gedink het en boonop ontsettende skade aanrig aan die beeld wat mense het van die geloofspad wat ek en jy gekies het om te loop. Want soos ons, gebruik hierdie groepe dikwels ook die geopenbaarde Name van die Vader en die Seun. Soos ons onderhou hulle dikwels ook die Shabbat en die feeste. En soos ons, assosieer hulle hulle ook met Israel – al word hierdie assosiasie op ‘n totaal ander manier verstaan. Kom ons kyk kortliks na sommige van die etikette wat hierdie groepe vir hulleself gebruik en ook na sommige van die tipiese uitsprake wat binne hierdie beweging gemaak word, en hoedat ons, in die lig van die Skrif, op hierdie uitsprake moet reageer.
Van wie praat ons hier? Wat noem hierdie groepe hulleself? Daar is vertakkinge van hierdie beweging regoor die wêreld. Sommiges staan bekend as "British Israel" of "Anglo-Israel". In Amerika word die begrip "Christian Identity" dikwels gebruik. Soms word daar na die sg. "Arian Race" verwys. Baie groepe in hierdie beweging verwys ook gereeld na die "Tien verlore stamme van Israel" en identifiseer hierdie stamme met die Europese nasies. In Suid Afrika het hierdie beweging ‘n baie groot aanhang en kan dit gewoonlik uitgeken word aan woorde en beskrywinge soos "Ware Israel", "Boere Israel", "Wit Israel", "Afrikaner Israel", die "Neser beweging", die "Siener van Rensburg aanhangers", ensovoorts. In sommige kringe word ‘n vertaling van die Skrif gebruik bekend as die "Boek van Herinnering" (waaruit heelwat van die 66 boeke van die Skrif soos ons dit ken, heeltemal uitgelaat is!). As mens bietjie navorsing doen oor hierdie beweging in Suid Afrika kom jou spoedig agter dat dit wat van hierdie beweging aan die breë publiek bekend is, is eintlik maar net die punt van ‘n ysberg waarvan die omvang baie groter is wat ons ooit kan dink. Wat glo die mense wat hulleself sien as deel van hierdie beweging? Daar is baie variasies, maar kom ons kyk na slegs enkele van die belangrikste standpunte.
Laat ons nie blind of apaties wees teenoor die dwaling wat Yahweh op so ‘n totaal verdraaide manier voorstel en van die ware gelowiges van die hierdie laaste dae, iets maak wat vreemd is aan die boodskap van die Skrif nie.