EK GEE HULLE IN JOU HAND

Ons staan op die drumpel van die begin van die sewende maand volgens die Skrif se maandtelling. Hierdie maand is besonders betekenisvol omdat daar nie minder nie as drie groot feeste in die maand voorkom en ons volgens die Skrif kan aflei dat die mense van die volk Yiesrael van die vroegste tye af, met groot opgewondenheid en afwagting uitgesien en voorbereidings getref het met die oog op hierdie maand. Die feeste waarvan die Skrif praat was nie maar net gewone vakansiedae dae op ‘n kalender wat, soos in die meeste gevalle in die Westerse wêreld van vandag, ongesiens en byna terloops verbygegaan het nie. Nee, hierdie dae was unieke geleenthede waarin aspekte soos belewenis, vreugde en hernude geloofstoewyding ‘n groot rol gespeel het. Ons kan geweldig baie leer uit die manier hoe die feeste in die ou tyd gevier is en uit die betekenis wat daar aan hierdie dae gekoppel is. Voordat ons egter (oor die volgende aantal dae en weke) daarby uitkom, is dit baie interessant om eers net te kyk na die betekenis en (sommige van) die konnotasies wat spesifiek aan die sewende maand gekoppel is.

Die sewende maand skop af met die Trompettefees of Yom Teruah, wat letterlik beteken "Dag van die geskal" of "Dag van die groot geluid". Dis nie moeilik om af te lei nie dat hierdie "geskal" of "geluid" verwys het na die geluid van die blaas van ramshorings ("shofars") of trompette wat nog altyd ‘n groot rol gespeel het in die doen en late van die volk Yiesrael – nie net in die feesmaande nie, maar dwarsdeur die jaar. Die blaas van trompette of shofars het van die vroegste tye af die konnotasie gehad van Yahweh wat vir sy volk die stryd voer en hulle as oorwinnaars uit die stryd laat tree. Dink maar aan die rol van ramshorings tydens die bekende beleëring van Jerigo in die tyd van Yahushua (Joshua). Dink aan Ghiedón (Gideon) en sy driehonderd manskappe wat elk met ‘n ramshoring in die hand meer as 120 000 Midianiete en Amalakiete verslaan het. Dink aan NegemYah (Nehemia) en sy manne wat die muur van Yerushalayiem te midde van uiterste teenkanting met ‘n eenvoudige strategie herbou het: (1) een gedeelte wat uit bouers bestaan het wat met vasberadenheid die muur herbou het (2) nog ‘n gedeelte wat gereeld die ramshoring geblaas het en (3) ‘n derde gedeelte wat wapens by hulle gehad en gewaak het dat die vyand nie die bouwerk onderbreek nie.

Van wapens gepraat, die sewende letter van die Hebreeuse alfabet is die letter "zayien" wat "wapen" beteken. Miskien het die Yiesraeliete met die aanbreek van die sewende maand (en die gepaardgaande blaas van die ramshorings) spesifiek daaraan gedink hoedat Yahweh in die verlede nog altyd hulle vyande in hulle hand gegee het. Die woordspeling tussen die twee teenoorgestelde strategieë van "Yahweh gee julle vyande in julle hand" en "Verslaan self jou vyand met die wapen in jou eie hand" is baie opvallend. In enige vorm van oorlogvoering word ‘n wapen met die hand hanteer. Wanneer die Skrif dus daarna verwys dat Yahweh iemand se vyand in sy hand gee, is dit duidelik ‘n aanduiding dat hierdie vyand nie met gewone wapens verslaan of in eie krag oorwin word nie, maar deur die bonatuurlike ingryping van Yahweh, die Almagtige. Hy gee telkens aan sy volk die versekering: Dis nie deur jou eie hand (of jou eie wapens) dat jy die oorwinning sal behaal nie, maar deur my hand – vertrou net op My en Ek sal jou vyand in jou hand gee.

Hierdie beeldspraak word selfs nog verder bevestig as mens in ag neem dat die tiende letter van die Hebreeuse alfabet die letter "yod" is wat "hand" beteken. Terwyl die eerste dag van die sewende maand (Yom Teruah) die konnotasie van ramshorings, wapens en oorloë het, het die tiende dag van die sewende maand (Yom Kippur) die konnotasie van versoening (die uitreik van die "hand"), d.w.s. herstel in die verhouding met Yahweh (in die eerste plek). Hierdie herstel / versoening bring ook ‘n herstel teweeg in die manier waarop ons na ons vyande kyk en ons krisisse hanteer: nie meer langer deur ons eie hand en ons eie pogings nie, maar nou deur die kragtige hand van Yahweh!

Kom ons kyk na sommige van die perspektiewe wat na vore kom in gedeeltes in die Skrif waar spesifiek aangedui word dat Yahweh iemand se vyand in sy hand gee.

  1. Inspirasie om tiendes vir die werk van Yahweh te gee
  2. Bereshiet (Gen) 14:20 En geseënd is El, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy hom die tiende van alles.

  3. Motivering om ‘n gelofte aan Yahweh te doen
  4. Bemiedbar (Num) 21:2 Daarna het Yiesraél aan Yahweh 'n gelofte gedoen en gesê: As U hierdie volk totaal in my hand gee, sal ek hulle stede met die banvloek tref.

  5. Verwarring in die kamp van die vyand
  6. Yahushua (Jos) 10:8-10 En Yahweh het aan Yahushua gesê: Wees nie bevrees vir hulle nie, want Ek gee hulle in jou hand; niemand van hulle sal voor jou standhou nie. Toe Yahushua hulle skielik oorval - hy het die hele nag deur van Ghielghal af opgetrek - het Yahweh hulle in verwarring gebring voor Yiesraél, en hy het 'n groot slag onder hulle geslaan

  7. Die versekering dat Yahweh voor jou uittrek
  8. Shofetiem (Rig) 4:14 Daarna sê Devorah vir Barak: Maak jou klaar, want dit is die dag waarop Yahweh Siesera in jou hand gee. Trek Yahweh nie voor jou uit nie? Toe trek Barak van die berg Tavor af, en tien duisend man agter hom aan.

  9. Oorwinning in die Naam van Yahweh
  10. 1 Shemuel (1 Sam) 17:45-46 Maar Dawied sê vir die Pelieshtyn: Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van Yahweh van die leërskare, die Elohiem van die leërafdelings van Yiesraél, wat jy uitgedaag het. Vandag sal Yahweh jou in my hand oorlewer.

  11. Erkenning gee aan die Meester van deurbrake
  12. 2 Shemuel (2 Sam) 5:19 Toe het Dawied Yahweh geraadpleeg en gesê: Sal ek optrek teen die Pelieshtyne? Sal U hulle in my hand gee? En Yahweh het aan Dawied gesê: Trek op, want Ek sal die Pelieshtyne verseker in jou hand gee. Daarna het Dawied na Baál-Peratsiem gegaan, en Dawied het hulle daar verslaan en gesê: Yahweh het voor my heen deur my vyande gebreek soos water deurbreek; daarom het hy daardie plek Baál-Peratsiem genoem.

  13. Verras deur die keuse van jongmanne

1 Melagiem (1 Kon) 20:13 Opeens kom daar 'n profeet na Agav, die koning van Yiesraél, en sê: So sê Yahweh: Het jy hierdie hele groot skare gesien? Kyk, Ek gee hulle vandag in jou hand, dat jy kan weet dat Ek Yahweh is. En Agav sê: Deur wie? En hy antwoord: So sê Yahweh: Deur die jongmanne van die owerstes van die provinsies. En hy sê: Wie moet die geveg begin? En hy antwoord: U.

"Oorwinning deur die hand van Yahweh" bring ‘n perspektief wat onmisbaar is vir die pad van geloof: DAAR IS LETTERLIK GEEN BEPERKING OF TEKORT OF KRISIS WAT ONS NIE TE BOWE KAN KOM AS ONS ONS VERTROUE IN YAHWEH PLAAS NIE.