ELIYAH VIR VANDAG

Die profeet EliYah kan met reg beskou word as een van die belangrikste profete wat ooit geleef het. Die Jode sien hom as ‘n profeet wat in die toekoms nog ‘n groot rol gaan speel en hou vandag nog vas aan die gebruik om elke jaar met Pesag / Pasga ‘n leë sitplek vir die profeet gereed te hou en tydens die seremonie iemand te stuur om te gaan kyk of EliYah, wat volgens die Skrif die voorloper van die Messias is, nog nie opgedaag het nie. Selfs in Christelike kringe word daar geweldig baie van EliYah gemaak en het dit byna ‘n mode-tema geword om te praat van "the spirit of Elijah" of "the end-time ministry of Elijah" – veral met verwysing na Mal’agi 4:17 "Kyk, Ek stuur julle die profeet EliYah voordat die groot en vreesaanjaende dag van Yahweh aanbreek." In die Na-Messiaanse Geskrifte word daar nie minder nie as 30 keer na die profeet EliYah verwys – meer as na enige ander profeet waarvan die Skrif praat (behalwe Mosheh / Moses wie se naam dikwels in die Na-Messiaanse Geskrifte gebruik word om na die geskrifte te verwys, en nie altyd ‘n persoonlike benaming is nie). Met hierdie studie wil ons opnuut na die betekenis en boodskap van die profeet EliYah gaan kyk en veral probeer vasstel wat dit volgens die Skrif beteken as ons erken en bely dat daar vóór die koms van die Messias eers ‘n EliYah tipe werk hier op aarde moet plaasvind. Vir die doel van hierdie studie sal ons hoofsaaklik fokus op die beskrywing van EliYah se betrokkenheid by die weduwee van Tsarfat en haar seun, soos dit in 1 Melagiem / Konings 17 opgeteken is.

  1. Vandag, soos in die tyd van EliYah, het dit nodig geword dat die Naam van Yahweh waarlik aangeroep word (vers 1).
  2. EliYah se naam beteken "My El (of my Elohiem) is Yahweh". Die betekenis van sy naam was terselfdertyd die belydenis van sy lewe. Hy het nie gehuiwer om in die openbaar te bely dat hy hom met Yahweh, die Elohiem van Yisrael verbind nie. Toe hy vir die weduwee se seun gebid het (vers 20), het hy die Vader se Naam aangeroep en Hom aangespreek as "Yahweh my Elohiem". Toe die Baälprofete in die volgende hoofstuk (18:24,26) die naam van Baäl (in Afrikaans vertaal: "Here") aangeroep het, het EliYah die Naam van Yahweh aangeroep. Hoe weet ons dat daar vandag ‘n EliYah werk in ons midde nodig is? Ons weet dit, want daar is ‘n hardnekkige weiering in ons dag om die Naam van die Allerhoogste te erken en dit deel van die aanbiddingstaal en die aanbiddingspraktyk van die gelowiges te maak.

  3. Vandag, soos in die tyd van EliYah, het dit nodig geword dat mense weer voor die aangesig van Yahweh sal staan (vers 1).
  4. Hierdie vers sê dat EliYah voor die aangesig van Yahweh gestaan ("amad") het. Hierdie woord beteken meer as net "staan". Dit beteken dat hy Yahweh se aangesig opgesoek het – dat hy sy hart daarop gesit het om te hoor en te doen wat Yahweh sê. Daarom het dit ook die betekenis van "to take a stand" (om sterk standpunt in te neem). Dit sluit aan by Yegezkel 22:30 "Ek het onder hulle ‘n man gesoek wat ‘n muur kan bou en voor my aangesig in die bres kan staan ("amad") vir die land, sodat Ek dit nie sou verwoes nie; maar Ek het niemand gevind nie. Verder het dit ook die betekenis van "om standvastig te bly; om nie handdoek in te gooi nie" soos in Yegezkel 22:14 "Sal jou hart standhou ("amad") of jou hande sterk wees in die dae as Ek met jou handel? Ek, Yahweh, het dit gepraat en sal dit doen." Dit is hierdie soort "staan" wat in ons dag nodig is en wat ons opnuut daaraan herinner: "Hy wat meen dat hy staan, moet oppas dat hy nie val nie" (1 Kor 10:12).

  5. Vandag, soos in die tyd van EliYah, is daar behoefte aan suiwerheid, egtheid en opregtheid soos gesien kan word by die weduwee van Tsarfat (vers 10-15).
  6. Die manier waarop die weduwee eenvoudig, sonder enige vrae en teenargumente, haar eie (gesin se) behoeftes op die agtergrond geskuif het en op die woord van die profeet ag gegee het, spreek onder meer van ‘n egtheid en ‘n kinderlike opregtheid wat tot in ons dag nie dikwels teëgekom word nie. Die interessante is dat die naam van die plek waar sy gebly het, juis beteken: "to refine; to purge away; to test". Haar kinderlike geloof herinner sterk aan die geloof van die Siro-Fenisiese vrou vir wie Y'shua gesê het dat ‘n mens nie die brood van die kinders vir die hondjies behoort te gooi nie (Mark 7:27). Die Siro-Fenisiese vrou se antwoord was: "Ja, Meester, maar die hondjies eet darem onder die tafel van die kinders se krummels." Hierdie gesindheid en insig het ‘n groot indruk op die Messias gemaak en Hy het nie net haar kind gesond gemaak nie, maar ook haar geloof by die omstanders aangeprys. Skrifkenners meen dat hierdie vrou, net soos die weduwee in Elia se tyd, in die dorpie Tsarfat, tussen Sidon en Tirus (en buitekant die grense van Yisrael) gewoon het.

  7. Vandag, soos in die tyd van EliYah, moet daar perspektief en regstelling kom te midde van die grootskaalse verwarring wat baie mense ervaar (vers 18).
  8. Toe hierdie vrou in een van haar vele krisisse kom, tree daar in haar gemoed ‘n verwarring in ("Wat het ek met u te doen, man van Elohiem?") wat selfs in ons tyd nie vreemd op die oor sal val nie. Hierdie soort verwarring kan voorkom by iemand wat begeer om Yahweh voluit te dien, maar ook by diegene wat verblind is deur die bekoring van afgodediens – soos in die geval van Agav in die volgende hoofstuk (Vgl. 1 Kon 17:18 met 1 Kon 18:17: "Is dit jy, jou beroerder van Yisrael?"). ‘n Mens kan hieruit maklik aflei waarom die wêreld vandag ‘n EliYah tipe werk nodig het voordat daar weer perspektief kan kom en restourasie kan plaasvind.

  9. Vandag, soos in die tyd van EliYah, moet die guns van Yahweh op die regte manier aan mense bedien word (vers 20-22).
  10. Hierdie gedeelte is ‘n duidelike illustrasie van Yahweh se guns – nie as ‘n verwydering van die wet of ‘n verskuiwing van die grenslyn nie, maar as die Vader se liefdevolle ontferming teenoor diegene wat bereid is om sy Woord eerste te stel - sy "ongeduld" om barmhartig te wees en ongeregtigheid te vergewe, sodat sy Naam daardeur geëer kan word en sy geregtigheid weer in mense se lewens herstel kan word.

  11. Vandag, soos in die tyd van EliYah, moet mense weer die boodskap hoor: Kyk, jou seun (dogter, moeder, vader, broer, suster) lewe! (vers 23).
  12. Die doodsheid wat in ons tyd wêreldwyd en in die lewens van indiwidue sigbaar is, herinner aan die doodsheid van Yegezkel se visioen in Yegezkel 37. Dit is die afval van die laaste dae waarvan die Skrif baie duidelik praat (o.m. in 2 Tim 3:1-5). Daar is geen aanduiding in die Skrif dat daar in die laaste dae ‘n "end-time revival" gaan plaasvind waarin hierdie doodsheid gaan plek maak vir ‘n wêreldwye oplewing in die geloof en morele waardes van derduisende mense nie. Daar is egter ‘n oorblyfsel wat Yahweh vir Homself uitverkies het en hierdie oorblyfsel sal deur middel van die Vader se EliYah werk in die laaste dae "ingebring" en lewend gemaak word. Lachayiem – op die lewe!

  13. Vandag, soos in die tyd van EliYah, is daar behoefte aan manne wat die Woord van Yahweh in waarheid aan mense bring (vers 24).

Daar is mense in hierdie wêreld wat moeg is vir die mooiweerspraatjies van selfaangestelde profete en wat smag daarna om die onvervalste Woord van Yahweh te hoor. Dure ondervinding het hulle geleer om tussen waarheid en leuen te onderskei en as die ware EliYah boodskap aan hulle gebring word, sal hulle ook soos hierdie vrou uitroep: "Nou weet ek dit dat u ‘n man van Elohiem is en dat die woord van Yahweh in u mond waarheid is."