EWIGE, MAAR VERBORGE WAARHEDE
Wat die verlossingsboodskap van die Skrif so uniek maak, is die feit dat dit uitstyg bokant ons aardse beperkinge van tydelikheid en verganklikheid en dat dit ons (gewone) mense in aanraking bring met die dimensie van permanensie en ewigheid. Om vir iemand wat elke dag worstel met die onbetroubaarheid en kortstondigheid van die instellings van hierdie wêreld, ‘n boodskap te bring wat op sigself niks bevat wat ewigdurend is nie, sal niemand juis opgewonde maak nie. Wat mense diep in hulle harte begeer (selfs al is daar baie wat dit nie erken nie), is ‘n boodskap van hoop – spesifiek die hoop en verwagting dat daar méér in ons bestaan opgesluit lê as net maar ‘n klomp dinge en aktiwiteite wat van verbygaande aard is. Die Woord van Yahweh is so ‘n bron van hoop en verseker ons dat sekere realiteite of waarhede NOOIT sal ophou nie.
Daar is talle dinge waarvan die Skrif sê dat dit ewig, vir ewig, vir altyd, ewigdurend of sonder einde IS of SAL WEES. Die woord wat verreweg die meeste in hierdie verband gebruik word, is "olam", of dikwels ook die uitdrukking "ad olam", wat ooreenstem met ons uitdrukking "tot in ewigheid". Die woord "olam" is afgelei van die stamwoord "alam" wat, interessant genoeg, die volgende betekenis het: "to conceal, to be secret, to hide". Daar is ongetwyfeld ‘n verband tussen hierdie twee begrippe wat ons moet raaksien en wat ons verstaan van die Skrif behoort te verbreed. Algemeen gesproke, lyk dit asof ons hieruit kan aflei dat "olam" of "ad olam" nie noodwendig botweg met "ewig" of "vir ewig" vertaal moet word nie. Dit lyk asof ‘n mens, minstens in sommige gevalle waar "olam" of "ad olam" gebruik word, dit eerder moet verstaan as "vir ‘n lang periode waarvan die tydsduur vir die mens verborge of geheim is" of "tot op ‘n onbekende of verborge tydstip in die toekoms".
‘n Mens wonder waarom daar in die Hebreeuse taal so ‘n duidelike verband tussen die begrippe "ewigheid" en "verborgenheid" is. Kan dit dalk die rede wees waarom die dinge wat met die ewigheid te make het, juis vir sommiges totaal verborge is, soos in YeshaYahu (Jesaja) 44:18 geskryf staan: "Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie". Dieselfde tendens kan baie duidelik ook in ons dag waargeneem word: mense wat skynbaar geen begrip of aanvoeling het vir dié dinge wat in die Skrif as "ewige" dinge aangedui word.
Dit kan ook wees dat die verband tussen ewigheid en verborgenheid só verstaan moet word dat Yahweh juis sy ewige (en mees uitstaande) waarhede in ‘n "wolk" van verborgenheid bedek of toevou, sodat dit nie misbruik of vertrap of vernietig kan word nie. ‘n Mens dink in hierdie verband aan Tehielliem (Psalm) 25:14 "Die verborgenheid van Yahweh is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak" en Mieshleh 2:1-5 "My seun, as jy my woorde aanneem en my gebooie by jou bewaar, sodat jy jou oor laat luister na wysheid, jou hart neig tot verstand; ja, as jy na die insig roep, na die verstand jou stem verhef, as jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte, dan sal jy die vrees van Yahweh verstaan en die kennis van Elohiem vind." Kom ons kyk vervolgens na ‘n paar gevalle in die Skrif waar sekere waarhede binne die konteks van "ewigheid" en "oneindigheid" aan ons oorgedra word. Daar is ‘n sterk vermoede dat elkeen van hierdie waarhede, ten minste gedeeltelik, in ‘n "wolk" van verborgenheid gehul is, juis omdat dit in Yahweh se oë so belangrik en gewigtig is.
Shemot (Eksodus) 3:15 Toe sê Elohiem verder vir Mosheh: Dit moet jy aan die kinders van Yiesraél meedeel: Yahweh, die Elohiem van julle vaders, die Elohiem van Avraham, die Elohiem van Yietsgak en die Elohiem van Yaakov, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig ("olam"), en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.
Shemot (Eksodus) 31:17 Tussen My en die kinders van Yiesraél is dit vir ewig ("olam")‘n teken; want in ses dae het Yahweh die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.
Wayyiekra (Levitikus) 23: 14,21,31,41 Dit (die feeste) is ‘n ewige ("olam") insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke.
Devariem (Deuteronomium) 29:29 Die verborge dinge is vir Yahweh onse Elohiem; maar die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid ("olam"), om te doen al die woorde van hierdie Torah.
1 Divre Hayamiem (Kronieke) 17:22 En U het u volk Yiesraél vir U as ‘n volk tot in ewigheid ("olam") gemaak; en U, Yahweh, U het vir hulle ‘n Elohiem geword.
Kohelet (Prediker) 3:14 Ek het ingesien dat alles wat Elohiem doen, vir ewig ("olam") sal bestaan; daar kan niks bygevoeg en daar kan niks van weggeneem word nie; en Elohiem het dit so gemaak dat hulle moet vrees voor sy aangesig.
YeshaYahu (Jesaja) 40:8 Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse Elohiem hou stand in ewigheid ("olam").
YeshaYahu (Jesaja) 51:8 Want die mot sal hulle opeet soos ‘n kleed, en die wurm sal hulle verteer soos wol; maar my geregtigheid sal vir ewig ("olam") bestaan en my verlossing van geslag tot geslag.
HIERDIE WAARHEDE IMPLISEER:
Tehielliem (Psalm) 10:16 Yahweh is Koning vir ewig en altyd
Tehielliem (Psalm) 12:7 U, o Yahweh, sal hulle bewaar … vir ewig
Tehielliem (Psalm) 33:11 Die raad van Yahweh bestaan vir ewig
Tehielliem (Psalm) 107:1 Sy goedertierenheid is tot in ewigheid!
Tehielliem (Psalm) 111:10 Sy lof bestaan tot in ewigheid.
Tehielliem (Psalm) 117:2 Die trou van Yahweh is tot in ewigheid.
Tehielliem (Psalm) 121:8 Yahweh sal jou uitgang en jou ingang bewaar … tot in ewigheid
DAAROM (meer spesifiek):
YermeYahu (Jeremia) 31:3 Yahweh het aan my verskyn uit die verte: Ja, Ek het jou liefgehad met ‘n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid.
IS ONS REAKSIE IN LYN HIERMEE?
Tehielliem (Psalm) 45:17 U Naam wil ek vermeld van geslag tot geslag; daarom sal die volke U loof vir ewig en altyd.
Tehielliem (Psalm) 61:4 Ek wil in u tent vertoef vir ewig
Tehielliem (Psalm) 73:26 Al beswyk my vlees en my hart—Elohiem is die rots van my hart en my deel tot in ewigheid
Tehielliem (Psalm) 86:12 Yahweh, my Elohiem, ek wil U loof met my hele hart en u Naam vir ewig eer
Tehielliem (Psalm) 119:44 Dan wil ek u wet voortdurend onderhou, vir ewig en altyd
Tehielliem (Psalm) 131:3 Wag op Yahweh, o Yiesraél, van nou af tot in ewigheid!
Tehielliem (Psalm) 145:2 Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd.