DIE FEESTE WAT
TALLE CHRISTENE NOG NOOIT GEVIER HET NIE
Wanneer 'n mens die lysie van godsdienstige feesdae of "holy days" in meeste van
die beskikbare dagboeke bestudeer, kom jy tot die skokkende gevolgtrekking dat
NIE EEN van die feeste wat in die Skrif as "Yahweh se feeste" beskryf word, in
die lysie voorkom wat in dagboeke as "Christian Holy Days" beskryf word nie! Die
omgekeerde is ook waar: NIE EEN van die feeste wat in die "Christian Holy Days"
lysie voorkom, word deur die Skrif voorgehou as 'n fees (of 'n "heilige dag")
wat deur gelowiges gevier moet word nie! 'n Mens kan byna nie anders nie as om
die vraag te stel: Is die Christelike geloof werklik op die Skrif gebaseer, of
nie? Of is die Protestantse slagspreuk "Sola Scriptura" ("Slegs die Skrif") leë
woorde sonder enige inhoud of betekenis? Mag ons die Skrif hanteer soos wat 'n
mens 'n ou tydskrif hanteer: Blaai vinnig van agter tot voor, knip uit waarvan
jy hou en gooi die res weg? Maar nog belangriker as die vraag of ons dit MAG
doen, is die vraag: Hoeveel van die seën wat die Skrif potensieel vir sy lesers
inhou, gaan ons misloop as ons nie die volle inhoud daarvan aanvaar nie?
Talle besware
kan onmiddellik geopper word. Behoort die feeste nie tot die ("skaduwee-")
bedeling wat met die koms van die Messias tot 'n einde gekom het nie? Het die
dood en opstanding van Yahshua en die uitstorting van die Gees nie
outomaties tot nuwe feeste gelei nie? Is die feeste nie bedoel vir die Joodse
volk as nasie nie - onderskeibaar van die res van die nasies van die wêreld nie?
Wat van die bring van offers wat volgens die Skrif ten nouste saamhang met die
onderhouding van die feeste - offers wat om bekende redes vandag nie meer
gebring word nie? Ook die praktiese onmoontlikheid vir meeste gelowiges om die
feeste te vier "op die plek wat Yahweh sal uitkies" (Deut 16:16)? Sê die Skrif
nie boonop (in Gal 4:9 en 10) dat hulle wat dae en maande en tye waarneem, weer
van voor af die swakke en armoedige eerste beginsels van die wêreld dien nie?
Hierdie en nog meer vrae het gemaak dat meeste gelowiges nog nooit werklik 'n
Skriftuurlike fees gevier het nie en ook nie werklik begeer om hierdie feeste te vier
nie. Wat meer is, miljoene gelowiges doen al eeue lank lustig mee om feeste (saam
met die res van die wêreld) te vier wat uit die afgodediens van die heidendom
oorgeneem en "geheilig" is deur daaraan 'n christelike kleur en karakter te gee
- feeste waarvan daar geen sprake in die Skrif is nie. Die bekendste hiervan is
Kersfees en Paasfees. Daar is 'n aantal feite waarvan ons in hierdie verband
moet kennisneem.
- Die
beste vertaling van die Hebreeuse woord ("mo'adim") wat normaalweg met "feeste"
vertaal word is "vasgestelde tye" of "appointed times" (hierdie vertaling kan
in 'n Hebreeuse Leksikon soos Strongs of Brown, Driver & Briggs gekontroleer
word). Die bedoeling is dat Yahweh sekere "mo'adim", sekere vasgestelde tye
bepaal het waarop Hy reg deur die geskiedenis, tot met die voleinding van die
wêreld, sy groot en beslissende handelinge met die mense van hierdie wêreld
sou volbring. Die belangrikheid van hierdie "mo'adim" in die oë van Yahweh kan
gesien word in die feit dat die skepping van die son en die maan en die sterre
(op die vierde skeppingsdag) plaasgevind het met die doel om as tekens te dien
vir die "mo'adim" en vir dae en vir jare (Gen 1:15). Die belangrikheid van
hierdie dae word verder geïllustreer deur die feit dat talle van die bekendste
gebeure in die Skrif op een van hierdie "mo'adim" plaasgevind het of daarmee
saamgeval het [bv. Die Aankoms in Egipte (Exod 12:41); Uittog uit Egipte (Exod
12:51); Gee van die Wet by Sinai (Exod 19:1); Intog in die Beloofde Land (Jos
5:9,10); Inwyding van Salomo se Tempel (1 Kon 8:2); die Herlewing onder koning
Hiskia (2 Kron 30:5); die Herlewing onder koning Josia (2 Kron 35:17-18); die
Herlewing onder Esra en Nehemia (Esra 6:19-22); die Teregstelling van Yahshua
(Matt 26:2); die Opstanding van Yahshua (1 Kor 15:20); die Uitstorting van die
Afgesonderde Gees (Hand 2:1)]. Hierdie merkwaardige verskynsel, tesame met die feit
dat die feeste as 'n "ewige insetting" gegee is (Exod 12:14); die feit dat
sekere profesieë dit duidelik stel dat die feeste nog tot na die wederkoms van
die Messias gevier gaan word (Sag 14:16) en die feit dat Paulus die feeste
beskryf as 'n skaduwee van die toekomstige dinge (Kol 2:17), dui daarop dat
Yahweh se groot handelinge in die laaste dae (die "toekomstige dinge") sonder
enige twyfel ook op hierdie "mo'adim" gaan plaasvind. Of ons nou ook al die
feeste erken of nie, Yahweh sal voortgaan om sy groot werke op die vasgestelde
tye uit te voer wat Hy voor die grondlegging van die wêreld in sy wysheid
bepaal het! Hy verlang van jou en my dat ons die feeste sal hou sodat ons
nooit sy groot verlossingswerke uit die oog sal verloor nie - nie dit wat Hy
reeds gedoen het nie en ook nie dit wat Hy nog gaan doen nie.
- Die
feit dat die feeste 'n "skaduwee" van die toekomstige dinge (L.W. nie "vervulde"
of "afgehandelde" dinge nie) genoem word, beteken nie dat die feeste
onbelangrik is nie. 'n Skaduwee is 'n waarborg dat iets werklik bestaan en
verseker dat 'n mens hierdie realiteit nie uit die oog verloor of vergeet nie.
'n Mens kan nie 'n skaduwee "afskaf" of "uitvee" soos wat jy wil nie. Solank
as wat die realiteit teenwoordig is, is die skaduwee ook teenwoordig. Yahshua
het nooit enigsins daarop gesinspeel dat die feeste tot 'n einde kom nie.
Inteendeel, Hy het sy verlange uitgespreek om 'n toekomstige Pasga saam met sy
dissipels in die koninkryk van Yahweh te vier (Luk 22:15,16). Nie Paulus of
enige ander van die apostels het ooit te kenne gegee dat die feeste beëindig
is nie. Inteendeel, hulle het die feeste gehou en gelowiges aangemoedig om
dieselfde te doen (Hand 18:20; Hand 20:16; 1 Kor 5:8). Al die apostels was ten volle bewus van hulle Meester
se woorde en sou nie enige iets geleer het wat daarmee in stryd was nie: "MOENIE
dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie
gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir
julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een
titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie. Elkeen dus
wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die
minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen
en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele" (Mat
5:17-19). Die mens hoef nie "nuwe feeste" te ontwerp om die geboorte, dood en
opstanding van die Messias te gedenk nie. Dit wat Yahshua ter wille van ons
verlossing kom doen het, het in die "volheid van die tyd" plaasgevind (Gal
4:4) en daarom volmaak ingepas by die "mo'adim" wat die Vader reg van die
begin af bepaal het.
- Net
soos wat die wet en die beloftes en die Messias en die ewige lewe in die Skrif
uiteindelik nie net aan die Jode gegee word nie, net so word die feeste ook
nie net aan die Jode gegee nie. Yahweh het aanvanklik 'n spesifieke nasie
uitgesonder van wie Hy lojaliteit verlang het en teenoor wie Hy sy wil en sy
karakter kon demonstreer, naamlik die nasie van Israel. Van die begin af was
dit egter sy bedoeling dat in Abraham "al die geslagte van die aarde geseën
word" (Gen 12:3). Sou Hy 'n ander maatstaf en 'n ander morele kode en 'n ander
verlossingsplan volg vir mense uit ander volkere as vir die mense van sy
uitverkore volk? Sou Hy sy hartsbegeerte vir die een groep mense in woorde
uitdruk, net om dit te herroep wanneer Hy Hom wend tot die ander groep? Sê die
Skrif dan nie uitdruklik dat die Messias gekom het om Jood en nie-Jood tot
een nuwe mens te skep nie (Efes 2:15)? Staan daar dan nie in soveel
woorde dat die gelowiges in die Messias (Jood en nie-Jood gesamentlik) die "uitverkore
geslag", die "heilige volk" en die "koninklike priesterdom" is nie (1 Pet
2:9)? Laat ons nooit uit die oog verloor nie dat die nuwe verbond aanvanklik
as 'n belofte aan Israel (en slegs aan Israel) gegee word (Jer 31:31-34).
Uiteindelik word die nuwe verbond gedeel deur Jood en nie-Jood wat die Messias
en sy leer aanvaar, hulle sondes deur Hom laat afwas en bereid is om (weer) op
die oorspronklike olyfboom (Israel) ingeënt te word (Rom 11:17-33). Die feit
dat die tempel in Jerusalem nie meer bestaan nie en dat daar vandag nie meer offers gebring
word nie, verander nie aan die blywende betekenis van die feeste as Yahweh se
"mo'adim" nie. As mense wat self aan die "wortel en die vettigheid van die
olyfboom" (Rom 11:17) deel gekry het; as mense wat "gesmaak het dat Yahweh
goedertieren is" (1 Pet 2:3) pas dit ons almal om dit te doen wat ons Vader
duidelik as sy begeerte (en sy opdrag) uitgespreek het: "Dit is die feestye
van Yahweh, die heilige vierdae wat julle moet uitroep op hulle bepaalde tyd
... 'n ewige insetting vir julle geslagte in al julle woonplekke" (Lev
23:4,14).
- Die
"dae, maande en jare" waarvan Paulus in Gal 4 praat, het niks met Yahweh se
feeste te make nie. (Lees gerus ons artikel: "The
idols modern man unwittingly embraces"). Dis eenvoudig ondenkbaar dat
Paulus, of enige apostel wat 'n ware volgeling van die Messias was, na Yahweh
se "mo'adim" as "swakke en armoedige eerste beginsels" sou verwys. Mag elke
volgeling van die Messias se oë oopgaan vir die rykdom van betekenis wat daar
in Yahweh se vasgestelde tye opgesluit lê. Laat ons die waarskuwing van Dan
7:25 ter harte neem - "hy (die Antimessias) sal probeer om vasgestelde tye en
wet te verander" - en laat ons daadwerklik begin om ons van die gebruike en
tradisies te distansieer waar die gees van die Antimessias reeds verwarring en
verandering gebring het. "Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg nie,
maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid" (1 Kor 5:8).
