GEREGTIGHEID VOLGENS YESHAYAHU 58

YeshaYahu 58 is een van die kragtigste hoofstukke in die hele Skrif en staan veral uit as ‘n oproep tot ware geregtigheid en ‘n opeenstapeling van beloftes aan diegene wat bereid is om hierdie pad van geregtigheid te loop. Die tema van geregtigheid word op verskillende maniere na vore gebring, onder meer ook deur verwysings na gesindhede en optrede wat in Yahweh se oë as ONGEREGTIGHEID bestempel word – d.w.s. die teenoorgestelde van geregtigheid. ‘n Aantal voorbeelde van verwysings na hierdie tema van geregtigheid (en ongeregtigheid) is die volgende: "soos 'n nasie wat geregtigheid doen" (vers 2); "die reg van sy Elohiem nie verlaat nie" (vers 2); "vra hulle My na die regverdige verordeninge" (vers 2); "Waarom vas ons, en U sien dit nie?" (vers 3 - m.a.w. Waarom is U nie regverdig nie?); "Noem jy dit vas en 'n dag wat vir Yahweh aanvaarbaar is?" (vers 5 – m.a.w. Noem jy dít geregtigheid?); "Is dit nie die vas wat Ek verkies nie?" (vers 6 – m.a.w. Is dit nie wat ware geregtigheid behels nie…?); "dan sal jou geregtigheid voor jou uit gaan" (vers 8); "As jy van jou verwyder die verdrukking…" (vers 9 – m.a.w. as jy ophou om ander onregverdig te behandel); "Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie…" (vers 12 – m.a.w. ‘n terugkeer na ware geregtigheid); ensovoorts.

Die boodskap van YeshaYahu 58 is duidelik en konsekwent dieselfde: As julle bereid is om elke vorm van ongeregtigheid uit julle midde te verwyder en die roete van geregtigheid in te slaan, wag daar vir julle ‘n wonderlike en oorvloedige seën. Die eenvoudige patroon wat hier na vore kom is die volgende: As …… (voorwaarde), dan ….. (belofte). Kom ons kyk vervolgens in meer detail na hierdie twee aspekte in YeshaYahu 58 – eers die voorwaardes en dan die beloftes …

VOORWAARDES:

Vers 6: (1)"As julle losmaak die bande van afvalligheid" – breek eens en vir altyd los van dit wat duidelik teen Yahweh se wil is

(2)"As julle afhaal (letterlik: "to be violently agitated") die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes ("those who are broken, bruised or crushed") en elke juk stukkend breek"

Vers 7: (3)"As jy jou brood breek vir hom wat honger het" – in plaas van tot vervelens toe brood breek saam met hulle wat oorvloed het

(4)"As jy ellendiges, swerwelinge in die huis inbring" – ander het hulle uitgewerp, gaan jy dit ook doen?

(5)"As jy iemand sien wat naak is en jy hom klee" ("to clothe fully, unreserved, unqualified")

(6)"As jy jou vir jou eie vlees nie verberg nie" – met ander woorde: jou nie skaars hou wanneer iemand van jou geloofsgemeenskap gebrek ly nie

Vers 9: (7)"As jy van jou verwyder die verdrukking" – letterlik: die jukke en hindernisse wegneem wat die hart of die kern van ‘n groep deurdring, byvoorbeeld …."die uitsteek van die vinger (d.w.s. nie diegene veroordeel of verafsku wat in eenvoud en opregtheid wandel nie) en die leuenagtige woord" (nie net leuens vermy nie, maar ook woorde van ydelheid en nietigheid)

Vers 10: (8)"As jy jou siel laat uitgaan na die hongerige" – m.a.w. nie ‘n houding van hardheid, kilheid, onbeweeglikheid inneem nie

(9)"As jy die neergeboë siel versadig" – nie net raaksien of effentjies help nie, maar "satsify, enrich, fulfil"

Vers 13: (10)"As jy jou voet terughou (d.w.s. jou voet nie laat loop en werk soos normaalweg nie) van die Shabbat" - om nie jou sake op my afgesonderde dag te doen nie

(11)"As jy die Shabbat 'n verlustiging (letterlik: "to be soft, delicate, delightful) noem"

(12)"As jy die afgesonderde dag van Yahweh hooghou" (letterlik: "as gewigtig beskou")

(13)"As jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie"

(14)"As jy nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal praat nie"

BELOFTES:

Vers 8: (1)"Dan sal jou lig deurbreek soos die daglig" – soos beskryf in YeshaYahu 29:18: "En in daardie dag sal die dowes Skrifwoorde hoor, en uit donkerheid en duisternis sal die oë van die blindes sien."

(2)"Dan sal jou genesing skielik uitspruit" – Yahweh se antwoord op die situasie soos beskryf in YeshaYahu 1:5-6 "Die hele hoof is swak, en die hele hart is siek. Van die voetsool af tot die hoof toe is daar geen heel plek aan nie, maar wonde en kwesplekke en vars houe! Hulle is nie uitgedruk of verbind of met olie versag nie"

(3)"Dan sal jou geregtigheid voor jou uitgaan" – geregtigheid sal die "leier" wees wat julle lei na Yahweh se shalom en seën (vgl. YeshaYahu 45:2)

(4)"Dan sal die grootheid van Yahweh jou agterhoede wees" – net Yahweh is so groot dat Hy tegelyk vóór en agter ons kan wees (vgl. YeshaYahu 52:12)

Vers 9: (5)"Dan sal jy roep, en Yahweh sal antwoord" – want sonde en ongeregtigheid vorm ‘n skeidsmuur tussen Yahweh en sy mense (YeshaYahu 59:1-2)

Vers 10: (6)"Dan sal jou lig opgaan in die duisternis en jou donkerheid wees soos die middag" – vgl. vers 8 – die feit dat hierdie belofte drie maal herhaal word (hier twee keer en in vers 8 een keer), dui daarop dat niks ‘n mens se oë só oopmaak soos wanneer jy geregtigheid najaag nie!

Vers 11: (7)"Dan sal Yahweh jou voordurend lei" – "hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water" (YeshaYahu 49:10)

(8)"Dan sal Yahweh jou siel versadig in dor plekke en jou beendere sterk maak" – presies dit wat in YeshaYahu 41:17-18 ook belowe word

(9)"Dan sal jy wees soos 'n tuin wat goed besproei is en soos 'n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie" – Volgens YeshaYahu 61:11 sal hierdie simboliese tuin die vrug van geregtigheid en lof te voorskyn bring

Vers 12: (10)"Dan sal die wat uit jou voortkom, die ou puinhope bou en die fondamente van vorige geslagte oprig" – Volgens YeshaYahu 52:9 en 61:4 sal dit die een, duidelike teken wees dat Yahweh sy volk vertroos en verlos het

(11)"Dan sal jy genoem word: Herbouer van gebreekte mure, hersteller van paaie" – die herstel waarvan hier gepraat word is ten diepste die herstel wat geïnisieer sou word deur die Seun wat in YeshaYahu 9:6-7 onder meer Raadsman en Vredevors genoem word en wat die koninkryk van Dawied sou bevestig en versterk deur reg en geregtigheid

Vers 14: (12)"Dan sal jy jou verlustig in Yahweh" – dieselfde verlustiging waarvan YeshaYahu 55:2 en 66:11-13 in detail vertel

(13)"Dan sal Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde" – volgens Amos 4:13 en MigaYah 1:3 is dit die plek waar Yahweh wandel – d.w.s. die najaag van geregtigheid bring ons in aanraking met die Allerhoogste!

(14)"Dan sal Ek jou laat geniet die erfdeel van jou vader Yaákov" – Yahweh sal sy woord hou en julle sal die goeie van die land eet soos onder meer in YeshaYahu 1:19 belowe word