‘N GETUIENIS IN DIE HARTE VAN KINDERS
Tehielliem / Psalm 78:3-7 Wat ons gehoor het en weet en ons vaders ons vertel het, sal ons nie verberg vir hulle kinders nie, maar aan die volgende geslag vertel die roemryke dade van Yahweh en sy mag en sy wonders wat Hy gedoen het. Hy tog het 'n getuienis opgerig in Yaákov en 'n wet gegee in Yiesraél, wat Hy ons vaders beveel het - om dit aan hulle kinders bekend te maak, sodat die volgende geslag dit kan weet, die kinders wat gebore word, dat hulle kan opstaan en vertel aan hulle kinders, en hulle vertroue op Elohiem kan stel en die dade van El nie vergeet nie, maar sy gebooie kan bewaar.
Daar is in ons tyd baie groot rede tot kommer as daar gekyk word na die koers wat ingeslaan word en die keuses wat gemaak word deur die kinders en jongmense van gelowige ouers. Kinders vir wie ‘n mens omgee; kinders wat volgens Tehielliem 78 bestem is om die getuienis van Yahweh te ontvang en dit later weer aan hulle kinders oor te dra. Kinders wat die Skrif duidelik uitsonder as diegene wat van kleins af hulle vertroue op Elohiem moet stel, deurdat hulle sy dade nie vergeet nie en sy gebooie sorgvuldig bewaar. Die vraag wat ‘n mens jouself afvra, is enersyds of daar iets is wat ons kan doen om ons kinders uit die byna onkeerbare stroom van losbandigheid, wetteloosheid en wêreldgelykvormigheid te red, en andersyds of enigiets wat ‘n handjievol ouers (en hulle kinders) in die midde van hierdie onkeerbare stroom probeer doen, enige wesenlike verskil sal bring, of enige impak op die wêreld sal hê. Is die saak nie alreeds verlore nie en is dit die moeite werd om nog iets daaraan te probeer doen?
Daar is geen twyfel daaroor nie dat die Een wat ons gemaak het – dieselfde Een wat ons hier op aarde geplaas het en wat uiteindelik ook ons redding sal bewerk – dat Hy ‘n vaste patroon neergelê het wat betrekking het op die verantwoordelikheid van ouers teenoor hulle kinders en dat hierdie patroon tot in ons dag nog geldig is. Wat is hierdie patroon? Dit is die bepaling dat ouers deur hulle gesprekke, deur hulle voorbeeld, deur hulle oordra en herhaling van kennis, deur hulle simboliese handelinge, deur hulle beplanning vir die toekoms, deur hulle dissipline, deur die keuses wat hulle maak, deur die reëls wat hulle neerlê, deur hulle evaluering van wat belangrik is en wat nie – dat hulle deur al hierdie dinge aan hulle kinders dit sal oordra wat hulle oor (en van) Yahweh geleer het en as die waarheid in hulle eie lewens ontvang het.
Dit word onder meer beklemtoon deur gedeeltes soos Shemot (Exodus) 12:27 ("dan moet julle vir julle kinders sê); 13:8 ("En jy moet jou seun op daardie dag vertel"); 13:14 ("dan moet jy jou seun antwoord"); Devariem (Deuteronomium) 4:9 ("en jy moet dit aan jou kinders en kleinkinders bekendmaak"); 6:7 ("en jy moet dit jou kinders inskerp"); 6:21 ("dan moet jy aan jou seun sê"); 11:19 ("leer dit aan julle kinders deur daaroor te praat"); 31:13 ("en hulle kinders wat dit nie ken nie moet hoor en leer om Yahweh te vrees"). Hierdie patroon is teenoor Avraham neergelê in Bereshiet (Genesis) 18:19 "Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis na hom bevel sou gee dat hulle die weg van Yahweh moet hou om geregtigheid en reg te doen". Dit word bevestig in Mieshleh (Spreuke) 22:6 "Oefen die seun ooreenkomstig die eis van sy weg; dan sal hy, ook as hy oud word, daar nie van afwyk nie" en ook in die Nuwe Verbond, in Efesiërs 6:4 "Voed julle kinders op in die tug en vermaning van die Meester".
Die interessante van Tehielliem 78 (hierbo) is dat Yahweh self ‘n getuienis opgerig het. Iets wat Hy opgerig het, kan nie sommer tot niet gemaak word nie. Al wat kan gebeur is dat mense daarvan vergeet, of dat hulle daarvan afwyk, of dat hulle dit doodeenvoudig ignoreer. Die feit bly egter staan: dit is opgerig deur die Almagtige en dit staan vas as ‘n baken en ‘n bron van sekerheid en koersvastheid – vir ons en ons kinders. Daarom kom die oproep van YeshaYahu 8:20: "(Terug) na die wet en die getuienis. As hulle nie praat (en lewe) ooreenkomstig hierdie woord nie, is hulle 'n volk wat geen daglig het nie." Die Hebreeuse stamwoord vir "getuienis" is "oed" wat onder meer beteken "to return, to repeat, to do again, to make a habit, to surround, to accustom, to affirm, to restore". Dalk het die Almagtige in sy wysheid geweet dat ons mense (van kindsbeen af) dit nodig sou hê om sekere waarhede by herhaling en oor en oor ter bevestiging te verneem. Dat ons gedurig deur die geklank van sy woord "omring" moet word en dat juis hierdie "gewoonte" ons geloof sou versterk, ja, voortdurend "verkwikking" en "vernuwing" (restoration) in ons harte sou bring. Om hierdie getuienis te onderdruk of te ignoreer, is om die wysheid van die Allerhoogste in twyfel te trek en by implikasie te sê dat ons en ons kinders nie sy inspraak en sy invloed in ons lewens nodig het nie.
In Tehielliem 119 verwys die psalmskrywer nie minder nie as 9 keer na die onskatbare waarde van Yahweh se getuienisse en hoor ons hom onder meer sê: v14: "Ek is vrolik in die weg van u getuienisse soos oor allerlei rykdom" (Waarom dink ons kinders dit is geen plesier om met die Woord besig te wees nie?); v31: "Ek kleef u getuienisse aan; o Yahweh, maak my nie beskaamd nie" (Waarom dink ons kinders die getuienisse van Yahweh is iets om oor skaam te wees?); v36: "Neig my hart tot u getuienisse en nie tot winsbejag nie" (Waarom is dit so swaar om ons kinders te oortuig dat Yahweh se getuienisse belangriker is as die verwerwing van rykdom?); v99: "Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing" (Waarom word akademiese kennis verhef bo die kennis van Yahweh se getuienisse?); v111: "Ek het u getuienisse vir ewig as erfdeel ontvang, want hulle is die vreugde van my hart" (Waarom kan ons en ons kinders nie ons lewenstyl verander as daar so ‘n groot erfdeel op die spel is nie?); v157 "My vervolgers en my teëstanders is talryk; van u getuienisse wyk ek nie af nie" (Waarom kan ons nie insien dat dit juis die getuienisse van Yahweh is wat ons in hierdie tyd van die bose en teen die morele gevare van ons tyd sal bewaar nie?).
In YeshaYahu 28 word op aangrypende wyse aangetoon dat Yisrael nog altyd die geneigdheid gehad het om Yahweh se getuienisse te minag en met trotsheid en hoogmoed daarop neer te sien. In vers 9 word beskryf hoedat hulle daarteen protesteer met die verskoning dat hulle nie kinders is wat so pas van die moederborste weggeneem is nie. Wie is Hy tog (die Almagtige) om hulle soos kinders te behandel? Dieselfde houding kom vandag nog by baie voor. Die getuienisse van Yahweh word geminag. Dit word afgemaak as "gebod op gebod" en "reël op reël" (vers 10) – iets wat benede die waardigheid van ‘n volwasse en moderne mens is. Daarom draai mense hulle rug daarop – en gaan heen en struikel agteruit en word gebreek en verstrik en gevang (vers 13). Hulle besef nie dat Hy hulle wil voorberei vir daardie dag wanneer "Yahweh van die leërskare tot 'n sierlike kroon en 'n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk" sal wees nie (vers 5). Nog minder besef hulle dat hierdie sg. "minderwaardige" getuienisse bedoel is om verkwikking en rus (Heb. "shabbat") te gee aan die vermoeides van hierdie wêreld nie (vers 12). As ‘n mens kyk na die samelewing van ons tyd, blyk dit dat dit nie net die grootmense is wat hierdie houding inneem nie, maar selfs die kinders. Selfs kinders wil nie soos kinders geleer en behandel word nie!
‘n Mens dink hier onwillekeurig aan die woorde van Tehielliem (Psalm) 8:2 "Uit die mond van kinders en suiglinge het U sterkte gegrondves, om u teëstanders ontwil, om die vyand en wraakgierige stil te maak." Die Messias het hierdie woorde aangehaal in MattietYahu (Matteus) 21:16 na aanleiding van die kinders wat in die tempel lof aan Hom as die Seun van Dawid toegebring het, terwyl die Skrifgeleerdes en die Fariseërs hulle neuse opgetrek het oor die wonderwerke wat Hy verrig het. As dit iets is wat die Vader in die monde van kinders "gegrondves" het om lof aan Hom toe te bring, dan is die situasie van ons dag nog soveel meer te betreur. Dit het tyd geword dat ons weer luister na die woorde en die profesie van Malági 4:6 ("En hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders, en die hart van die kinders tot hulle vaders, sodat Ek nie hoef te kom en die land met die banvloek tref nie") en alles in ons vermoë doen om in ons kinders iets van die hart en gesindheid van ons gelowige (voor-) vaders te herstel …