GOEDDOEN VANUIT ‘N VERNUDE HART
‘n Mens word deesdae gereeld gekonfronteer met stellings soos "Alle godsdienste is gelyk"; "Alle paaie lei na Rome"; "As ons onsself vergelyk met Moslems, Hindoes of Buddiste, lyk ons maar sleg"; "Wie sê ons is reg?" en "Die hemel is nie net vir mense wat die Messias erken nie." Daar was ‘n berig die afgelope week van aartsbiskop Desmond Tutu wat by ‘n funksie in Kaapstad gesê het ons moenie dink iemand soos die Dalai Lama sal die hemel belet word net omdat hy nie ‘n christen is nie. Dit laat mens nogal dink. Kom ons vergeet vir ‘n oomblik die hele dispuut of lewe na die dood hier op aarde of in die hemel gaan wees. Die vraag is: wie gaan daarvoor kwalifiseer? Jode, Christene, Messiaanse gelowiges of mense soos die Dalai Lama, wat sterker aan reïnkarnasie as aan die hemel glo, maar wie se lewe, vanuit ‘n menslike oogpunt, byna blaamloos is.
Die Dalai Lama is nogal ‘n indrukwekkende voorbeeld, as ‘n mens iemand wil uitsonder wat in goeddoen en morele standaarde ver bokant die gemiddelde uitgestyg het. As gevolg die politieke spanning tussen China en Tibet bly die Dalai Lama (wat in 1935 in Tibet gebore is) al sedert 1959, saam met omtrent 100 000 ander Tibettane, as politieke vlugteling in Indië. Byna op dieselfde wyse as Ghandi het hy as politieke en godsdienstige leier van Tibet oor ‘n periode van by die 70 jaar, soms onder baie moeilike omstandighede, ‘n onuitwisbare indruk gelaat. En dít nie net in die lewens en die bestemming van mede-Tibettane nie, maar ook in die harte en lewensopvattings van duisende mense reg oor die wêreld – veral aanhangers van die Buddistiese geloof (as ‘n mens Buddisme met sy meer as 360 miljoen aanhangers wêreldwyd, as ‘n geloof kan bestempel). Die feit dat hy in 1989 die Nobelprys vir vrede ontvang het, en altesaam seker meer as ‘n honderd hoog aangeskrewe eretoekennings van universiteite en groot instansies reg oor die wêreld ontvang het, is ‘n bewys dat die Dalai Lama ook die erkenning en respek van mense in die Weste geniet.
As ‘n mens na die uitsprake luister wat die Dalai Lama al gemaak het, is daar ‘n opvallende ooreenkoms met sommige van die uitsprake van die Messias. Hier is sommige daarvan:
"Our prime purpose in this life is to help others. And if you can't help them, at least don't hurt them."
"We can never obtain peace in the outer world until we make peace with ourselves."
"Spend some time alone every day."
"In the practice of tolerance, one's enemy is the best teacher."
"Love and compassion are necessities, not luxuries. Without them humanity cannot survive."
"To be aware of a single shortcoming within oneself is more useful than to be aware of a thousand in somebody else."
As ‘n mens na hierdie woorde van wysheid luister en dit saamvoeg met die persepsie onder baie mense dat die Dalai Lama, anders as meeste ander leiers, inderdaad uitleef wat hy verkondig, kan ‘n mens verstaan waarom Buddisme deesdae vir baie so aanloklik is en iemand onlangs gesê het dat in ‘n Westerse land soos Australië daar vandag meer Buddiste is as Baptiste. Ek probeer nie sê ons moet die antwoorde op al ons vrae by Buddisme gaan soek nie. Hoegenaamd nie. Ek wil vanuit die Woord probeer vasstel wat het ons om te wys wat die Dalai Lama en Buddisme nie het nie. Die antwoord lê vir my opgesluit in YeshaYahu 54 – om maar net een hoofstuk in die Skrif uit te sonder. Kom ons probeer om in hierdie hoofstuk te identifiseer wat dit is wat ons geloof nie net uniek maak nie, maar ook sterk en lewenskragtig – met die potensiaal om ons aan die einde van ons lewe met dieselfde oortuiging as Shaul te laat sê: "Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou" (2 Tim 4:7).
Die eerste sinsnede wat ‘n mens se oog vang is die woorde: "Jy sal nie nodig hê om te bloos nie" (vers 4). Hoekom sal die volgelinge van Yahweh nie nodig hê om te bloos nie? Omdat hulle lewens onberispelik was? Omdat hulle heeltyd vir mense rondom hulle herinner het aan hoe goed dit is om liefde en vrede en goeie werke na te jaag? Ek wil nie hierop sonder meer NEE antwoord nie. Want liefde en vrede en goeie werke is die vrug wat na vore MOET kom by hulle wat die Naam van Yahweh bely. Maar die Skrif leer vir ons dat alle mense onder die mag van sonde is en as jy bloot op jou eie goeie werke gaan staatmaak, gaan jy eendag met ‘n rooi gesig voor die Regter van almal staan – maak nie saak hoe ‘n goeie indruk jy by mense gemaak het nie.
Nee, die rede hoekom die volgelinge van Yahweh nie sal bloos nie is omdat hulle die belydenis van vers 5 met hulle hele hart kan bely: "Ons Maker is ons Man; Yahweh van die leërskare is sy Naam; en die Afgesonderde van Yiesraél is ons Verlosser. Hy is die Elohiem van die hele aarde." Dis die eintlike rede hoekom ons nie skaam is nie. Deur die absolute guns en goedheid en liefde van die Allerhoogste (nie deur ons eie goedheid en liefde nie) is ons in die posisie om te kan sê: Ons ken die Allerhoogste, die Afgesonderde van Yiesrael, die Elohiem van die hele aarde, by sy Naam – Hy is nie net ons Skepper nie, Hy is ons Man en Hy is ook ons Verlosser. Ons vertroue is dus op sý guns en sý goedheid – nie op ons eie goedheid en ons eie goeie vertoning nie. Dit word oor en oor in hierdie hoofstuk bevestig: "met groot ontferminge sal Ek jou vergader" (vers 7); "met ewige goedertierenheid ontferm Ek My oor jou" (vers 8); "berge mag wyk en heuwels wankel, maar my goedertierenheid sal van jou nie wyk nie" (vers 10).
Die volgende sinsnede wat uitstaan, is die volgende: "Jy, ellendige, deur storm gejaagde, ongetrooste! Kyk, Ek lê jou stene in sierklei, en Ek grondves jou in saffiere" (vers 11). In die oë van die mense van hierdie wêreld maak dit ‘n groot indruk as iemand soos die Dalai Lama deur baie ellendes en te midde van groot storms met groot deursettingsvermoë en met ‘n sterk karakter uitstyg bokant sy omstandighede en homself bewys as iemand besonders. Die volk Yiesrael het haarself oor die jare ook bewys as iemand of iets besonders. Maar dis nie waarna die Vader in die eerste plek kyk nie. Vir Hom is Yiesrael besonders omdat Hy haar vir Hom gekies het – juis op ‘n stadium toe sy glad nie iets besonders was nie. Maar Hy het haar iets besonders gemaak. Hy het haar stene in sierklei gelê. Hy het haar fondasie sterk en indrukwekkend gemaak. Hy het haar gegrondves in saffiere. Hy het vir haar vastigheid en skoonheid en begeerlikheid gegee. Daarom is haar roem in Hom alleen.
En dan die woorde: "Al jou kinders sal deur Yahweh geleer wees, en die vrede van jou kinders sal groot wees" (vers 13). Wat beteken dit om deur Yahweh geleer te wees? Dit verwys na dieselfde waarheid wat In YermeYahu 31:34 geprofeteer word: "En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken Yahweh; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, sê Yahweh; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie." Met ander woorde: Yahweh self sal hulle van binne af leer, sodat ‘n mens hulle nie van buite af hoef te leer nie. Wat sal Hy hulle leer? Mooi filosofieë, mensgemaakte teorieë en New Age wyshede? Nee, vers 33 van YermeYahu 31 beskryf dit in die fynste besonderhede: "Ek sal my Torah in hulle binneste gee en dit op hulle harte skrywe, sê Yahweh." Hoe sal Hy dit doen? Hoe sal Yahweh sy volgelinge leer? Die woord wat beide hier in YermeYahu 31 en YeshaYahu 54 vir "leer" gebruik word, is die woord "lamad". Volgens alle aanduidings is dit dieselfde woord wat ook as kollektiewe benaming vir die volgelinge (of leerlinge) van die Messias gebruik is: "talmudiem", afgelei van "lamad" wat volgens die woordeboeke beteken: "to goad or to teach".
Wat beteken die woord "goad"? Die woord kan as werkwoord of as selfstandige naamwoord gebruik woord. As ‘n selfstandige naamwoord dui dit op ‘n stok of ‘n staf wat as aansporing vir trekdiere gebruik word. Na aanleiding hiervan sê woordeboeke dis "something that encourages, urges, or drives; a stimulus". As werkwoord het dit dus die volgende betekenis: "to give heart or courage to do something; to urge as if with a goad". Dis presies hoe ons Abba ons leer: Hy spoor ons aan vanuit ons verborge innerlike. Hy bemoedig ons. Hy pleit by ons as dit nodig is. Maar ten diepste motiveer en inspireer Hy ons – op ‘n manier wat niks anders ons kan motiveer en inspireer nie – om sy Torah te volg . Vir ons voel dit daar is iets wat ons stuur en ons dryf, maar daar is niemand met ‘n stok nie of met ‘n lat nie. Dit kom van binne af, dis onsigbaar, maar dis kragtig en oortuigend. Ons hoef nie voor te gee wat ons nie is nie. Ons hoef nie mense te probeer beïndruk nie. Ons hoef nie erkenning op openbare verhoë te ontvang nie. Ons kan maar net voortgaan om ons aan die lering en leiding van Yahweh, deur sy Gees in ons, te onderwerp. Dis ‘n soort lering gevul met geregtigheid en dissipline, maar terselfdertyd ook met deernis en liefde en ontferming. Dis ‘n soort lering wat ons laat besef: Daar is nie nog ‘n Leermeester soos Hy nie …