GROTER AS JOU VYANDE

Sommige mense maak beswaar teen die inhoud van die Skrif deur te sê dat daar te veel klem gelê word op vyande en vyandskap en oorloë. Veral die feit dat oorloë goedgekeur word en die gewelddadige optrede teen die vyand dikwels in detail beskryf word. Yahweh self het dikwels opdrag gegee dat daar teen vyandige nasies oorlog gevoer moes word, en as die volk so ‘n opdrag verontagsaam het, moes hulle die negatiewe gevolge daarvan dra. Die woord "vyand" word veel meer in die Skrif gebruik as die woord "vriend". Soms word daar verwys na iemand soos Dawied wat nie geskroom het om te bid dat Yahweh met sy vyande sou afreken nie. So byvoorbeeld, Tehielliem / Psalm 71:13 "Laat hulle wat my as vyand behandel, beskaamd staan, verteer word"; Tehielliem 108:13 "Elohiem self sal ons vyande vertrap" en Tehielliem 143:12 "Vernietig my vyande in u goedertierenheid; bring hulle almal om wat my as vyand behandel." Die Skrif, sê mense dikwels, is ‘n boek wat twis en vyandskap aanwakker, nie ‘n boek wat vrede najaag en harmonie tussen mense probeer bewerkstellig nie.

Dit is nie te moeilik om aan te toon dat hierdie kritiek teen die Skrif nie heeltemal geregverdig is nie. Die feit van die saak is dat daar van die begin af vyandskap was teen hulle wat hulle aan die kant van die Almagtige geskaar het. So was dit van die begin af, en so is dit tot vandag toe. Vyande van Yahweh en sy weë is vanselfsprekend ook vyande van dié wat kies om in sy weë te wandel. Die grootste gedeelte van die Skrif fokus juis op situasies waar Yahweh met sy hand van redding ingegryp het toe die volk in nood was en deur vyandiggesindes onderdruk is. Vyandskap is volgens die Skrif nie bloot ‘n slegte gesindheid nie, dis die onafwendbare gevolg van sonde en sal deel van hierdie wêreld bly totdat Yahweh elke vyand onder die voete van sy Seun onderwerp het. Hierdie patroon is reeds aan die begin neergelê toe Yahweh vir Satan gesê het: "Ek sal vyandskap stel tussen jou en die vrou, en tussen jou saad en haar saad. Hy sal jou die kop vermorsel, en jy sal hom in die hakskeen byt" (Bereshiet / Genesis 3:15).

Dit is ook nie waar dat die Skrif gelowiges aanmoedig om hulle vyande te haat en te verwens nie. Daar is ‘n algemene wanopvatting dat die Ou Verbond geleer het dat jy jou vyand moet haat en moet vergeld vir wat hy jou aangedoen het en dat dit die Messias was wat vir die eerste keer so ‘n houding teenoor die vyand gekritiseer het en gesê het dat jy jou vyand moet liefhê. Daar word dikwels in hierdie verband verwys na Matt 5:43-44 "Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg." Die woorde "julle het gehoor dat daar gesê is" verwys nie na die geskrewe Woord van Yahweh of na die Torah soos Mosheh dit van Yahweh ontvang het nie. Al wat in die Torah geskryf staan is dat jy jou naaste moet liefhê, nie dat jy jou vyande moet haat nie. Oor die eeue het die Yehudiem egter vir hulleself die vryheid veroorloof om hulle eie interpretasie van die Torah by die Skrif by te voeg en presies dieselfde waarde daaraan toe te ken as aan die res van die Torah.

Beide die Torah en die res van die Skrif stel dit duidelik dat daar te alle tye billik en regverdig en waardig teenoor die vyand opgetree moet word en dat dit aan Yahweh oorgelaat moet word om die afvalliges en die teëstanders van die waarheid te vergeld. Hierdie algemene riglyn word reeds in Shemot 23:4-5 duidelik neergelê: "As jy jou vyand se bees of esel teëkom wat ronddwaal, moet jy dit sekerlik vir hom terugbring. As jy jou vyand se esel onder sy pak sien lê, moet jy dit nie onverskillig aan hom oorlaat nie: jy moet dit sekerlik saam met hom aflaai." Mieshleh / Spreuke 25:21 sluit hierby aan en word in die Nuwe Verbond net so deur die apostel Shaul aangehaal: "As jou vyand honger het, gee hom brood om te eet; en as hy dors het, gee hom water om te drink." Uit Job 31:29 kan afgelei word dat dit sonde is om bly te wees oor die rampspoed van jou hater en te jubel het wanneer onheil hom tref. Hierdie beginsel word bevestig in Mieshleh / Spreuke 24:17 "As jou vyand val, verheug jou nie; en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie" en ook in Tehielliem / Psalm 35:13-14 "En ek - toe hulle (my vyande) siek was, het ek 'n roukleed gedra; ek het my siel gekwel met vas, en my gebed het teruggekeer in my boesem. Ek het rondgegaan asof dit 'n vriend, asof dit 'n broer van my was; ek het gebuk gegaan in die rou soos een wat oor sy moeder treur."

Die film "Kingdom of heaven" gaan oor die Kruistogte van die twaalfde eeu en ‘n ystersmid met die naam Balian van Ibelin wat na Jerusalem gaan om oorlog te voer teen die Moslems onder Saladin wat met ‘n hewige militêre aanslag probeer om die Christene uit Jerusalem te verdryf. Die tema van die film laat uit die aard van die saak baie vrae by ‘n mens ontstaan. Vrae soos: Hoe het die Christene dit geregverdig om "ter wille van die kruis" en "in the Name of God" die swaard teen die Moslems op te neem, Jerusalem te beset en in die proses gruwelike dade teen baie nasies en groepe te pleeg – onder meer ook teen die Jode? Alhoewel daar baie fiktiewe elemente in die film is en die waarheid soms so ‘n bietjie verdraai word, kry ‘n mens die indruk dat die morele waardes en algemene gedrag van die Moslems (by name hulle leier, Saladin) soms ver beter was as dié van die Christene. Daar is egter een gedeelte wat vir my uitstaan in die film: Balian beland in ‘n geveg met ‘n Moslem – hy verslaan hom, maar bewys daarna besondere guns aan sy slaaf. Die slaaf bedank hom en sê onder meer vir hom: "Your qualities will be known among your enemies before you meet them. " Later kom dit uit dat hierdie man in werklikheid nie ‘n slaaf was nie, maar een van Saladin se generaals en hy bewys later ‘n soortgelyke guns aan Balian.

"Your qualities will be known among your enemies before you meet them." Is dit waar van ons? Is dit nie waar dat die grootste toets vir die kwaliteit van ons geloof juis na vore kom wanneer ons met vyande en vyandigheid gekonfronteer word nie? Watter kwaliteite kan daar in sulke tye by ons waargeneem word? Watter soort rapport oor ons kom daar by ons vyande uit – selfs nog lank voordat ons hulle ontmoet? Is dit ‘n negatiewe rapport of ‘n positiewe rapport? Is dit ‘n rapport wat ons op een vlak met ons vyande plaas – wat aan hulle die boodskap oordra dat ons bereid is om ons aan dieselfde bedenklike gedrag as hulle skuldig te maak? Of is dit ‘n rapport wat respek afdwing en die veragtelikheid van hulle eie optrede onderstreep?

Ons sal altyd deur vyande en vyandigheid omring word. Hoe meer ons kies om Yahweh te gehoorsaam en in sy weë te wandel, hoe meer vyandigheid sal ons ervaar. Dis hoe die Woord sê dit sal wees. Dis wat Y'shua oor en oor vir sy volgelinge gesê het. Julle sal deur almal gehaat word ter wille van my Naam … ‘n Mens se huisgenote sal sy vyande wees" (Matt 10:22,36). "As die wêreld julle haat, moet julle weet dat hy My voor julle gehaat het" (Yahuganan / Joh 15:18). As ons daadwerklik iets wil doen om ons getuienis in hierdie wêreld te versterk en geloofwaardig te maak, moet ons ‘n slaggie kyk na die manier waarop ons teenoor ons vyande optree. Ons sal goed doen as ons in gedagte hou dat die vyandigheid wat na ons kant toe kom, eintlik nie vyandigheid teen ons is nie, maar vyandigheid en rebelsheid teen die waarheid van Yahweh se Woord. Y'shua het iets hiervan verstaan toe Hy eenkeer gesê het: "Die wêreld kan julle nie haat nie; maar My haat hy, omdat Ek van hom getuig dat sy werke boos is" (Yahuganan/ Joh 7:7). Daarom het Hy ook op ‘n ander plek gesê: "Julle sal deur almal gehaat word TER WILLE VAN MY NAAM". Mense haat ons nie in die eerste plek omdat óns so veragtelik is nie, maar omdat die boodskap waarvoor ons staan soveel rebelsheid by hulle ontketen. Waarom? Omdat die groot vyand van Yahweh, Satan, met alle mag en geweld probeer keer dat iemand sy hart op hierdie boodskap verloor!

Laat ons ook altyd onthou dat iemand wat op die oomblik vyandig teenoor my staan en my as sy vyand beskou, in werklikheid een van die uitverkorenes van Yahweh kan wees! Hierdie waarheid word vir ons verwoord in Rom 11:28 "Wat die evangelie betref, is hulle wel vyande ter wille van julle; maar wat die uitverkiesing betref, bemindes ter wille van die vaders." Laat ons nie te vinnig wees om die etiket van "vyand" op iemand te plak nie. Hierdie sogenaamde "vyand" is dalk al die tyd ‘n beminde van die Vader! Wees geduldig met hom. Stap ‘n pad met hom. Moet hom nie sommer afskryf nie. Yahweh, wat soveel geduld met jóú gehad het, het dalk nog ‘n wonderlike plan met sy lewe. Bo alles, moenie in die strik trap om dieselfde metodes en gedrag van haat en nydigheid as jou vyand te openbaar nie. Ons is groter as ons vyande – nie omdat ons iets besonders is nie – maar omdat Yahweh iets besonders in ons lewens gedoen het. Ons is in die unieke posisie om vurige kole op die hoofde van ons vyande op te hoop (Rom 12:20) – nie net deur vir hom iets te gee as hy honger of dors is nie, maar ook deur met ons optrede te begin om ‘n totale nuwe soort honger en ‘n nuwe soort dors in sy of haar lewe tot stand te bring – ‘n honger en dors na die ware lewe en die ware geregtigheid wat Yahweh vir ons bestem het.