GRONDSLAG VAN DIE WAARHEID (4)
In n mens se strewe daarna om die waarheid na te jaag en jou lewe daarop te bou, ontdek jy al hoe meer dat "waarheid" nie meer n ereplek in hierdie wêreld beklee nie en lankal nie meer so n gesogte artikel is as wat dit vroeër dae was nie. Dit word treffend deur hierdie twee spotprente uitgebeeld:

Wanneer ons na die wêreld rondom ons kyk en besef hoe n skaars artikel die liefde vir die waarheid geword het, kan ons nie anders as om met Bertrand Russel saam te stem nie:
"Truth is always veiled, always distant, never wholly approachable, but worthy of all the devotion of which the human spirit is capable"
Daar is n sin waarin die leuen n voorsprong het bo die waarheid. Dit word soms makliker geglo, is dikwels meer gewild en dit versprei dubbel so vinnig as die waarheid. Dit was Mark Twain wat gesê het: "A lie can travel halfway around the world while the truth is putting on its shoes." In sy almag het Yahweh die waarheid (of n porsie van die waarheid) aan jou en my toevertrou. Gaan ons voortgaan om ewe gelate toe te sien dat die leuen van krag tot krag gaan en soos n veldbrand versprei, terwyl ons nog rustig ons skoene vasmaak, of gaan ons in alle erns begin om die kosbare skat te versprei wat aan ons toevertrou is en wat elke grientjie toewyding waaroor ons beskik verdien? Winston Churchill het eenkeer gesê: "Men occasionally stumble over the truth, but most of them pick themselves up and hurry off as if nothing ever happened." Niemand van ons wat iets van die waarheid ontdek het maak nie saak op watter manier dit gebeur het of hoe gebrekkig ons kennis nog is nie niemand van ons behoort só blazé hieroor te wees dat ons opstaan en wegloop asof niks gebeur het nie.
Daar kan baie besware ingebring word teen n ywer vir die waarheid en n passie om dit met ander te deel. Daar kan baie sogenaamde redes opgenoem word waarom ons liewer die waarheid vir onsself moet hou. Een daarvan is dat die leuen al so ingeburger is dat mense nie meer oop vir die waarheid sal wees nie. Dieselfde leuens word oor en oor herhaal en enigiets wat daarmee in stryd is, sal met die grootste teenkanting begroet word. Iemand het eenkeer gesê: "Repetition does not transform a lie into a truth." Die feit dat mense dag in dag uit daarmee gekonfronteer word, maak dit nog nie die waarheid nie. As dit misleiding is moet die met die waarheid reggestel word, nie met herhaling van die leuen nie. Die waarheid is soos die instrument van n snydokter dit maak seer, maar uiteindelik maak dit gesond.
n Ander beswaar wat ingebring kan word daarteen om die waarheid met ander te deel, is die beswaar dat geen mens n ander mens kan oortuig nie. "Slegs die Gees van Yahweh kan mense oortuig." Dit is natuurlik waar, maar behoort ons nie in ons dop te laat kruip nie. Die bekende Tertullianus wat in die tweede eeu na Messias gelewe het, het gesê "Truth persuades by teaching, but does not teach by persuading." Die waarheid het nie nodig om met goeie argumente en n sterk redeneringsvermoë ondersteun te word nie. Dis die leuen wat allerlei menslik uitgedinkte tegnieke nodig het om te kan oorleef. Die waarheid is sterk genoeg om self te oorleef en te oortuig. Yahweh se Gees staan gereed om mense te oortuig. Maar ek en jy moet gehoorsaam wees om uit te gaan met die waarheid. Nie net "uitgaan" in die sin van na ander plekke toe gaan nie, maar veral "uitgaan" in die sin van op die uitkyk wees vir geleenthede om vir die waarheid op te staan.
Nog n beswaar is dat die waarheid nie vir mense aanloklik is nie en dat die Skrif dit ook nie altyd as iets aanlokliks voorstel nie. Uit ondervinding weet ons dat mense die waarheid dikwels as "absurd" en "verregaande" bestempel. Meeste waarhede klink vir mense onaanvaarbaar wanneer hulle dit die eerste keer hoor. Kyk net hoe heftig die wêreld gereageer het toe wetenskaplikes die eerste keer gesê het die aarde is rond en nie plat nie. Ons kan vir mense help om te verstaan dat
waarheid nie altyd sinoniem met gemak, menslike logika en skoonheid is nie. Iemand het gesê "Beauty often seduces us on the road to truth." In die waarheid self is daar n dieper skoonheid en n sterker krag in opgesluit as wat met die eerste oogopslag gesien kan word. Maar weer eens, ons hoef nie te probeer om hierdie skoonheid en krag aan mense voor te hou, sodat ons boodskap vir hulle meer aanneemlik kan wees nie. Soms is daar n proses wat moet verloop wat tyd neem en verg dat ons geduldig moet wees. "Truth is the daughter of time" het iemand in hierdie verband tereg gesê.n Verdere beswaar is dat mens liewer nie moet probeer om die waarheid aan iemand voor te hou nie, omdat jy as mens uiteindelik ongeag jou eie goeie bedoelings meer skade kan doen as goed. Daar is natuurlik n groot stuk waarheid hierin opgesluit. William Penn het in die 17de eeu sterk standpunt vir die waarheid ingeneem en onder andere ook beswaar gemaak teen die kerk van sy dag en die manier waarop dogmas soos die Drie-eenheid deur die kerk en haar leiers hanteer is. Hy moes die prys betaal vir sy moedigheid en het onder swaar vervolging gebuk gegaan, onder andere by meer as een geleentheid tronkstraf uitgedien. Vandag word hy allerweë beskou as een van die grootste Amerikaners van alle tye (Pennsylvania is na hom vernoem). Hy is ook bekend vir sy uitspraak: "Truth often suffers more by the heat of its defenders, than from the arguments of its opposers." Ek en jy kan uiteraard maklik in dieselfde valstrik trap. Dit moet ons egter nie laat spoed verloor in ons ywer vir die waarheid nie. Laat ons liewer luister na die woorde van die Messias: "Wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe."
Nog n beswaar is dat sommiges meen dat meeste mense daarbuite (veral diegene wat as "gelowiges" bekend staan) reeds minstens n gedeelte van die waarheid ken en nie nodig het om dinge te hoor wat hulle kan verwar nie. Daars n Joodse spreuk wat sê n halwe waarheid is n volle leuen. Iemand anders het weer gesê: "Beware of the half truth. You may have gotten hold of the wrong half." Verder is dit ook waar dat dit twee keer so moeilik is om n halwe waarheid te ontmasker as wat dit is om n hele leuen as misleiding aan die lig te bring. Dit is leuens wat tot n baie groot mate maak dat die wêreld lyk soos dit vandag lyk. Laat ons wat iets van die waarheid ken en iets van die waarheid ervaar het, iets van die waarde daarvan ontdek het, nie daarmee opgeskeep sit soos mense wat in n staat van hipnose is nie.
Met ons eerste boodskap in hierdie reeks het ek Ralph Waldo Emerson daarvoor gekritiseer omdat hy gesê het "Do not look outside the self for the truth. Self-reliance is the best way to discover truth." Vandag wil ek iets anders aanhaal wat hy ook gesê het en daarvoor wil ek hom nie kritiseer nie, daarvoor wil ek heelhartig met hom saamstem: "The greatest homage we can pay truth is to use it." Ek wil nie so ver gaan om die bekende rugby spreuk "Use it, or loose it" net so op die waarheid van toepassing te maak nie. Netnou beskuldig iemand my daarvan dat ek sê die waarheid is soos n sportsoort of n speletjie. En glo my, die waarheid en die verantwoordelikheid om die waarheid reg te hanteer, is nie n speletjie nie! Maar daar is iets voor te sê om die waarheid te gebruik en te beoefen en die gesprek oor die waarheid te stimuleer in hierdie wêreld. Dit kan dalk net gebeur dat ons voor ons eie oë sien hoedat die stukkie wêreld waarmee ons te doen het, deur die waarheid reggeruk word en weer begin sin maak en funksioneer soos Yahweh bedoel het.