Charles Spurgeon het êrens geskryf: "The very essence of anxious care is the imagining that we are wiser than the Almighty, and the thrusting ourselves into his place to do for him that which he has undertaken to do for us." Kwelling en kroniese bekommernis oor aardse dinge is een van die grootste vyande van geloof. Deur gedurig besorgd te wees oor sake wat met ons daaglikse lewe te make het, beroof ons onsself van die geloofskalmte en die "shalom" wat Yahweh deur sy Gees in ons harte uitgestort het. Wat meer is, ons straal die boodskap uit dat ons nie seker is of ons hemelse Vader in staat is om ons probleem vir ons op te los nie – al het ons hoe ernstig daaroor gebid. Daar is niks wat meer skadelik op ons geloof inwerk as dit nie. Daar is ook niks wat ons getuienis teenoor ander mense minder geloofwaardig maak as dit nie. Kom ons vind uit wat die Skrif vir ons in hierdie verband kom leer.
- Tehielliem 55:22 Werp jou sorg op Yahweh, en Hy sal jou onderhou; Hy sal nooit die regverdige laat wankel nie (vgl. ook 1 Kefa 5:7). Hierdie vers is nie net die basiese geloofsoortuiging van hulle wat Yahweh aanbid nie, dit is ook die diepste rede waarom dit ‘n groot fout is om ons sorge self te probeer dra. Wanneer ‘n mens jou sorge eiehandig probeer hanteer, is die kanse goed dat jy verkeerde metodes gaan gebruik en nog dieper in die dryfsand van vertwyfeling gaan wegsink. Die Woord sê ondubbelsinnig: Yahweh SAL diegene onderhou (bewaar en bewaak – "natsar") wat hulle vertroue in Hom stel – net soos Hy vir Avraham en Josef en Dawied en EliYah bewaar het. Dit word treffend verwoord in Devariem 32:9-12: "Want Yahweh se deel is sy volk, Yaákov is sy afgemete erfdeel. Hy het hom gevind in 'n woestynland en in 'n woeste wêreld, vol gehuil van die wildernis; Hy het hom omring, op hom ag gegee, hom bewaak ("natsar") soos sy oogappel. Soos 'n arend sy nes opwek, oor sy kleintjies sweef, sy vlerke uitsprei, hulle opneem, hulle dra op sy vleuels - Yahweh alleen het hom gelei, en daar was geen vreemde El by hom nie."
- YermeYahu 17:7-8 Geseënd is die man wat op Yahweh vertrou, en wie se vertroue Yahweh is. Want hy sal wees soos 'n boom wat by die water geplant is en sy wortels uitskiet by die stroom en nie vrees as daar hitte kom nie, maar sy blad bly groen; en in 'n jaar van droogte is hy nie besorg nie en hou nie op om vrugte te dra nie (vgl. ook Tehielliem 1:1-3). Om oormatig besorg oor allerlei aardse dinge te wees is ‘n aanduiding dat ons Yahweh nie meer vertrou soos wat ons Hom behoort te vertrou nie. Dat ons wortels nie meer by die stroom van lewende water is nie en dat ons daarom nie meer kan oorleef en kan vrug dra as daar "hitte" en "droogte" kom nie. Die manier waarop die woorde in vers 7 in Hebreeus op mekaar volg, plaas ‘n drie-dubbele klem daarop dat ons vertroue slegs in Yahweh moet wees: