HOE MEET ONS WAARDE?
Almal van ons is gedurig besig om waarde aan dinge en mense te heg. As iets vir ons waardevol is, sal ons dit najaag en beskerm. As dit waardeloos is, sal ons nie veel aandag daaraan gee nie. Die belangrike vraag wat elkeen vir homself behoort af te vra, is dit: Watter maatstaf gebruik ek om "waarde" te meet? As my maatstaf verkeerd is, kan ek ‘n klomp tyd en energie verspil om iets na te jaag, wat ek gedink het groot waarde het, maar wat in werklikheid nie veel werd is nie. As ‘n mens na die wêreld daarbuite kyk, is dit duidelik dat almal nie dieselfde maatstaf gebruik om waarde te meet nie. Wat vir een mens waardevol is, is vir ‘n ander betekenisloos. En wat vir een mens ‘n gejaag na wind is, is vir ‘n ander die hoogste ambisie van sy lewe. Dis soos die Engelse spreuk wat sê: "One man’s junk is another man’s treasure."
Hoe meet ek en jy waarde, of sukses, of grootheid? In die koue gedeeltes van Noord Amerika en Noord Europa kom daar ‘n muishond-tipe diertjie voor wat as ‘n "hermelyn" (Engels: "ermine") bekendstaan. Die eienaardige van die hermelyn is dat hy ‘n dik, bruin pels het wat in die winter spierwit word en wat vroeër baie gesog onder pels-handelaars was. Jagters het mettertyd ‘n slinkse manier gevind om hierdie diertjies in die hande te kry. Al wat hulle moes doen was om hulle blyplek op te spoor (hulle bly dikwels in rotsskeure of in uitgeholde boomstamme) en dan die ingang en binnekant van hierdie blyplek met swart teer te besmeer. Daarna moes hulle bloot naby die blyplek met hulle honde skuil en wag totdat die hermelyn daar opdaag. As die hermelyn terugkom en sien dat hy sy pels gaan swart smeer as hy in sy blyplek ingaan, draai hy om en is hy bereid om eerder die jagter se honde te trotseer as om sy pels vuil te maak. Vir die hermelyn is uiterlike skoonheid belangriker as sy eie lewe. Watter waarde heg ek en jy aan uiterlike skoonheid? Watter waarde heg ons aan innerlike skoonheid en reinheid? Sou ons ons eie lewe op die spel plaas daarvoor?
Iemand het eenkeer gesê "You cannot control the length of you life-but you can control its width and depth." Die lengte van ons lewe gaan oor kwantiteit, of hoeveelheid. Net so gaan die grootte van ons bankbalans, die simbole in ons eksamens, die grade en diplomas op ons rak, die posisie in ons werk, die status wat ons in die samelewing het, ook oor kwantiteit, of hoeveelheid. Baie mense gee toe dat hulle niks kan doen aan die lengte van hulle lewe nie, maar so lank as hulle krag in hulle het, slyt hulle hulle lewens deur te werk aan die grootte van hulle bankbalans, die verwerwing van grade en diplomas en die opbou van ‘n neseier. Waarde is vir hulle iets wat jy kan sien en met rand en sent kan meet.
Die wydte en die diepte van ons lewe, gaan oor kwaliteit en oor innerlike waarde. Kan ons dit beheer? Kan ons iets daaraan doen? Ja, ons kan. HOE? Deur ons maatstaf van waarde en van grootheid en van sukses, in lyn te bring met die maatstaf wat ons Skepper daarvoor het. Deur ons eie roem en grootheid en gewildheid ondergeskik te maak aan die grootheid van sy Naam en die gewigtigheid van sy Woord. Deur ons eie swakheid en mislukking in die lig te sien van Yahweh, ons Vader wat nog altyd die geringes en die swakkes en die onaansienlikes van hierdie wêreld gekies het om iets besonders in sy raadsplan te wees. Deur ons swakhede en mislukkings ook te sien as deel van ‘n baie belangrike leerskool, sodat ons eendag afgesonder en sonder gebrek, sonder vlek of rimpel voor ons Meester kan verskyn
. "Success is to be measured not so much by the position that one has reached in life as by the obstacles which he has overcome while trying to succeed."Baie keer kan ‘n mens waarde in iets raaksien deur net die hoek waarvandaan jy kyk, te verander. ‘n Bekende Amerikaanse skrywer met die naam Henry Adams het in die vroeë 1900’s ‘n outobiografie geskryf met die titel "The education of Henry Adams". In hierdie boek verwys hy na ‘n dagboek wat hy as jong seun gehou het en veral een spesifieke inskrywing in sy dagboek, toe hy agt jaar oud was: "Went fishing with my father; the most glorious day of my life." Hy beskryf hoe besonders hierdie dag vir hom was en hoe hy 40 jaar later nog teruggekyk het na hierdie dag as een van die hoogtepunte van sy lewe. Sy pa was self ‘n belangrike man, die destydse ambassadeur in Engeland, Charles Francis Adams. Adams (junior) het later uitgevind dat sy pa ook ‘n dagboek gehou het en "toevallig" ‘n dagboek inskrywing vir daardie selfde dag gehad het, wat oor dieselfde uitstappie gehandel het. Sy pa se inskrywing het só gelui: "Went fishing with my son; a day wasted." Dis hoe verdraaid en hoe verwronge ons bepaling van die waarde van sekere dinge in ons lewens ook dikwels is. Net omdat ons nie in staat was om die groter prentjie raak te sien nie. Of omdat ons só op ons agendas en ons bedrywighede konsentreer, dat ons die mense rondom ons nie raaksien en waardeer nie.
Ons kan so makilik praat van "a day wasted" of van "an effort wasted" of van "a life wasted". Soms word ons só verblind deur mislukking of skynbare mislukking, dat ons niks anders kan raaksien nie. Christopher Columbus se groot ambisie in die lewe was om te bewys dat as ‘n mens heeltyd Wes beweeg, jy uiteindelik in die Ooste gaan uitkom. Maar in hierdie ambisie van hom was hy uiteindelik ‘n mislukking. Hy het nooit Indië bereik deur Wes te vaar nie. Maar in die proses het hy Amerika ontdek. Vandag is dit al waarvoor hy onthou word. Thomas Edison het 1093 patente ontwerp, maar meeste daarvan was totaal onprakties en onbruikbaar. In die proses het hy miljoene rande in die water gegooi. Vandag word hy onthou as die persoon wat van die belangrikste bydraes vir die mensdom nagelaat het – die ontdekking van die fonograaf en die elektriese gloeilamp. Met sy eerste poging kon Albert Einstein nie daarin slaag om sy universiteits toelatingseksamen deur te kom nie. Abraham Lincoln se besigheid het 1831 misluk, in 1832 het sy poging om tot die regsberoep toe te tree misluk, in 1833 het nog ‘n besigheidspoging misluk en in 1837 het hy ‘n senuwee-ineenstorting gehad. In 1838 misluk sy poging om Speaker te word en oor die volgende vyf jaar kon hy nie vir die Nasionale Kongres verkies word nie. In 1855 misluk hy in sy poging om op die Senaat te kom en in 1856 word hy verslaan in die wedloop vir die Visepresident van Amerika, net om twee jaar daarná wéér nie vir die Senaat gekies te word nie. Hy word president van Amerika in 1860 en word vandag nog onthou as een van die mees suksesvolle staatsmanne van alle tye.
Partykeer vergeet ons dat geloofshelde soos Avraham, Yietsgak en Ya’akov, ‘n leier soos Mosheh, ‘n koning soos Dawied en apostels soos Kefa en Sha’ul ook mislukking geken het. Hulle eie identiteit en die waarde wat ons vandag aan hulle heg, en selfs die opinie wat die Almagtige van hulle het, word nie deur hulle mislukking bepaal nie. Dit word bepaal deur wat hulle gedoen het, en hoe hulle bly glo het, nadat (en ten spyte daarvan dat) hulle misluk het. Ons is so ingestel daarop om dinge te weeg en te meet en te beoordeel volgens ons eie menslike maatstawwe en kriteria. Dalk moet ons leer om minder te fokus op ons eie beperkinge (wat ‘n mens kan meet en weeg en tel) en meer te fokus op die onbeperktheid van ons hemelse Vader (wat nie gemeet en geweeg en getel kan word nie). Wanneer ons werklik diep onder die indruk kom van hoe groot en onbegrens Yahweh, ons Vader, is, sal dit ons eie denke en ons harte so vol maak dat daar minder tyd oor is om oor ons eie beperkinge te dink. In Tehielliem 71:15 sê die Psalmskrywer: "My mond sal u geregtigheid vertel, die hele dag u verlossing; want ek ken nie die maat daarvan nie" en in Job 28:12-13 staan daar: "Maar die wysheid - waar word dit gevind? En waar is die plek van verstand? Die mens ken nie die waarde daarvan nie." YeshaYahu 40:12 leer ons om met nuwe oë na die wêreld te kyk wat Yahweh gemaak het: "Wie het die waters met die holte van sy hand afgemeet, en van die hemele met 'n span die maat geneem, en in 'n drieling die stof van die aarde opgevang, en die berge geweeg met 'n weegtoestel en die heuwels met 'n weegskaal?"
Soms meet ons ons wêreld en ons eie sukses soos die klein seuntjie wat sy eie klein skoentjie geneem het en homself daarmee gemeet het en toe vir sy ma gesê het hy is nege voet hoog.
Soms sien ons onsself as ‘n Onesimus wat vroeër deur Filemon as nutteloos beskou is, maar deur sy geloof in die Messias nuttig en bruikbaar en waardevol geword het – Filemon 1:10-11: "pleit by jou vir my kind, Onesimus, wat ek verwek het in my boeie, wat vroeër vir jou nutteloos was, maar nou baie nuttig vir jou en vir my. Ek stuur hom terug." Die naam "Onesimus" beteken "waardevol". Een van die grootste maatstawwe van ons waarde is hoeveel ons beteken vir die mense rondom ons. Ons waarde word dus nie bepaal deur wat ons kry of ontvang het nie, maar wat ons kan gee. Daarom bereik ons ons volle potensiaal wanneer ons onsself in liefde aan Yahweh oorgee om sy wil te doen en wanneer ons onsself aan ons naaste oorgee om hulle belange te dien en hulle laste te help dra.