HOOFSTROOM OF OORBLYFSEL?

Die Skrif se beskrywing van die gelowiges van die eindtyd

Dit is opvallend hoe dikwels die begrip "oorblyfsel" (Engels: "remnant") in die Skrif gebruik word om na ‘n groep mense te verwys. Dit het by baie al die vermoede laat ontstaan dat die groep gelowiges wat sal volhard tot die einde toe en uiteindelik as deel van die Bruid van die Messias voor Hom sal verskyn, slegs ‘n oorblyfsel sal wees. Is hierdie siening in lyn met die Woord? Kan ons ons hiermee vereenselwig? En as die antwoord "Ja" is, wat is die kenmerke wat die Skrif aan hierdie oorblyfsel koppel en kan hierdie kenmerke gesien word by hulle wat aspireer om deel van die Bruid van die Messias te wees?

Kom ons probeer eers vasstel of dit waar is dat die Skrif die woord "oorblyfsel" gebruik om na die getroue gelowiges te verwys wat uiteindelik verlossing uit die hand van die Vader sal ontvang. Ons gaan hier slegs enkele aanhalings uit die Skrif neem. Die eerste is YeshaYahu 28:5-7 "In dié dag sal Yahweh van die leërskare wees tot ‘n sierlike kroon en ‘n pragtige krans vir die oorblyfsel van sy volk en tot ‘n gees van strafoplegging vir … die manne (wat) wankel deur die wyn en waggel deur sterk drank." Die uitdrukking "in dié dag" verwys in hierdie gedeelte (soos in baie ander gedeeltes) na die groot Dag van Yahweh, wanneer Hy onder meer sy Seun, Y'shua, na die aarde sal stuur om vir sommiges verlossing te bring en vir ander die straf van Yahweh oor die sonde van hierdie wêreld. Nog ‘n gedeelte wat oor die oorblyfsel praat, is YermeYahu 23:3-4 "En Ek self sal die oorblyfsel van my skape versamel uit al die lande waarheen Ek hulle verdryf het; en Ek sal hulle terugbring na hulle weiveld, en hulle sal vrugbaar wees en vermenigvuldig. En Ek sal herders oor hulle verwek wat hulle sal oppas; en hulle sal nie meer bevrees of verskrik wees of vermis word nie, sê Yahweh." In hierdie en baie ander gedeeltes van die Skrif, is dit duidelik dat die oorblyfsel bymekaargemaak sal word uit al die lande en nasies van die wêreld.

Kom ons kyk na twee gedeeltes in die Nuwe Verbond wat ook lig op hierdie saak werp. Die eerste is Rom 9:22-27 "En as Elohiem, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf voorberei is, verdra het, juis om bekend te maak die rykdom van sy grootheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot voortreflikheid, ons naamlik wat Hy geroep het, nie alleen uit die Yehudiem (Jode) nie, maar ook uit die heidene? Soos Hy ook in Hoséa sê: Ek sal die wat nie my volk is nie, my volk noem; en haar wat nie bemin is nie, beminde … En YeshaYahu roep oor Yiesra~el uit: Al is die getal van die kinders van Yiesra~el soos die sand van die see, net die oorblyfsel sal gered word." ‘n Paar hoofstukke later, in Rom 11:2-5, staan daar: "Of weet julle nie wat die Skrif in die gedeelte oor EliYah sê nie? hoe hy by Elohiem optree teen Yiesra~el en sê: Yahweh, hulle het u profete doodgemaak en u altare het hulle afgebreek, en ek het alleen oorgebly, en hulle soek my lewe! Maar wat sê die Stem van Bo aan hom? Ek het vir Myself sewe duisend manne laat oorbly wat die knie voor Ba~al nie gebuig het nie. Net so is daar dan ook in die teenwoordige tyd 'n oorblyfsel, ooreenkomstig die verkiesing van die guns."

Dit is reeds meer as duidelik uit hierdie paar gedeeltes dat die gelowiges wat oor alle tye heen verlossing uit die hand van Yahweh ontvang het, as ‘n oorblyfsel bekend staan. Per definisie is die oorblyfsel nie beperk tot hulle wat fisies as Yehudiem (Jode) beskou word nie, en is dit ook nie dieselfde as die sogenaamde "hoofstroom" waaruit heidense tradisies en afgodediens en valse lering nog nie verwyder is nie. Kom ons kyk vervolgens na die vier Hebreeuse begrippe wat in die Skrif vir hierdie oorblyfsel gebruik word, wat elke begrip beteken en watter implikasies dit vir ons het, wat onsself as deel van hierdie oorblyfsel beskou. Elkeen van die vier begrippe bring ‘n ander dimensie van hierdie belangrike saak na vore.

Die eerste woord wat vir "oorblyfsel" gebruik word is "peliet" of "pelitah", afgelei van "palat". Die basiese betekenis van hierdie woord is "to slip out; to escape; to be delivered". Dit is duidelik dat hierdie woord aandui dat die oorblyfsel hulle is wat deur Yahweh vanuit ‘n situasie van hopeloosheid en uitsigloosheid en verlorenheid verlos en uitgered is. Dit kom onder meer na vore in Tehilliem 37:40 "En Yahweh help hulle en red ("palat") hulle; Hy red ("palat") hulle van die afvallige mense en verlos hulle, want hulle skuil by Hom." In Yegezkel 11, as deel van ‘n visioen wat Yegezkel ontvang, laat die dood van PelatYahu (wie se naam beteken "die verlossing van Yahweh") vir die profeet die vraag vra: "Ag, Meester Yahweh, wil U ‘n einde maak aan die oorblyfsel van Yiesra~el?". In antwoord hierop maak Yahweh aan Yegezkel bekend dat Hy in die laaste dae sy oorblyfsel uit die nasies sal versamel en sy Gees in hulle binneste sal uitstort en die hart van klip uit hulle vlees verwyder en hulle ‘n hart van vlees gee, "sodat hulle in my insettinge kan wandel en my verordeninge kan hou en dit doen; en hulle sal vir my ‘n volk wees, en Ek sal vir hulle ‘n Elohiem wees" (Yegezkel 11:19-20). Hier vind ons een van die belangrikste kenmerke van die oorblyfsel waarvan die Skrif praat.

Die tweede woord wat vir "oorblyfsel" gebruik word is "saried", afgelei van "sarad". Hierdie woord beteken "to puncture, to escape, to survive". Hierdie begrip word onder meer gebruik in YeshaYahu 1:9 "As Yahweh van die leërskare vir ons nie ‘n klein oorblyfsel ("saried") oorgelaat het nie—soos Sedom sou ons geword het, ons sou net soos Amorah gewees het." Wat veral deur hierdie begrip na vore gebring word, is dat die ware gelowiges uit hierdie sondige wêreld uitgeruk word (en afgesonder word) net soos wat met Lot en sy familie tydens die vernietiging van Sodom en Gomorra gebeur het en dat hierdie proses allesbehalwe maklik en rooskleurig sal wees (soms sal dit voel of ons ook vol gate gemaak word). Dieselfde woord word ook gedeeltes soos Shemot 31:10; 35:19 en 39:41 gebruik om na die geweefde klere (letterlik: geperforeerde klere) van die priester te verwys wat aangedui het dat hulle vir Yahweh (uit al die ander stamme van Yisrael) afgesonder is en daarom besondere dienswerk vir Hom moes verrig. Dit is ook tekenend van hulle wat aan die oorblyfsel behoort.

Die derde woord wat vir "oorblyfsel" gebruik word is "she’ariet", afgelei van "sha’ar". Hierdie woord kom baie gereeld voor en word onder meer in MigaYah 5:7-8 gebruik: "Dan sal die oorblyfsel ("she’ariet") van Ya~akov onder baie volke wees soos dou van Yahweh, soos reënbuie op die plante, wat op geen mens wag nie en ter wille van geen seun van Adam vertoef nie." Die basiese betekenis van hierdie woord is "to swell up, to be left behind, to survive". In die lig van die voorafgaande vers kom die vraag by ‘n mens op of hierdie betekenis (veral die aspek van "to be left behind") nie miskien lig werp op die sogenaamde wegraping-kwessie nie – wie is dit volgens die Skrif wat in die laaste dae gaan "agterbly" en wie is dit wat "weggeruk" sal word? ‘n Woord wat volgens Strongs ook van die woord "sha"ar" afgelei is, is die woord "se’or" wat normaalweg met "suurdeeg" vertaal word – daardie suurdeeg wat in die Skrif telkens met valsheid verbind word en met sekere geleenthede (soos die Week van Ongesuurde Brode) pertinent uit die huise en uit die midde van die volk verwyder moes word. Gedeeltes uit die Nuwe Verbond soos Matt 24:37-41 en Luk 17:37 dui ook daarop dat dit die afvalliges en die valses is wat "weggeruk" sal word en die oorblyfsel wat sal agterbly!

Die vierde woord is "yeter", afgelei van "yatar". Die begrip beteken "to remain, to preserve, to exceed, to be excellent". Hierdie woord word in MigaYah 5:2-3 gebruik: "En jy, Betlegem Éfrata, klein om te wees onder die geslagte van Yehudah, uit jou sal daar vir My uitgaan een wat ‘n Heerser in Yiesra~el sal wees; en sy uitgange is uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid. Daarom sal Hy hulle prysgee tot op die tyd dat ‘n barende verwek het. Dan sal die oorblyfsel ("yeter") van sy broers saam met die kinders van Yiesra~el terugkeer." Al sal die oorblyfsel soms tye deurmaak dat dit vir hulle voel of hulle vol gate (soos met dolksteke) gemaak word, kan hulle hulle hart daarop sit om behoue te bly en eendag volmaak ("excellently") voor die Messias te verskyn. Mosheh se skoonvader, Yetro, wie se naam ook van hierdie begrip afgelei is, het met die raad wat hy aan sy skoonseun gegee het, getoon dat die oorblyfsel reeds hier op aarde iets van die voortreflikheid waarna ons uitsien in die koninkryk wat kom, moet vertoon. Die vraag waarop ons vir onsself ‘n antwoord moet kry, is dit: Sien die mense wat na jou en my kyk en weet dat ons ons identifiseer met die oorblyfsel waarvan die Skrif praat, sien hulle ‘n gees van volharding en van "excellency" wat anders is (en meer begeerlik) as wat op ander plekke in hierdie wêreld gesien kan word?