IN ALLES KOM YAHWEH EERSTE
Een van die vernaamste eienskappe van die geloof in Yahweh en in sy Seun, Yahshua, is die oortuiging dat hierdie geloof jou hele lewe in beslag neem en dat daar nie plek is vir 'n soort halfgebakte of afgewaterde lojaliteit nie. Om Yahweh in jou lewe in te laat beteken in die eerste plek dat jy Hom met jou hele hart en siel en met al jou krag sal dien en dat geen aktiwiteit of lojaliteit bokant hierdie allesoortreffende verhouding in jou lewe sal staan nie. Geen volgeling van die Messias behoort toe te laat dat daar 'n gees van traagheid of halfhartigheid van hom of haar besit neem nie. Ons volg immers op die voetspore van Hom wat gesê het: "My voedsel is om die wil te doen van Hom wat my gestuur het." Om net in sekere aspekte die Woord van Yahweh na te volg en ander aspekte te ignoreer, is om afbreuk te doen aan die respek wat aan die Almagtige verskuldig is. Om net sekere tye en onder sekere omstandighede "getrou" te wees en die res van die tyd jou eie belange eerste te stel, is in stryd met die basiese boustene van die geloof in Yahweh. In die Skrif word hierdie essensiële eienskap van die geloof (naamlik dat dit vol-uit en "in alles" moet wees) op baie maniere beklemtoon. Een van hierdie maniere (wat in die Messiaanse Geskrifte / Nuwe Testament voorkom) is die gebruik van die Griekse uitdrukking "en panti" wat normaalweg met "in alle(s)" vertaal kan word. Kom ons kyk na 'n paar plekke waar hierdie uitdrukking "en panti" gebruik word en wat dit vir ons beteken.
Hand 10:34-35
En Kefa het sy mond geopen en gesê: Ek sien waarlik dat Elohiem geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke ("en panti") nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is.1 Kor 1:2
(Ek skryf) aan die gemeente van Elohiem wat in Korinthe is, aan die afgesonderdes in die Messias Yahshua, die geroepe afgesonderdes, saam met almal wat die Naam van ons Meester, Yahshua die Messias in elke ("en panti") plek aanroep, hulle Meester sowel as ons Meester:2 Kor 2:14
Maar Elohiem sy dank wat ons altyd laat triomfeer in die Messias en wat die reuk van sy kennis deur ons in alle ("en panti") plekke versprei.2 Kor 6:4-5
maar in alles ("en panti") beveel ons ons aan as dienaars van Elohiem, met baie geduld, in verdrukkinge, in node, in benoudhede; in slae, in gevangenskappe, in oproere, in arbeid, in slapelose nagte, in hongerly2 Kor 8:7-8
Maar soos julle in alles ("en panti") oorvloedig is - in geloof en woord en kennis en alle ywer en in julle liefde vir ons - sorg dat julle ook in hierdie liefdedaad oorvloedig is. Ek sê dit nie as 'n bevel nie, maar om deur die ywer van ander ook die egtheid van julle liefde op die proef te stel.2 Kor 9:8
En Elohiem het mag om alle guns oorvloedig oor julle te laat wees, sodat julle altyd in alle opsigte ("en panti") volop kan hê en oorvloedig kan wees tot elke goeie werk.Fil 4:6
Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles ("en panti") deur gebed en smeking met danksegging bekend word by Elohiem.Fil 4:12-13
Ek weet om verneder te word, ek weet ook om oorvloed te hê; in elke opsig en in alle ("en panti") dinge is ek onderrig: om versadig te word sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my die krag gee.Kol 1:10
sodat julle waardiglik voor die Meester mag wandel om Hom in alles ("en panti") te behaag en julle in elke goeie werk vrug mag dra en in die kennis van Elohiem mag groei.Kol 4:12
Epafras wat een van julle is, 'n dienskneg van die Messias, groet julle en stry altyd vir julle in die gebede, dat julle volmaak en volkome mag staan in die volle ("en panti") wil van Elohiem.
Vra die geloof nie te veel van ons nie? Is die standaard van "en panti" nie te hoog vir gewone mense van vlees en bloed nie? Hoe maak mens as die golwe van die lewe ongenaakbaar oor jou spoel en dit vir jou voel of jy doodeenvoudig nie meer kop bo water kan hou nie? En jy boonop soos 'n mislukking voel wat nie aan Yahweh se hoë eise kan voldoen nie? Die antwoord op hierdie soort vrae kom na ons toe in die vorm van nog 'n "en panti" gedeelte in die Skrif – 2 Korintiërs 4:6-11:
"
Want Elohiem wat gesê het dat daar uit duisternis lig moet skyn - dit is Hy wat in ons harte geskyn het om die verligting te bring van die kennis van die grootheid van Elohiem in die aangesig van Yahshua die Messias. Maar ons het hierdie skat in erdekruike, sodat die voortreflikheid van die krag van Elohiem mag wees en nie uit ons nie. In alles ("en panti") word ons verdruk, maar ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie. Gedurig dra ons die doding van die Meester Yahshua in die liggaam om, sodat ook die lewe van die Messias in ons liggaam openbaar kan word. Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Yahshua wil, sodat ook die lewe van Yahshua in ons sterflike vlees openbaar kan word."