INSPIRASIE UIT DIE WOORD
Ek glo dat die film "Amazing Grace" 'n onuitwisbare indruk sal laat op die gemoed van enige mens wat lief is vir die waarheid en sterk voel oor die beginsels van die Woord. Die film gaan oor William Wilberforce wat teen die einde van die 18de eeu begin het met sy stryd om die Britse parlement so ver te kry om slawehandel af te skaf. Dit het hom 20 jaar geneem om dit reg te kry, en dit het met smart en moeite gepaard gegaan - ten koste van sy eie gesondheid en sy eie gerief en gewildheid - maar uiteindelik het sy pogings vrug afgewerp en in die jaar 1807, presies 200 jaar gelede, het die Britse Parlement wetgewing aanvaar wat die einde van slawehandel beteken het. Kort voor Wilberforce se dood in 1833 het die Parlement verdere wetgewing goedgekeur wat daarop neerkom dat nie net slawehandel nie, maar die praktyk van slawerny in die algemeen - in elke Britse kolonie regdeur die wêreld - in sy totaliteit afgeskaf sou word. Die naam van die film, "Amazing Grace", is ontleen aan die feit dat John Newton, die skrywer van hierdie bekende lied, 'n vriend van Wilberforce was wat voor sy bekering self met slawe handel gedryf het en die geweldige euwels wat hiermee gepaard gegaan het, deur en deur geken het. Na sy bekering het John Newton bankvas agter Wilberforce gestaan en, volgens die film, ook die voorreg gehad om as blinde, ou man, by te wees toe die wetgewing deur die parlement goedgekeur is.
Ten spyte van die negatiewe nuusberigte waarmee mens deesdae daagliks gebombardeer word, hoor 'n mens tog af en toe van iets wat jou werklik inspireer en só aangryp dat dit soms selfs 'n inspuiting vir jou geloof is. Dink aan die atleet, Oscar Pistorius. Hy het albei sy bene verloor toe hy een jaar oud was, maar die afgelope naweek het hy met sy spesiale kunsbene tweede gekom in 'n 400 meter wedloop in 'n wêreldklas atletiekbyeenkoms vir ongestremde (d.w.s. "normale") atlete in Rome. Sy tyd was minder as een sekonde stadiger as die Olimpies kwalifiserende tyd vir die 400 meter. Wat 'n toonbeeld van deursettingsvermoë en veggees! Vir my herinner dit aan die Skrifwoord van 1 Korintiërs 9:25 "En elkeen wat aan 'n wedstryd deelneem, onthou hom in alles - hulle nogal om 'n verwelklike krans te ontvang, maar ons 'n onverwelklike." As iemand ter wille van 'n aardse "prys" soveel moed en durf en dissipline aan die dag lê, hoeveel te meer behoort ons dit nie vir ons hemelse prys te doen nie?
Kom ons kyk na 'n paar voorbeelde van wêreldse "woorde van inspirasie" wat, aan die een kant, in 'n film soos "Amazing Grace" geïlustreer word, maar aan die ander kant, dieper betekenis kry wanneer ons dit plaas in die konteks van die Woord.
"If the world seems cold to you, kindle fires to warm it." Die waarheid wat hierin opgesluit lê, is dat ons nie moet wag vir ander mense (of organisasies of selfs die regering) om van die wêreld 'n beter plek te maak nie, maar dat ons dit op onsself sal neem om êrens prakties te begin om werklik 'n verskil in die wêreld (en onder die mense van hierdie wêreld) te maak. Dit word onder meer verwoord in Yahuganan (Johannes) 15:16 "Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly."
"Challenges are what make life interesting; overcoming them is what makes life meaningful." Dis 'n realiteit van die lewe dat almal van ons daagliks voor tergende uitdagings te staan kom, maar dat net 'n handjievol uiteindelik hulle uitdagings te bowe kom. Die uitdaging van die Woord is om met 'n vaste geloof en onwankelbare hoop die skynbaar onaangename en onhanteerbare en onoorbrugbare probleme van elke dag aan te pak en deur te druk tot die einde toe. Dit is die voorbeeld wat deur die geloofshelde van die Skrif en deur die Messias self vir ons nagelaat is. "Daarom dan, terwyl ons so 'n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê, die oog gevestig op Y'shua, die Leidsman en Voleinder van die geloof, wat vir die vreugde wat Hom voorgehou is, die folterpaal verdra het, die skande verag het en aan die regterkant van die troon van Elohiem gaan sit het" (Ievriem / Hebreërs 12: 1-2).
"Think of all the beauty still left around you and be happy." Elke mens het 'n keuse: Jy kan besluit om toe te laat dat die negatiewe en afbrekende dinge van hierdie wêreld (en die geweldige tempo waarmee dit daagliks toeneem) jou totaal oorweldig en in sak en as daaroor gaan sit, of jy kan besluit om 'n oog te ontwikkel vir dit wat, ondanks alles, nog mooi en skoon en prysenswaardig is, en jou eie hart en denke daarmee te vul. "Verder, broers, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is - watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit" (Filippense 4:8).
"Resolve to be a master of change rather than a victim of change." Ons hoef nie vasgevang te word in die maalkolk van voortdurende verandering waaraan almal van ons daagliks blootgestel word nie. Ons het die opsie om doelgerig daarop ingestel te wees om mense en dinge en onsself ten goede te verander deur die kragtige werking van die Woord van Yahweh. "Want ek skaam my nie oor die evangelie van die Messias nie, want dit is 'n krag van Elohiem tot redding vir elkeen wat glo, eerste vir die Yehudi en ook vir die Griek" (Romeine 1 :16).
"Your current safe boundaries were once unknown frontiers." Dit behoort elkeen van ons se gebed te wees dat die geloofs-vastigheid wat ons tans ervaar, nie ‘n "comfort-zone" sal word nie, maar 'n voortdurende herinnering dat 'n mens slegs by vastigheid en sekerheid kan uitkom as jy die moed en die geloof het om die eerste tree te gee op die onbekende, onsekere en onpopulêre weg van die waarheid. "Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan" (MattietYahu / Matteus 7:13).
"The true measure of a man is how he treats someone who can do him absolutely no good." In 'n wêreld waarin meeste mense daarop ingestel is om soos parasiete andere te gebruik om voordeel en materiële wins vir hulleself bymekaar te maak, is dit die uitdaging van die geloof om die gesindheid van onselfsugtigheid te openbaar wat konsekwent deur Y'shua die Messias uitgeleef is. "Hy, wat in die gestalte van Elohiem was, het gelykheid aan Elohiem nie as iets geag om aan te gryp nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van 'n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as In mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die folterpaal" (Filippense 2:6-8)
"In the end it's not the years in your life that count. It's the life in your years." Dit is die perspektief van die Woord van Yahweh dat tyd en lewensduur 'n gawe uit die hand van ons Skepper is wat Hy aan ons gegee het met die bedoeling dat ons elke oomblik daarvan ten volle en met oorgawe sal vul met die lewenskwaliteit en lewensvaardighede en lewenswaardes wat ons ook uit sy hand ontvang het. "Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom!" (Tehielliem / Psalm 90:12).