IS ONS MESSIAS SE NAAM JESUS?

 In ‘n  vorige artikel  het ons uit die Skrif aangedui dat YAHWEH die Vader se “gedenknaam van geslag tot geslag” (Eks 3:15) is en dat ons hierdie Naam (wat weens onaanvaarbare redes uit die meeste Bybelvertalings weggelaat is) weer in ere moet herstel.   Die onderwerp waarna ons vervolgens gaan kyk, sluit ten nouste hierby aan en dalk is dit ook ‘n vraag waarmee jy al geworstel het:  As die Vader se Naam in die meeste bybels nie reg vertaal is nie, wat van die Seun se Naam?  Is sy Naam “Jesus” of “Christus” of “Jesus Christus” of  “Here Jesus”?  En is dit so belangrik dat ons sy regte Naam gebruik?

Ons het reeds in die vorige artikel  aangedui waarom dit absoluut belangrik is dat ons die Vader se regte Naam (YAHWEH) sal gebruik.  Dieselfde geld ook van die Seun se Naam.  In die oë van die Vader, en vanuit die gesigspunt van die Woord, is die Naam van ons Messias geweldig belangrik.  Ek weet daar is mense wat voel dis haarklowery om oor name ‘n groot kwessie te maak.  Daar is een ding wat ons egter baie goed moet verstaan:  Dit gaan nie hier bloot net oor ‘n taalkwessie of oor vertaling of oor spelling of oor persoonlike voorkeure nie.  Dit gaan nie hier oor enige naam nie.  Die gaan oor die Naam wat bo elke ander naam is (Fil 2:9).  Dit gaan oor die enigste Naam wat onder die hemel onder die mense gegee is waardeur ons gered moet word (Hand 4:12).  Dit gaan oor die Naam voor wie elke knie gaan buig van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is (Fil 2:10).  Die een wat meen dat dit nie juis saak maak in watter Naam ons glo of watter Naam ons vir ons redding aanroep nie, moet weer ‘n slaggie gaan dink ...

Kom ons begin by die geboorte-aankondiging van die Messias.  Die engel het vir Josef die volgende aangaande Maria gesê:  “... en sy sal ’n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt 1:21).  Dis min of meer hoe hierdie vers in die meeste vertalings staan.  Ons weet dat die oudste beskikbare manuskripte van die Nuwe Testament in die Griekse taal geskryf is en daarna vanuit Grieks na ander tale vertaal is.  Die oorgrote meerderheid van hierdie “oorspronklike” manuskripte is egter meer as 2 eeue na die aardse bediening van die Messias geskryf.  Alhoewel ons weet dat daar ouer manuskripte moet wees, is hulle tot op datum nog nooit gevind nie.  Daar bestaan vandag ‘n sterk vermoede by baie dat ten minste sommige van die boeke in die Nuwe Testament oorspronklik in Hebreeus geskryf is.   Daar is interne bewyse hiervoor (d.w.s. in die teks van die Nuwe Testament self) asook eksterne bewyse, byvoorbeeld die volgende uitspraak deur Papias, een van die vroeë kerkvaders: “Matthew (d.i. die skrywer van die eerste evangelie) composed the Logia (‘n Griekse woord wat normaalweg “orakels” of “godsprake” beteken) in the Hebrew tongue and everyone interpreted them as he was able”.

Hoe dit ook al sy, daar bestaan hoegenaamd geen twyfel nie dat die taal wat die Messias in sy lering en gesprekke gebruik het, Aramees en/of Hebreeus was (vgl. Mark 5:41; Mark 15:34; Hand 26:14).  Hy was ‘n Jood, gebore in ‘n Joodse familie en het van geboorte af die Joodse taal gehoor en gepraat.  Dit was ook die taal wat sy aardse ouers geken en gebruik het.  Toe die engel dus met Josef gepraat het, het hy met hom in sy moedertaal, Hebreeus, gepraat en vir hom in Hebreeus gesê wat hy die Seun moes noem wat gebore sou word.  Die oudste teks tot ons beskikking gee egter vir ons die Griekse weergawe van daardie oorspronklike Hebreeuse Naam wat die engel aangekondig het, naamlik “Iesous” wat in Afrikaans met “Jesus” vertaal word.  Daar is nie ‘n ander Griekse woord soos “Iesous” nie, en die woord op sigself het geen woordeboek betekenis in Grieks nie.  Dit is duidelik dat die skrywer(s) van hierdie Griekse teks probeer het om die Hebreeuse naam letter vir letter in Grieks oor te skryf, maar die resultaat is helaas ‘n naam wat heeltemal anders klink en ook nie dieselfde betekenis het as sy Hebreeuse eweknie nie.  Daar is sekere Hebreeuse letters wat nie in Grieks voorkom nie en andere wat wel voorkom, maar anders uitgespreek word.  Dit klink alles baie tegnies, maar die belangrikste vir ons om te weet is dat toe die Messias op aarde gelewe en gewandel het, niemand Hom ooit as “Jesus” of “Jesu” of  “Iesous” aangespreek het nie, want dit was (en is) nie sy Naam nie!

Uit die aankondiging van die engel weet ons dat sy Naam met “redding” of “verlossing” te make het: “...want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt1:21).  ‘n Deeglike studie van die naam “Jesus” in die Nuwe Testament en van die beginsels van vertaling toon duidelik aan dat “Iesous” die Griekse weergawe van die Hebreeuse naam “YAHSHUA” is.  Die naam "Yahshua" is grammatikaal die mees korrekte uitspraak en spelling van die naam van die bekende Ou Testamentiese figuur, Joshua.  In Hand 7:45 en ook in Heb 4:8 word daar duidelik van hierdie figuur, Joshua, gepraat.  Die meeste  vertalings het dit ook korrek vertaal, maar sommige van die ouer vertalings gebruik in die plek van Joshua ‘n ander naam ... die naam “Jesus”!  En die rede?  Omdat die Griekse teks die naam aandui as “Iesous” - dieselfde naam wat regdeur die Nuwe Testament as “Jesus” weergegee word!

Nou weet ons - sonder enige twyfel - wat die Naam is wat die engel aan Josef bekend gemaak het: YAHSHUA, wat beteken: YAHWEH RED of YAHWEH IS REDDING.  Nou kan ‘n mens verstaan waarom YAHSHUA in Joh 5:43 sê: “Ek het gekom in die Naam van my Vader...”  Nie net het Hy gekom in die outoriteit en in opdrag van sy Vader nie, maar letterlik met die Naam van sy Vader opgesluit in sy eie Naam!  In die Hebreeuse kultuur was ‘n naam veels te belangrik om dit sommer net te vertaal (of enigsins te verander) en daarmee die betekenis van die naam prys te gee.  In Joh 5:46 verklaar YAHSHUA teenoor sy Joodse gehoor: “Maar as julle Moses geglo het, sou julle My glo, want hy het van My geskrywe.”  ‘n Mens wonder na watter gedeelte(s) in die geskrifte van Moses die Messias hier verwys het.  Sou dit dalk onder meer kon wees dat Hy spesifiek aan Eks 15:2 gedink het waar daar onder meer geskrywe staan: “YAHWEH het my verlossing geword”, of dalk Eks 14:13 wat sê: “staan vas en aanskou die verlossing van YAHWEH”?  Die woord wat in beide gevalle met “verlossing” vertaal word, kom van die Hebreeuse “yashah” - dieselfde woord wat in YAHSHUA gebruik word.

In Hand 26 waar Paulus vir Agrippa van sy bekering vertel, kan ons self gaan lees met watter naam die Messias verkies om Homself aan mense bekend te stel - mense soos Paulus, maar ook mense regoor die wêreld wat tot vandag toe nog behoefte het aan die boodskap van verlossing. Paulus vertel dat hy, en almal wat saam met hom was, ‘n lig uit die hemel gesien het en op die grond neergeval het.  Toe hoor hy ‘n stem (die stem van die verhoogde Messias) wat  in die Hebreeuse taal (vers 14) onder meer vir hom : “Ek is ‘Jesus’ wat jy vervolg”(vers 15).  ‘n Mens hoef nie ‘n geleerde persoon te wees om te besef dat die Messias hier beslis nie ‘n verwronge Griekse vorm van sy Naam gebruik het om Homself aan Paulus bekend te stel nie.

In Joel 2 word profeties van die tyd van die Messias gepraat en in vers 32 kom die uitspraak: “En elkeen wat die Naam van YAHWEH aanroep, sal gered word”.  Hierdie presiese woorde kom twee maal in die Nuwe Testament voor en in beide gevalle word YAHSHUA gesien as die vervulling van hierdie profesie en is dit die veronderstelling dat dit YAHSHUA se Naam is wat aangeroep moet word (vgl. Hand 2:21 en Rom 10:13).  Let daarop dat dit weer gaan oor die twee “helftes” van YAHSHUA se Naam: die Naam van YAHWEH (“YAH” is die verkorte vorm van YAHWEH wat soms in die psalms gebruik word) en die VERLOSSING wat Hy bring.  ‘n Mens kan nou verstaan wat die Messias bedoel het toe Hy in sy bekende gebed gebid het: “Ek het u Naam geopenbaar aan die mense wat U My uit die wêreld gegee het...” (Joh 17:6) en “Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak...” (Joh 17:26).  Dankie, Vader, vir u Seun, YAHSHUA, wat u Naam so duidelik aan ons kom openbaar het ...

Wat van Christus?  Is dit nie ook deel van YAHSHUA se Naam nie?   Die antwoord is: Nee.  “Christus” is nie sy Naam nie - dit is ‘n beskrywende titel en is die gewone Griekse vertaling van die Hebreeuse “Messias” wat “gesalfde” of  “anointed one” beteken (vgl. Joh 1:41).  Diegene wat dus die korrekte Hebreeuse Naam, YAHSHUA, gebruik, kan net sowel die Hebreeuse titel, Messias, ook gebruik.  Ons sou hierdie titel egter ook kon vertaal en waar ons Bybels vertaal met “Jesus Christus”, sou ons kon lees: YAHSHUA, die Gesalfde.  Laat ons in hierdie eindtyd die waarskuwing van ons Meester onthou: “As iemand dán vir julle sê: Kyk, hier is die Christus! of: Daar! - moet dit nie glo nie. Want daar sal valse christusse en valse profete opstaan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei (Matt 24:23-24). 

Wat van die woord “Here” wat in die gewone vertalings male sonder tal aan die naam van die Messias gekoppel word?   In die Nuwe Testament is “Here” meestal ‘n vertaling van die Griekse woord “kurios”, ‘n baie bekende Griekse woord wat gebruik word vir persone wat in posisies van outoriteit staan en normaalweg met “heerser” of “meester” vertaal kan word.  Dit moet weereens duidelik gestel word dat “kurios” nie die Messias se Naam is nie, maar ‘n aanspreekvorm wat beskrywend is van sy gesagsposisie in die oë van sy volgelinge.  “Kurios” is ook die naam wat as aanspreekvorm vir die Romeinse keisers gebruik is en vir die gode van die heidense Griekse godsdienste en mitologie.  “Kurios” is na alle waarskynlikheid ‘n vertaalde weergawe van die Hebreeuse aanspreekvorm “Rabbi” wat steeds in sommige plekke van die Nuwe Testament voorkom en wat “my Meester” beteken.  In die lig van die twyfelagtige herkoms van “kurios” en die feit dat dit onwaarskynlik is dat YAHSHUA se (Joodse) volgelinge Hom tydens sy aardse bediening ooit as “kurios” aangespreek het, is dit volgens alle aanduidings meer korrek vir ons om ook “Rabbi” of “my Meester” as aanspreekvorm vir YAHSHUA te gebruik.

Die vraag is uiteindelik: Hoe belangrik is dit werklik om die korrekte Naam vir die Messias te gebruik?  Die Skrif verklaar onomwonde dat sy Naam vir ons van die uiterste belang is!   Ons word gedoop in sy Naam (Hand 2:38), ons word vergewe in sy Naam (Hand 10:43); ons word geregverdig in sy Naam (1 Kor 6:11); ons kom as gemeente bymekaar in sy Naam (Matt 18:20); ons dryf duiwels uit in sy Naam (Mark 9:38); ons verkry lewe in sy Naam (Joh 20:31);  ons rig ons gebede tot die Vader in sy Naam (Joh 14:13); ja, ons doen ALLES in sy Naam (Kol 3:17), want daar is krag en outoriteit en betekenis in sy Naam!  Is dit nie vir ons genoeg rede om absoluut seker te maak dat ons sy Naam in ere hou soos wat dit reg deur die Skrif aan ons geopenbaar is nie?  

“Ek ken jou werke. Kyk, Ek het voor jou ‘n geopende deur gegee, en niemand kan dit sluit nie, want jy het min krag en jy het my woord bewaar en my Naam nie verloën nie”  (Openb 3:8).